Friday, 19 June 2026

Ouerbetrokkenheid: Akademiese toekoms "reeds in graad 4 bepaal"

Baie baie jare terug het hierdie artikel in die koerant verskyn, toe die leerders oënskynlik nog beter kon lees en skryf as deesdae. 
* Ouers moet besef dat hulle verantwoordelik is vir hulle kinders se basiese voorskoolse opvoeding - mylpale soos woordeskat, tel, kleure,vorms, ens. kan nie vir die eerste keer op grondslagfase aangespreek word nie.  
* Dit is absoluut noodsaaklik dat ouers direk betrokke moet wees by hul kinders se grondslagfase (graad R tot 3). 
* Aktiewe betrokkenheid bou 'n stewige akademiese fondament, bevorder emosionele sekuriteit, en help ouers om leerprobleme vroegtydig op te spoor.
* Die grondslagfase vorm die boustene vir alle toekomstige leer.
* Kinders voel veiliger en presteer beter wanneer hulle weet hul ouers ondersteun en waardeer hul skoolwerk.
* Maak daaglikse leestyd 'n prioriteit om jou kind se woordeskat en begrip te bou.
* Onbetrokke ouers blameer ander vir hul kinders se probleme.
* Ekstra klasse in die hoërskool is REEDS te laat!

LEES DIE ARTIKEL HIERONDER EN BESEF DAT JY REEDS IN JOU KIND SE GRAAD 4-JAAR
GAAN WEET WAT SY/HAAR HOËRSKOOLPRESTASIE GAAN WEES. 



Stellenbosch - As jou kind teen gr. 4 nie op standaard kan lees, skryf en somme maak nie, is die kans bitter skraal dat hy/sy universiteit gaan haal.

Volgens navorsing wat prof. Servaas van der Berg, onderwysekonoom in die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, gedoen het, word 'n leerling se akademiese toekoms reeds baie vroeg in hul skoolloopbaan bepaal. 

"As die leerling teen gr. 4 nie akademies op standaard is nie, kan ek met 90% sekerheid sê die leerling sal nie aan die einde van matriek universiteitsvrystelling kry nie," het hy gesê.

Van der Berg het dié navorsing verlede week aan gerekende onderwyskenners van oor die wêreld heen op 'n konferensie oor die onderwys voorgelê.''

Volgens uitslae van die jaarlikse nasionale assessering is daar bykans geen verskil tussen die aantal leerlinge wat in gr. 4 akademies op standaard presteer en die aantal leerlinge wat aan die einde van matriek vrystelling kry om verder op universiteit te studeer nie.

Van der Berg het die leerlinge se akademiese standaard volgens die Trends Internanational Mathematics and Science Study (Timms) se laer maatstawwe gemeet.

"My bevinding bewys dat die fokus op die grondslagfase, of selfs opvoeding vóór skool, moet wees," het hy gesê.

"Daar is nie nou genoeg data oor onderwys voor skool in Suider-Afrika nie, maar dit is selfs moontlik dat leerlinge in gr. a kom en reeds akademies 'n hele paar jaar agter is. Deur die res van dié leerlinge se skoolloopbaan raak die gaping dan eenvoudig net te groot."

Boonop stoot die departement van onderwys nie genoeg van sy hulpbronne in die grondslagfase nie, meen Van den Berg.

"Heelwat fokus word nou op wiskunde in gr. 8 en 9 geplaas. Ja, dit gaan 'n klompie kinders help, maar vir die grootste gros van die kinders is dit teen daardie tyd nie van veel hulp nie," het hy gesê.

[Anika Marias]

No comments:

Post a Comment