Monday, 10 February 2025

Ruben se Valentynsdagidees en -wense


Liewe Maats

Ek hoor die opgewonde gefluister en gegiggel in die stil gange oor Valentynsdag. Ek vermoed dit gaan seker oor hare, klere en natuurlik ouens. Die meeste skole het een of ander Valentynsfunksie gereël en dis waaroor die getjie-tjie gaan. Ek hoor die kleintjies praat van 'n Valentynsfliek en die groteres praat van 'n Valentynsbal en dan is daar die sportiewes wat 'n Valentynsrugbywedstryd gereël het. 

Ek hoor dat blomme, mooi beertjies, oulike versies, sjokolade en al daardie soort presente nie meer boaan die Valentynslysie is nie. Jy is glo nét die man as jy vir jou meisie data of lugtyd vir haar selfoon koop. Maats, ek weet nie waar ek agter geraak het nie, maar is dit romanties? Ek praat baie keer met myself om sinvolle antwoorde vir my probleme te vind en een van die onbeantwoorde vrae wat julle asseblief vir my moet antwoord is die volgende: Sê nou ek koop lugtyd, baie lugtyd vir die meisie wat ek in die oog het, want dis Valentynsdag en ek wil haar beïndruk en sy gebuik daardie lugtyd om ander ouens te bel. Is dit regverdig? Dan is ek mos in alle opsigte 'n verloorder. Ek het die meisie verloor, die data verloor, my geld verloor en die heel ergste ... ek het my hart verloor.

Op Petrusburg het tannie Baby die mooiste tuin gehad. Sy kon dit maklik vir die Bloemfonteinse  tuinboukompetisie inskryf en dit wen ook, maar die beoordelaars sou definitief nie so ver uitry om net een tuin te beoordeel nie. Tannie Baby het 'n bos grys hare, groen vingers en 'n hart van goud gehad. Jy kon enige tyd van die dag of nag aan haar deur klop as jy 'n blomnood gehad het en sy tower vir jou 'n present uit haar tuin op wat 'n bloemiste moeilik sal ewenaar. Al die seuns op die dorp het geweet dat 13 Februarie 'n heeldag deeldag by Magrietjiestraat 10 is. Met haar breërand strooihoed en gewillige snoeiskêr in die hand, kon jy enige blom(me) vir jou meisie kies en met 'n yslike rooi strik en 'n  "Baie dankie, tannie Baby," was jy reg vir 14 Februarie. 

Ek het baie en diep gedink oor die feit dat meisies deesdae op ouens se gevoelens speel om die regte presente te kry. Dit grens vir my aan emosionele afpersing. Duur geskenke is nie die idee nie. Dit steel die pret en lag uit die dag. Daar is net een wenner en dis die winkels wat die duurste presente die aanlokste uitstal.

My dierbare maats, daarom wil ek graag hê dat julle my laaste brief weer moet lees en nog 'n keer moet lees. Daarin het ek al Valentynsidees neergepen. Ek noem weer 'n paar hartspresente waarvan die waarde toeneem, al besef ons dit nie nou nie. Ons kan vir ons ouers, juffrouens en huisouers 'n lekker drukkie gee, 'n opregte briefie skryf en dit sommer self versier. Skryf  'n mooi gediggie en as jy daarmee sukkel, vra vir oom Google. Dis nou een oom wat kan toor met woorde, eintlik is dit sy vriend Ka-Ie wat die woordtowerstaf  besit. Stuur 'n WA-boodskap as jy data het of gee net vir iemand 'n mooi kompliment voor ander.

Maats, noem my maar outyds, maar hoe meer ons op hartsgeskenke konsentreer, hoe mooier tree ons teenoor mekaar op en hoe minder energie spandeer ons op stry, argumenteer en baklei.    
  
Ek het 'n Valentynsgediggie vir Charlotte van die Sandwich Shop geskryf om vir julle 'n idee te gee en aan die dink te sit. Tommie dink egter dis nie'n watwonderse gedig nie. Volgens hom - te soetsappig. Ek sal baie ernstig aan sy hart moet werk.

* Vir jou ...
Die reënboog in die blou-blou lug,
skenk oorvloed kleur aan die lewe.
Jy is die reënboog in ons lewe.
Kleurvol, sprankelend en uitbundig!
Gelukkige Valentynsdag.

Tommie het gevoel 'n mens moet kruisrym gebruik, omdat so baie mense jou pad elke dag kruis. Hier is sy Valentynsgedig.

* Valentynsliefde
Liefde is mooi en raar,
Liefde is verdraagsaam,
regverdig en ‘n pragtige gebaar.
Liefde is die lewe se raam.


Hoop julle hou van ons pogings!

Onthou, wat julle ookal Vrydag, 14 Februarie, doen, doen dit in ROOI!!

Valentynsgroete tot 'n volgende keer.


 








* Ns. Dankie, oom Google!!!

No comments:

Post a Comment