Tuesday, 21 October 2025

Tyd staan beslis nie vir Tommie stil nie!

Liewe Maats

Ek kan nie wag dat die son sy eerste strale oor Kimberley gooi nie. Dan vlie ons almal op en sing vir Tommie Veels geluk liewe maatjie omdat jy verjaar ... Tommie is vandag 'n volle jaar oud. Hy het egter so baie dinge gedoen en beleef dat 'n mens kan sê dat Tomme twee jaar se aktiwiteite in een jaar ingepas het.

Ek is so trots op my kleinboet, nog blyer dat ons dieselfde huis deel en die blyste dat tannie Christelle ons mensmamma is. Wat Christina Kiddie se inwoners in die mou voer vir Tommie se verjaardag, weet ek regtig nie. Ek het my ore gespits en snuif-snuif met my neus in die lug geloop, maar dis verniet of ek iets kon agterkom. My speurwerk was egter nie tevergeefs nie. Ek het 'n heerlike ontdekking gemaak waarvan niemand maar niemand weet nie. 

Net eers 'n bietjie agtergrond, voordat ek die aap uit die mou laat. Ouma Annie het vir Tommie leer koek bak, maar hy het nie regtig belanggestel nie, want niemand kan so met 'n houtlepel en 'n mengbak toor soos ons ouma nie. Die laaste keer wat ons in Petrusburg was, het ouma vir Tommie so 'n bietjie die fynere kunsies gewys en ook 'n geheim of twee met hom gedeel. Daaroor swyg hy natuurlik soos die graf en nie eens ek kon iets uit hom trek nie. Intussen het ek by myself gedink dat Tommie se belangstelling net 'n bietjies te oordrewe is en dat hy seker maar net in ouma se goeie boekies probeer kom.

Min het ek besef dat hierdie man met 'n plan werk. In die aande as ek my sekuriteitsrondtes doen, het hy na die kombuis gesluip en ouma Annie se resepte uitgetoets. Ek het skelm 'n foto van Tommie voor die stoof geneem, want ek weet julle sal my nie glo nie. Tommie het sy eie koek vir sy verjaardag gebak. Hy gaan blykbaar almal na skool by die swembadarea trakteer op sy fyngebak. Maats, sien ek nou uit na hierdie geleentheid! As julle kans kry, onthou julle is enige tyd na skool welkom om 'n draai by ons te maak. Wys net hierdie brief as julle toegangskaartjie by die hek.

Julle kan gerus vir hom 'n verjaardagkaartjie by die kantoor afgee - hy maak kaartjies bymekaar en elke keer as ons Petrusburg toe gaan, werk hy en ouma deur die kaartjies en oe en aa hulle twee dat dit 'n naarheid is. 

Tommie, namens die lesers en maats wil ek graag vir jou baie geluk met jou verjaardag sê. Dankie dat jy so 'n wonderlike broer, vriend, maat en luisteraar is. Dankie dat niks vir jou te veel is nie en dat jy altyd bereid is om die ekstra myl te loop en terwyl jy op die pad is, sommer ook die kalf uit die put te haal. Mag jou nuwe lewensjaar propvol vreugdespronge, baie blaf, min knor en baie snoepgoed wees. Ons is lief vir jou!

Hiep hiep hoera uit Kimberley! 
Ruben



No comments:

Post a Comment