Wednesday, 20 July 2022

'n Daad van liefde ...

Jannie is 'n 10-jarige seuntjie wat twee keer per week na die sopkombuis in hul buurt gaan. Terwyl ander kinders hul kos net daar eet, het Jannie sy kos geneem en haastig huis toe gehardloop, van die kinders wat daar was, het hom al begin uitlag, want hul het opgelet dat sodra Jannie sy kos kry, is hy haastig om by die huis te kom.

Een dag roep Jannie een van die vroue by sopkombuis eenkant en vra of hulle nie dalk ekstra kos het wat hy by die huis kan gaarmaak nie. "Kan antie vir my sê hoe 'n mens dit gaarmaak," wou die seuntjie weet toe die vrou 'n sak aan hom oorhandig! "Moet ek dit vir jou neerskryf sodat jy dit vir jou ma kan gee," wou die dame weet. Die seuntjie laat sy kop sak en trane rol oor sy vuil gesiggie.

"Het ek iets verkeerd gesê," wou die dame weet, terwyl sy die seuntjie nadertrek en met arms vol liefde omhels. Die seun kyk op en sê: "Dit sal nie nodig wees om dit neer te skryf nie ... antie kan maar net sê hoe en ek sal onthou hoe dit gedoen moet word." Sy oë skiet vol trane terwyl hy sê: "My mammie is blind en siek, en ek wil vir haar die kos gaarmaak sodat sy gesond kan word."

Skrywer onbekend

[[Klik HIER vir nog inspirasie]

Thursday, 14 July 2022

Skoene vir die koue winter


'n Kaalvoetseuntjie staan op 'n koue wintersdag voor 'n winkelvenster. Verlangend kyk hy na die wintersklere en skoene wat so keurig uitgestal is.
'n Vrou wat daar verby loop, kyk na die seuntjie en vra vir hom: "Waarna kyk jy?"
"Ek vra God vir skoene."
Die vrou stap by die winkel in en versoek die winkelklerk om 'n paar skoene en sokkies te kry, asook 'n emmer water en 'n handdoek. Sy was en droog die seuntjie se voetjies af. Toe trek sy sokkies en skoene vir hom aan en koop nog 'n paar skoene wat sy in 'n winkelsak laat sit. 
"Is dit beter?" vra sy.
Die seuntjie gryp haar hand en vra: "Is jy God se vrou?"
Hierdie soort gee is net moontlik met Christus in ons hart.

[Dankie, Lynette Muller]

Klik HIER vir nog inspirasie

Tuesday, 12 July 2022

Onthou ...


Voor jy praat, LUISTER
Voor jy skryf, DINK
Voor jy spandeer, VERDIEN
Voor jy belê, ONDERSOEK
Voor jy kritiseer, WAG
Voor jy bid, VERGEWE
Voor jy opgee, PROBEER
Voor jy afree, SPAAR 
Voor jy sterf, GEE

Monday, 11 July 2022

Wat het ek verkeerd gedoen om dit te verdien?


"Wat het ek verkeerd gedoen om dit te verdien of hoekom laat die Here toe dat dit met my gebeur?"

Hier is ‘n eenvoudige, maar logiese verduideliking!

‘n Dogter vertel aan haar Ma hoe alles verkeerd gaan in haar lewe. Sy het haar wiskundetoets gedruip, haar kêrel het haar skielik gelos, sy het nie 1ste span vir netbal gekry nie en boonop is haar beste vriendin se pa verplaas en sy gaan dus weg. Haar lewe voel soos een groot gemors!

Terwyl sy vertel is haar Ma besig om ‘n sjokoladekoek te bak. Sy kyk besorg na die dogter en vra of sy nie lus is vir iets lekkers om te eet nie.

“O ja!” sê die dogter, “Ma weet mos ek is mal oor Ma se sjokoladekoek!”

"Hier" sê haar Ma, "kry solank ‘n bietjie van die kookolie." 

"Yuck!" sê die dogter.

'Wat dan van ‘n rou eier?" Vra die Ma.

"Ooooh Gross, Ma!"

"Eet dan solank ‘n bietjie meel of bakpoeier" sê Ma.

"Maaaa! Daai goed is als yucky!"

Haar Ma glimlag stil en sê: "Dis waar, al hierdie bestanddele op hulle eie is glad nie lekker nie, maar wanneer ek dit alles bymekaar sit op die regte manier, maak dit die heerlikste sjokoladekoek! So werk ons God op dieselfde manier. Ons wonder baie kere hoekom sekere goed in ons lewens gebeur, maar wanneer ons God toelaat om dit alles in Sy tyd op Sy manier bymekaar te sit, werk dit altyd ten goede uit as ons bly glo en op Hom vertrou.

Ons moet dus leer om op Hom te vertrou en te glo dat dit alles deel is van Sy plan, om op die ou einde vir ons iets wonderliks te skep, want God se planne is nie ons planne nie, en God se tyd is nie ons tyd nie."

[Klik HIER vir nog inspirasie]

Thursday, 7 July 2022

Die mooi wat dieper as teerpaaie en winkels lê

Dis nie net die Gautengers wat
met 'n 7de Laan kan spog nie.
7de Laan in die NK se juwele is
sy mense. Hulle is nie "akteurs"
nie, maar hulle is regte mense
met regte probleme en
omgeeharte.
 
