Sunday 10 March 2024

My gedagtes: Die toekoms is 'n reis

Toekomsplanne is die begin van ons reis - ons lewensreis!

Matriek is baie belangrik vir jou toekoms. Jou punte sal die pad aandui wat jy gaan loop. My ma herinner my altyd: "Jou matriekpunte is die sleutel tot jou toekoms. Daardie sleutel sluit jou spesifieke deur oop. Jou toekoms is letterlik in jou eie hande."

My toekoms is belangrik ... so my fokus is op my punte. Al is ek moeg of doodmoeg ... ek sal werk. Die rede is omdat ek die beste toekoms wil hê wat ek kan kry. Ek sien te veel mense rondom my wat nie hard genoeg in hulle matriekjaar gewerk het nie.

Maar ek is bang ...

As jy nie goeie matriekpunte het nie of as jy glad nie matriek het nie, is jy werkloos. Slegte punte beteken dat jy nie baie of miskien nie die beste geleenthede gaan kry nie Jy kan nie na 'n universiteit toe gaan nie. Jy kan nie 'n goeie werk kry nie en dit alles is die gevolg omdat jy nie lus was om in matriek hard te werk nie. En hierdie een verkeerde besluit sal maak dat jy vir die res van jou lewe gaan rondval en sukkel. Niemand is bereid om jou te help as jy jouself nie op skool gehelp het nie. Terwyl jy in die skool is, is daar altyd onderwysers of sportafrigters wat bereid is om jou te help en só dikwels maak 'n leerder nie daarvan gebruik nie.

Sal my harde werk en slapelose nagte die moeite werd wees?  Het ek hard genoeg vir my eindeksamen gewerk of is ek besig om met my toekoms te speel? 

Ek weet nie, maar my PUNTE sal dit wys. Ek wil graag 'n baie stabiele en goeie werk hê, sodat ek vir my ouma kan help. Ek hunker na 'n goeie lewe, maar drome sonder aksies is net nog 'n wens. Ek moet hard werk, ek moet goeie punte kry, sodat ek die sleutel wat my toekoms gaan oopsluit, in my hande kan vashou en ek wil graag my ouma trots op my maak! Die een mens wat haar knieë vir my deurgebid het en dit nog steeds doen!

Ouma is die padaanwyser op my lewensreis. 

Hendrew Rantsie - 1 Junie 2022

No comments:

Post a Comment