Thursday, 29 February 2024

Kinderverhaal: Eers vyande, nou vriende ...

Hy het gesê dat ons vriende sal wees wanneer varke kan vlooi ...

Dit is nou al twee jaar dat ek in Kerkstraat Plettenberg woon. Ek woon saam met my gesinnetjie in 'n pragtige huis, in die mooiste straat in die dorp. Maar ongelukkig bly my grootste vyand, die kat Cesar ook daar. Cesar is eintlik 'n wildekat - hy is groot en vinnig en het baie skerp kloue. Hy mag met liefde in hierdie groot huis bly, want anders as ek, is hy 'n werkende inwoner.

Ek is die pa van twee meisiemuise en die wyfie in my lewe, is ook die moeder van my kinders. Ek moet vir my gesin sorg ... 'n muis moet doen wat 'n muis moet doen. Elke oggend, sommer baie vroeg gaan lê ek 'n vinnige besoek aan mev. Iris, die eienaar van die pragtige huis, se kombuis af. Ek gaan kos soek, meer spesifiek - kaas!

Elke keer stap ek vinnig by my klein deurtjie uit nadat ek links en regs en weer links en regs gekyk het. 'n Mens kan nie te versigtig wees nie. Hoor ek die onheilspellende miaaaau, dan weet ek dat ek vandag moet hardloop dat my rug hol word, want Cesar is in die onmiddellike omgewing. Somtyds is ek gelukkig en kry ek kos in die hande, en somtyds nie ... My vrou en kinders sit elke oggend doodbenoud om die tafel en wag op my veilige terugkoms.

Verlede Sondag het ons Carte Blanche gekyk en een sinnetjie wat ek baie nuttige gevind het, is die feit dat een van die polisiemanne gesê het dat 'n mens nie elke dag dieselfde roetine moet hê nie. Kriminele hou jou dop ... verander jou roete werk toe en moenie elke dag jou huis op presies dieselfde tyd verlaat nie. En skielik het ek lig gesien. Cesar hou my dop! Ek moenie elke oggend my huis om 06:00 verlaat nie. Ek moet my uitgaantye afwissel. En baie belangrik, ek moenie altyd na die kaas mik nie, brood is net so vullend. Lekkerbekkigheid gaan my nog my lewe kos en wie gaan dan na my gesin omsien? 

Een wintersoggend het my hele lewe verander ... Ek sal daardie dag nooit vergeet solank ek lewe nie. Ek het by my huisie uitgesluip en Cesar was soos gewoonlik kort op my hakke. Skielik hoor ek net: "Eina!" Cesar het op 'n naald getrap. Ek kyk vinnig om, bang dat dit 'n nuwe vangmetode van sy kant af is, maar daar sit die wilde dapper kat en huil. Ek moes 'n belangrike besluit in sekondes maak. Ek besluit om die kos te los en hom te help. Ek het die naald met my tande uitgetrek. Ek was die hele tyd doodbang, want ek is 'n hap ver van sy bek af, maar sy gesig het skielik verander. "Dankie, en baie jammer vir al die ander tye wat ek jou lewe so mislik gemaak het."

Hierdie was 'n wonderwerk.

Nou maak ons twee eertydse vyande of hy my agtervolg as ek uitglip om te gaan kos soek ... maar hy laat my toe om die kos te kry en huis toe te bring ... elke keer.

En dit is hoe my vyand my vriend geword het. 

Die wiel het gedraai!

[Rethabile Molelekoa 2015]   

No comments:

Post a Comment