Thursday 25 April 2024

Verhaal: My lewensplan

My lewe sou goed kon wees ...
My lewe sou dalk beter kon wees ...
My lewe sou die beste kon wees as ek maar net 'n vriend in my klas kon hê ... iemand met wie ek kon praat en my vrese kon deel vir die kere wat my oupa nie daar was nie.

Ek was vyf jaar oud. My ouers het vir my 'n verjaardagpartytjie by my oupa se huis gereël en terwyl ek lekker met my nuwe maatjies gespeel het, het my ouers net verdwyn. Ek kan dit nie regtig onthou nie, maar dit is wat my oupa my vertel het. Hulle was glo baie arm, en hulle kon nie vir my sorg nie, toe word ek maar my oupa se verantwoordelikheid.

Hy het gesê dat 'n mens se lewe soos 'n huis is en die manier waarop jy aan hierdie huis bou, bepaal hoe jou huis op storms gaan reageer. Ek het dit nie so goed verstaan nie, maar my oupa het voortdurende en geduldig vir my vertel dat ons elke dag aan my huis bou.

My oupa was glad nie ryk nie. Hy het in 'n baie klein huisie langs die rivier gebly. Daar was nie elektrisiteit nie, maar daar was hope liefde in die huisie. My oupa was 'n baie sterk man met 'n baie sterk persoonlikheid. Almal het respek vir my oupa gehad. En die lekkerste van alles is dat ek vir my oupa belangrik was. Ek het nooit soos 'n las gevoel nie. Ek was só trots op my oupa ...

Eendag was hy in 'n taxi-ongeluk. Hy het sleg seergekry en moes vir twee maande in die hospitaal bly.

In daardie twee maande het my bekommernisse begin ... Wie sal vir my sorg as my oupa sterf? Ek was verskriklik bekommerd. Ek kon snags nie slaap nie. En as ek aan die slaap geraak het, het ek nagmerries gekry. Ek was alleen en daar was niemand wat vir my lief was en vir my omgegee het nie. Ek het bitter min geslaap, geëet en ek kon ook nie my huiswerk doen nie. Ek was dwalend ...

Terwyl hy in die hospitaal was, het my klasmaats my begin koggel, want ek het gesukkel met my skoolwerk ... eintlik met alles. Daar was niemand by die huis wat my kon help nie.

Ek bly alleen by die huis en ek is alleen by die skool!

Ek voel sommer soos 'n alleenplasing in een van die gedigte wat ons doen.

My hart is altyd seer en dit lyk vir my asof my moeilikheid nie einde het nie. 

Ek het vir my oupa in die hospitaal gaan kuier. Hy kon sommer op 'n distansie sien dat dinge nie goed gaan nie. Nadat hy die storie uit my geryg het, was sy kommentaar: "My Seun, ek gaan nêrens heen nie. Ek gaan by jou bly totdat jy oud is. Jy is 'n baie sterk kind. Ek weet dit. En ek glo in jou. As jou klasmaats vir jou koggel oor jou omstandighede, sê vir hulle jy gee nie om nie, want jy weet presies wie jy is en waarheen jy op pad is!"

Die volgende dag was ek baie positief en baie opgewonde om skool toe te gaan ... vir die heel eerste keer in my lewe. My lewenshuis het skielik 'n sterker fondasie gekry en die suidewind wat aanhoudend waai, kon my nie ontstel nie, want ek het geweet my lewenshuis is sterk genoeg.

Dankie, Oupa ...  

[Bongani Khambule - 2015]

No comments:

Post a Comment