Robbie kom uit ’n baie moeilike huis. Mens kan sê ’n slegte huis, ’n huis sonder ’n pa, met ’n ma wat die meeste van haar lewe onder die invloed van drank was. Sy het vir Robbie baie sleg behandel, het hom soms genadeloos geslaan, hy het dikwels nie veel gekry om te eet nie, want daar was nie geld nie.
Robbie het egter gewonder hoe sy die drank en sigarette kon gekoop het. Hy het vir ’n paar jaar skool toe gegaan, maar hy was altyd gespot en sleggesê en het uiteindelik begin stokkiesdraai en wegbly van die skool af. Daar was dikwels mans by sy ma, maar hy het nie geweet of een van hulle dalk sy pa was nie.
Toe hy sy ma eendag vra waar sy pa was, het sy gesê dat rubbish soos hy nie ’n pa kan hê nie. So het die een oom hom Robbie Robbish begin roem en lustig deelgeneem aan die mishandeling. Op 'n dag kon Robbie net nie meer nie, en hy loop toe weg. Hy het homself belowe dat hy nooit weer sal terugkom nie en hy het op die straat begin lewe. Met bedel, kos soek op vullishope en soms iets uit ’n winkel steel, het hy aan die lewe gebly.
Hy was vry ... so het hy gedink. Robbie het baie van Jesus gehoor. By die skool het hulle ’n Bybel-periode gehad. By die huis het hy die naam Jesus ook gereeld gehoor, wanneer sy ma kwaad was en dit uitgeskree het. Dit het hom verwar, want by die skool het hy gehoor van Jesus se liefde, maar by die huis het hy gedink dis ’n vloekwoord. Nadat Robbie weggeloop het, het hy soms gewonder of iemand na hom soek. Hy het nooit weer huis toe gegaan nie en op die straat gelewe.
Robbie het in ’n stegie geslaap onder goed wat hy op ashope opgetel het. Diep in sy hart was iets goeds geskryf wat hy nooit verstaan het nie. Hy het probeer om niemand skade aan te doen nie. En toe, op een goeie dag, kom daar mense van ’n kerk en hy kry die grootste geskenk van sy lewe: ’n splinternuwe kombers en ’n sakbybeltjie. Omdat hy nie goed kon lees nie, het hy maar saans net so bietjie daarin rondgeblaai. Die een naam wat heeltyd opgeduik het, was Jesus. Hy het meer en meer begin wonder wie dit was. Daar was ’n ouer man wat ook in die stegie geslaap het. Sy naam was Dave. Dave het vir hom vertel dat hy ’n geleerde ou is en op Universiteit was, maar die lewe het sy rug op Dave gedraai en hy is uit sy gesin uit en het ook ’n boemelaar geword. Maar Dave was slim en het geweet van die Bybel. Hy het dit ook gereeld gelees en soms met Robbie oor Jesus gepraat. Hy het gewens Dave was sy pa. Eendag het Robbie verby ’n kerk geloop en daar was ’n groot bord met die woorde: “Jesus is die antwoord”. Maar hoe goed hy ook al op die bord gelees het, het hy nie geweet wat die vraag is nie. As Jesus dan die antwoord is, wat is die vraag? Dit het hom verwar.
Een Sondagoggend het hy buite die kerk gestaan en luister na die prediker wat gepraat het oor liefde. Maar hy het nie geweet wat liefde is nie. Dié aand het hy vir Dave gevra wat liefde is. Dave het gesê: “Jesus is liefde”. Toe is hy nog meer verward oor die vraag. Hy het ’n antwoord, maar nie ’n vraag nie. Hy het gedink hy kan seker nie weet nie, want hy is mos ’n rubbish. Een aand het Robbie vir Dave gevra hoekom mense vir Jesus ken en hy wat Robbie is, nie. Hy het ook nie verstaan hoekom dit net ryk mense is wat vir Jesus ken nie. Eendag het hy weer buite die kerk gaan luister en gehoor die pastoor praat oor die wet. Dié aand het hy vir Dave gevra om dit vir hom te lees. Eks 20:1-17 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.
Dit was egter vir Robbie die spyker in die doodskis. Hy het nie sy ouers geëer nie, hy het sy ma gehaat. Hy het soms iets gesteel; hy het nie God geëer nie, hy het dikwels gelieg as hy gebedel het. En hy het begeer – veral as hy gesien het hoe iemand smul aan iets lekker. Toe sê hy vir Dave: “Ek kan nie hierdie goed doen nie. Ek is te sleg. Ek is ’n Robbish. Dit is nie vir my nie”. Dave het toe hierdie woorde gesê: “Robbie, Jesus is die antwoord”. Robbie het amper omgeval, want toe kry hy die vraag van die antwoord. Dave het verder vir hom verduidelik: “Omdat jy nie kan nie, kan Jesus. Jesus is die antwoord op alles”.
Robbie het besluit hy gaan hierdie pad probeer. Daardie aand het Robbie sy ma vergewe, onvoorwaardelik. Dave het vir hom die Onse Vader-gebed gelees en hy het verstaan waar sy daaglikse brood vandaan kom. Die volgende oggend het Robbie nie wakker geword nie. Dave het hom gekry met ’n salige trek op sy gesig. Yskoud. Hy het in sy slaap gesterf. Dave het besef dat daar geen teleurstelling vir Robbie is nie. hy het dit gemaak. Hy was op die beste plek. Dave het by homself gedink, Robbie was geen rubbish nie, want God maak nie rubbish nie, al het Robbie dit in sy kort lewe geglo.
Hy het ook geweet Robbie glo nou anders. Hy het gewonder hoekom die Here vir Robbie so vroeg in sy lewe kom haal het. Hy het egter vertroosting gekry in Lukas 16, die deel oor Lasarus en die ryk man. Luk. 16:22: “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham”. Hy het ook gedink aan die reëltjie uit die lied Starry Starry Night (wat oor die lewe en sterwe van Vincent van Gogh gaan): “But I could have told you, Vincent (Robbie), this world was never ment for one as beautiful as you”
Robbie was nie ’n Robbish nie. Jy is ook nie, weet jy? Want die Here maak nie robbish nie. Dis teen die aard van Sy liefde. Ten spyte van swaarkry en moeilikheid, bly Hy steeds die antwoord, ongeag wat jou vraag is. Hy bly altyd die antwoord op alles. Die probleme gaan nie noodwendig altyd weg nie, maar Jesus is steeds die antwoord. Altyd. En of ek en jy ons lewe lank die Here dien, of net-net betyds die Here vind, soos Robbie, is ons uiteinde dieselfde.
There is no disappointment in heaven.
No comments:
Post a Comment