Nou is ek in die sop ...
Ek kon nie die druk hanteer nie.
Ek was deel van die Suid-Afrikaanse atletiekspan. Ek was die afgelope drie jaar die kaptein van die Vrystaatse atletiekspan. Almal ken my naam. En elke keer as ek hardloop, hoor ek hoe die skare my naam skree ...
Dit het alles binne 'n sekonde verdwyn ...
15 Mei. Sasolburg. Vrystaatse interprovinsiale byeenkoms. Seuns o/18. Ek was in baan drie. Die twee seuns langs my was gespanne. Ek kon die wen in my bloed voel ...
Thabang Zungu het ander planne gehad. Hy was in baan ses. 'n Maer seun. Hy kom van een of ander plaas af. Ek het nog nooit van hom gehoor nie.
Nou kan ek hom nie uit my kop kry nie.
My begin was goed. Ek was gefokus. Alles het egter by die 30 m-merk verander. Iets aan my linkerkant het my aandag afgetrek. 'n Seun in 'n geel trui wat kaalvoet hardloop ...
Dit is nie Thomas Kruil nie, kan dit Thabang wees ...
Die afstand tussen ons het groter geword. Die mense het opgehou skree. Daar was niks nie, net stilte ... doodse stilte ...
Toe hy by die wenpaal kom, was die afstand tussen ons so groot soos die afstand tussen Welkom en Bloemfontein. Hy was 'n hele drie sekondes voor my ...
Die kaalvoet seun - Thabang Zungu. Hy was op almal se lippe. Hy was al onderwerp by die skool. Van Maandag tot Vrydag.
Dit was asof ek nie daar was nie. Dit was kompleet asof ek nie bestaan het nie.
Die druk het te veel geword ... Ek het kortisone in my spiere gepomp. Kitsoplossing! En hard geoefen.
'n Mens kon duidelik sien hoe die son my gebrand het. Maar ek is in die moeilikheid. Groot moeilikheid. Want vanjaar gaan hulle ons toets. As hulle hierdie geheim van my uitvind, sal ek in my lewe nooit weer mag deelneem nie. Ek sal weer op die voorblad van die koerant wees, maar om die verkeerde redes.
So, vandag is ek in die sop ...
[Tlotliso Matile - 2015]
No comments:
Post a Comment