Sunday, 21 December 2025

Ruben deel sy vriendin Talana se brief


Liewe Maats

Vandag gaan ek met 'n ander een se kalwers ploeg. Ek kan dit egter nie beter stel nie en ek glo dat liewe Talana nie sal omgee as ek haar brief met julle gaan deel nie. Sy het die tienerrubriek in die KEUR hanteer in 1994 - julle is reg - dit voel soos eeue terug. Nietemin, lees asseblief haar brief en laat weet my wat julle daarvan dink.

Dus kry julle vandag 'n brief binne 'n brief.

Liewe Tieners

Wel, waar ons die pylvak van nog 'n jaar binnegaan, wil ek vir julle vra dat julle my groete vir die Kerstyd en die hartlikste wense vir 'n aangename, geseënde en voorspoedige nuwe jaar aan julle ouers sal oordra ... en natuurlik ook vir julself elkeen 'n groot skep goeie wense neem. Julle is immers die belangrikste rede hoekom hierdie rubriek bestaan.

Julle sien, al lyk dit nie elke dag so nie en al voel julle soms bedruk en hartseer en onvoldoende toegerus vir al die eise wat aan julle gestel word, bly julle nog steeds die hoop vir ons land se toekoms.

Ons is oud, uitgedien en het ons beurt gehad, goed of sleg. Dis verby. Maar julle, wat nog jonk is en vir wie die wêreld wyd en oop lê, kan die toekoms maak of breek.

Jy kan bou of afbreek. Jy kan glo of ongeloof laat hoogty vier. Jy kan verbeter of versleg. Jy kan groei of stagneer.

Niemand kan jou máák bou, glo, verbeter of groei as mens en persoon as jy nie sélf wil nie. Jy sit met die magtigste wapen in jou tienerhande: dat jy jou eie toekoms en jou eie lewe kan beheer.

Die boustene is daar wat jy moet benut: geloof, opvoeding, norme en waardes, tradisie en kultuur. Wat jy daarmee gaan doen in die nuwe jaar, weet net jyself. Ek glo voluit in julle as tieners en in jul potensiaal.

Jy hoef nie berge te versit of brûe te bou in een dag nie, maar 'n klein, klein klippie van geloof, liefde, aanvaarding, selfrespek,  trots en vasberadenheid elke dag kan aan die einde van volgende jaar 'n stewige muur gevestig hê waarop jy dag na dag, jaar na jaar kan voortbou in geloof in die toekoms. Dit kan jou beskut, jou anker, en aan jou 'n vastrapplek gee om te waag in die lewe.

Die grootste dam het begin met een druppel water. Die hoogste boom het begin as 'n nietige saadjie. Die rykste mens moes iewers die eerste keer 'n enkele sent in sy hand gehou het. Die beste spreker in die belangrikste parlement het ook op 'n tyd probeer ba-ba-ba sê en dit reggekry.

Die geheim is dat jy daardie eerste woord, eerste tree, eerste aksie sal probeer, en dit regkry. Dis maklik. Dan moet jy daarop voortbou. Tree vir tree, woord vir woord, sent vir sent en druppel vir druppel, tot jy kom waar jy wil wees. probeer dit. Voordat jy jou kom kry, is jy magtig, ryk en beroemd, deur die filosofie van one step at a time.

Die tweede geheim is dat jy nooit jou oorsprong sal vergeet nie. Al is jy eendag hoe ryk, hoe magtig, hoe beroemd, sou jy niks gewees het, sonder daardie een enkele tree, daardie sukkelende woord, daardie nietige geldstukkie nie. Wanneer jy op die toppunt is, kan jy ander se hande vat en hulle help op daardie eerste tree, met daardie eerste woord en aan daardie eerste sent. Want hierdeur kan 'n mens ryk, magtig en beroemd bly én gelukkig wees in alles wat jy doen. 'n Mens koop nie geluk nie. Jy skep dit vir andere en dit reflekteer duisendvoudig keer na jouself ...

Probeer dit. 

Maats, hier is soveel goeie wenke en gedagtes vir 'n blink toekoms, dat ek julle graag wil uitdaag om dit ter harte te neem. Skryf een gedagte voor in jou huiswerkboek en werk die nuwe jaar daaraan, sodat 2026 'n onthoujaar vir jou sal word.

Hartlike groete uit Kimberley tot 'n volgende keer!
Ruben













[Bron:  Kom ons gesels met Talana KEUR 14 Januarie 1994]

No comments:

Post a Comment