Thursday 21 March 2024

Verhaal: My lewe sal beter wees as ...

Ek het jou in my lewe nodig!

Liewe Pa

Ek wens dat ek Pa elke dag kon sien - van aangesig tot aangesig, maar ek hoor een maal 'n maand van Pa. Dit is al wat ek ken. Ek hoor mense sê: "'n Seun het 'n pa in sy lewe nodig." Ek het dit nooit in my lewe ervaar nie. Die soort verhouding wat ek ken, is 'n finansiële verhouding. 

Pa, ek glo in liefde, nie in geld nie. 

Mamma is die heel beste. Sy is meer as net 'n moeder vir my. Sy is elke dag aan my sy. Sy is my pa en my ma. Sy is my silwer en my goud. Weet Pa dit?

Ek droom altyd oor hoe ons verhouding moes wees. 'n Pa-seunverhouding. Die liefde, die lekker geselsies, die goeie raad en sommer net die dáár wees vir ons gesin. Maar dis net drome, ek sal nooit die voorreg hê om dit te sien nie. Pa, ons het soveel tyd gemors. Ek is jou oudste kind ... jou oudste seun, maar ons ken mekaar nie. En hiervoor, Pa, moet ek vir jou dankie sê! Jy sal op papier my vader wees tot aan die einde van tyd.

Verlede jaar toe Pa in die hospitaal was, het ek gesien hoeveel liefde daar eintlik tussen ons kon wees. Drie maande later is ek ook in die hospitaal opgeneem, ook hartprobleme, maar myne was nie so erg soos Pa s'n nie.

Ek is lief vir Pa, ek sal altyd lief bly vir Pa. Ek is dankbaar vir die finansiële bystand wat ek elke maand van Pa ontvang het. Dit het die las op ma ligter gemaak. Ek is baie dankbaar vir die R200 000 wat Pa nou vir my gegee het. Ek belowe dat ek net so 'n suksesvolle man soos Pa sal wees, maar ek wil eendag 'n baie beter pa as Pa wees ...

My lewe sou baie beter gewees het, as ... as ek net 'n pa gehad het, 'n omgee-pa, nie 'n OTM-pa nie.

Pa se dankbare seun.   

[Anoniem 9 Februarie 2015]

No comments:

Post a Comment