Januarie, die maand van nuwe dinge, lê op sy rug. Ons het reeds die deur vir Februarie oopgemaak - 'n maand propvol aktiwiteite.
Februarie blaas mos die beuel as dit kom by watter maand die rekord hou vir die hoogste temperature. Mensig maats, ons bak uit hier in die Noord-Kaap. Gelukkig is Februarie ook die kortste maand en is dit die grensmaand tussen somer en herfs. Ek moet erken ek wens vanjaar dat herfs en winter gouer sal kom. Maar tipies van ons spesie, sal ons weer iets anders kry om oor te kla.
Vandag wil ek met julle praat oor 'n ander aspek van Februarie. Februarie is mos Moedertaalmaand. Toe ek dit in die koerant lees dat Unesco dit op 17 November 1999 aangekondig het om onder andere veeltaligheid te bevorder, het ek dadelik aan my oupa Willie gedink. Kyk, oupa Willie was 'n man wat enige tyd vir die Valke kon werk of as 'n tolk in die hof sy woord gestand kon doen. Blafiaans is die amptelike taal van Petrusburg, maar oupa kan verskeie streekstale verstaan en praat. Ek is spyt dat ek nie na oupa Willie geluister het toe hy sê dat 'n mens nie net jou moedertaal moet kan praat nie. Geen hond kan van hom skinder nie, Toypommees, Labradees, Maltees, Pekinees en enige variant van Terriaans val goed op oupa se oor.
Op 21 Februarie gaan die hele wêreld Wêreldmoedertaaldag vier. Maar ons hier by Christina Kiddie gaan dit anders doen. Ek wil hê dat jy wat hier lees, vir my 'n gedig in jou moedertaal moet skryf. Julle kan dit onderdeur tannie Christelle se deur skuif. Ek sal dit met haar reël. Of e-pos dit sommer vir my of skryf jou gediggie by die kommentaarafdeling. Ek sal gereeld daar gaan loer.
Tommie blaf hier van die kantlyn af dat julle groot moet gaan met julle gedigte. Ek sien hy raak deesdae baie hans.
Ek wonder wie van julle luister nog radio. Ek het netnou gou vir ouma Annie gebel, om te hoor hoe dit met die Vrystaters gaan. Toe vra sy my om 'n bietjie later te bel, want sy en oupa luister na RSG se boekvoorlesing en hulle wil niks mis nie. Dit was vir my nuus. Ek gaan Google toe die belangstelling in radio en val amper op my rug. Besef julle maats dat daar wêreldwyd ongeveer 44 000 radiostasies is. In Suid-Afrika is daar 248 gemeenskapstasies en 40 kommersiële uitsaaistasies. Ek dink ons staar ons so blind teen die vierkantige kassie in die speelkamer en die klein skermpie in ons hand, dat ons vergeet dat daar 'n wêreld vol kennis op lug is. Hoekom soveel prysgesange vir die radio?
13 Februarie is Wêreldradiodag. Nog iets wat ek eers vandag geleer het. Ek het net geweet van Valentynsdag toe ek op skool was.
Wel, Februarie is vir eeue die maand van liefde, omgee en spesiale dankies. Kom ons maak vanjaar deeglik daarvan gebruik. Valentynsdag in aksie hoef nie vir jou 'n sent uit die sak te jaag nie. Sê dankie met 'n drukkie vir julle huisouers en omgeepersoneel wat dinge vir julle soveel makliker probeer maak. 'n Briefie of kaartjie in eg Valentynse styl kan anoniem by die tafelsitplek gesit word en 'n mooi hartsgediggie is nie te versmaai nie. (Ek bied met liefde my digterlike hulp aan!!)
En onthou, wat jy ookal doen op 14 Februarie, doen dit in ROOI!!
Rooi Ruben-groete tot 'n volgende keer!
No comments:
Post a Comment