Maats, hierdie dier lyk nogal baie soos 'n tamaai-groot huiskat. Die tierboskat is baie lenig gebou en die kop is proposioneel klein met groot, ovaal regop ore. Sy bene is besonder lank en die stert kenmerkend kort, nie langer as 'n derde van die liggaams- en koplengte nie. Die stert het, soos die jagluiperd, swart ringe vir die grootste gedeelte behalwe naby die aansluiting by die liggaam, waar daar meer swart kolle voorkom. Sy lyf is versier met kolle op 'n dof-bruin pels; die kolle verander in strepe op sy rug en bene.
Die tierboskat is oorwegend 'n nagdier, maar word ook soms in die dag aktief aangetref. Hulle lewe van verskeie klein diertjies soos soorte akkedisse, knaagdiere, rietmuise, hase, voëls, veral tarentale, tot selfs duikers en oorbietjies.
Ongelukkig kan die tierboskat geweldige skade onde pluimvee en kleinvee aanrig en word dan meedoënloos gejag of vergiftig.
'n Wyfie se werpsel bestaan gewoonlik uit ±3 kleintjies. Daar word gewoonlik geboorte gegee in 'n ou erdvarkgat of ystervarkgat of in 'n redelike diep skeur in die rotse.
Die roep van die tierboskat is 'n hoë-noot, kla-agtige geskreeu - "how-how-how-how."
[Dr. JJ Malan]


No comments:
Post a Comment