Kort voor Kersfees 2004 word 'n eerstelingseun vir Edwina van Khayelitsha gebore. 'n Pragtige kind, Raemondo. Maar die vreugde duur nie lank nie. Op drie weke ontdek sy ma 'n ongewone klopping in sy keel. Khayelitsha hospitaal verwys hom dadelik na die Rooikruis Kinderhospitaal. Daar vind hul uit hy het ’n ekstra aar wat veroorsaak dat te veel bloed na sy hart gepomp word. Raemondo was nog te klein en hul moes drie maande wag om te opereer. Hy kon eers weer huis toe gaan op vyf maande oud.
Tog is iets nie pluis nie. Raemondo het ’n verskriklike uitslag op sy vel en mettertyd begin die punte van sy vingers en tone pikswart vertoon. Weereens word hy na die Rooikruis Hospitaal gehaas en volg ’n skokkende diagnose - meningokokkale meningitis. Bloedsirkulasie in sy liggaam word beperk en sy ledemate gaan letterlik stukkie vir stukkie dood ...
Raemondo se toestand versleg en hy verval in ’n koma. Op 'n dag vra 'n dokter sy ma: ”Watter kwaliteit .van lewe kan hy nog hê, Mamma? Let him go." Depressie en onsekerheid oorval haar. Tot sy 'n boodskap op Radio Tygerberg hoor: "God maak nie foute nie." Net daar besluit sy: Ek is nie in beheer van sy lewe nie. Raemondo het aangehou veg en die lang pad van operasies en amputasies het begin.
”Dit was eers sy voete. Daarna sy handjies. En weer die bene en toe die arms.
Ons het "count” verloor van al die operasies.”
Hy was reeds in graad 2 toe hy sy laaste operasie ondergaan het.
Te midde van alles het Raemondo ontwikkel in ’n gelukkige kind met 'n aansteeklike glimlag. Stilsit was net nooit 'n opsie nie ...
Van kleins af was hy mal oor sport. Eers gholf en
later tafeltennis waarvoor hy in 2019 provinsiale kleure verwerf. Toe nooi die
Roxy Davis Foundation hom om 'n branderplanksessie by te woon. En daar byt die
”surfing”gogga hom. Soveel so dat hy in die eerstejaar WP-kleure kry! By die
Nasionale Para-Branderplank Kampioenskap behaal hy ’n tweede plek. In Desember
gaan hy sy 16de verjaardag in Kalifornië vier terwyl hy aan die
Wéreldkampioenskap sal deelneem!
Raemondo het sy skoolloopbaan in Astra-skool begin, maar hulle bied net onderrig tot graad 9. Sy ma was vasberade dat hy matriek moet voltooi en Jan Krielskool was boaan die lys. Hier is koshuisgeriewe, verskeie terapeute en spesialispersoneel. Die Jan Kriel Sentrum vir alternatiewe leer stel hom in staat om werksopdragte en huiswerk met sekere konsessies te voltooi - hy skryf immers self met sy "geboude hand!" Veral sy verblyf in die koshuis - met die nodige dissipline wat alle 15-jariges benodig - het ’n groot verskil in sy skoolwerk gemaak.
Sy lewensleuse dryf hom elke dag:
”Never give up. No matter how hard the situation.”
No comments:
Post a Comment