Tuesday, 19 May 2026

Ruben-idiome: Koffie

Ilse Zietsman skryf in haar blog: 'n Ethiopiese legende lui dat ‘n bokwagter genaamd Kaldi eeue gelede koffie ontdek het. Of om meer spesifiek te wees - Kaldi se bokke het die koffiebone ontdek. Kaldi het opgelet dat sy bokke ekstra woema gehad het na hulle helderrooi bessies van 'n sekere boom geëet het.

Kaldi het vir die ab van die plaaslike klooster (abdy) hiervan vertel. Die ab het dieselfde bessies gebruik om 'n drankie voor te berei en toe agtergekom dat hy vir langer kon bid ná hy dit gedrink het. Van hier het die woord versprei tot waar koffie vandag een van die gewildste drankies ter wêreld is.

'n Ou Ethiopiese idioom lui: Een, twee, drie koppies, en dan is ons vir altyd vriende.

* By haar is sy koffie bitter.
Betekenis: Sy hou nie baie van hom nie.

* Hulle is lief vir koffie drink.
Betekenis: Hulle skinder graag.

* Hy is so skelm, hy sal die melk uit jou koffie steel.
Betekenis: Hy is uiters geslepe.

* Haar koffie vlek die koppie.
Betekenis: Sy maak haar koffie baie sterk.

* Hy het êrens 'n trekseltjie koffie gaan vra.
Betekenis: Hy gaan kuier iewers by 'n nooi.

* Hy sal nog sy koffie kry.
Betekenis: Daar sal nog met hom afgereken word.

No comments:

Post a Comment