Hier vra selfs die GPS-tannie
vir die inwoners rigting. As jy
die grondpaadjie volg, kom jy
by huise uit en ry jy om daardie
huise dan gaan die paadjie na
nog huise. Wegsteekhuisies
waarvan net die inwoners weet.
'n Mens ry 'n paar keer oor
enkelbaanbruggies wat oor vertakkings
van die Oranjerivier gebou is

Hierdie foto's is geneem in die
omgewing van Warmsand
en Fosterseiland.



Die meeste mense wat in hierdie om-die-draai-huisies woon, doen seisoenswerk op die plase. Soos in die res van die land is werk nie volop in die deel nie en armoede vier hoogty. Die plaaswinkels voorsien in die mense se dringendste behoeftes, anders gooi hulle duim na Keimoes of Kakamas toe. Daar is ook 'n groot Rooms Katolieke sendingstasie, met 'n skool van graad 1 tot 12. Die kinders maak van busvervoer gebruik skool toe, maar eers moet hulle tot by die hoofpad loop en smiddae weer terug ... in wind, reën en sonskyn ...  

Is ek 'n diensbare instrument?

As ek na Moeder Teresa se lewe kyk en dink aan al die waarhede wat sy vir ons nagelaat het, weet ek dat ek skuldig staan.

Moeder Teresa het tereg gesê: “Wanneer ’n arm mens van honger doodgaan, is dit nie omdat God nie vir daardie persoon gesorg het nie. Dit is omdat ons nie instrumente in die hande van God was om vir die arme ’n stukkie brood te gee nie.”

Liewe Vader, gee my ’n hart vol omgee vir my medemens sodat my eerste prioriteit nie sal wees om myself te verryk en na “my brood” te soek nie, maar dat ek sal bid en my sal beywer vir “óns daaglikse brood”. Ek wil my talente, gawes en goeie beplanning gebruik in diens van U en u koninkryk, en nie om groter skure vir myself te bou nie. Amen.

[Oorgeneem]

Wednesday, 6 July 2022

Kinders is belangrik in Keimoes

Die doel en strewe met skoolonderrig in die algemeen is om goeie geskoolde individue te vorm. 'n Ander belangrike aspek is om leerders se vaardighede in die proses te ontwikkel. Soms is dit nodig om op net een of twee vaardighede te konsentreer en daardie leerder dan toe te rus met die selfvertroue om sy naam te kan skryf, mooi te kan inkleur of om te tel. Dit is egter só belangrik dat daar iemand is wat genoeg gaan omgee om die voortou te neem. En hier stel Keimoes se vrywilligers vir ons 'n navolgingswaardige voorbeeld.
 
 

Hulle glo dat waar daar 'n wil is, is daar 'n weg ... en met hierdie leuse het twee vrywilligers 'n stimuleringsgroep vir kinders met gestremdhede begin ... op een se stoep! Daar is geen skole naby waarby hul kan inskakel nie en hierdie twee vroue het besluit dat as daar nie geriewe is nie, skep hulle die geleentheid om hierdie kinders se vaardighede te ontwikkel. Hulle hanteer kinders met outisme, verstandelike gestremdheid, Down-sindroom en ook fisiese gestremdheid in een klas, ouderdomme ten spyt. Die leergierigheid van die kinders is die soet vrugte op hulle harde werk. 

Die omstandighede was nie maklik nie ... Hitte, stof en ongemak was maar enkele van die faktore. Met die winter op hande, het hulle besef dat die stoepskool nie gaan werk nie ... koue, wind en wintersnuffels is nie bevorderlik vir hulle stoepskool nie. 

'n Tydelike oplossing in die vorm van 'n vertrek in iemand se huis, was 'n antwoord op hierdie vroue se gebede. Die laerskool het van hulle ou meubels geskenk. Met 'n hamer, lym en 'n verfkwas het hierdie meubels 'n tweede asem gekry en nooi hulle in helder kleure die skoolkinders elke oggend uit om te kom werk. 



Die vrywilligers het met die hulp van die gemeenskap hierdie tydelike klaskamer ingerig sodat die leerders die skoolgevoel kan ervaar. 

Voor die verandering ...
Na die mooimaak en regmaak ...

Gelukkig was me. Christelle met die "opening" van die klaskamer daar en kon sy hulle bederf met noodsaaklike skryfbehoeftes wat skoolgaan net makliker gaan maak. Mnr. André du Plessis het altyd gesê dat die naaste helpende hand aan die einde van jou eie arm is. En hier word die voorbeeld vir die gemeenskap gestel.   




18 000 dankies!!!



Tuesday, 5 July 2022

Jy is nie 'n mislukking nie ...

Mislukking beteken nie dat jy ‘n mislukking is nie ...
Dit beteken wel dat jy nog nie suksesvol was nie.

Mislukking beteken nie dat jy nog niks bereik het nie ...
Dit beteken wel dat jy al iets geleer het.

Mislukking beteken nie dat jy ‘n dwaas was nie ...
Dit beteken wel dat jy hope geloof het.

Mislukking beteken nie dat jy verneder is nie ...
Dit beteken wel dat jy bereid is om te probeer.

Mislukking beteken nie dat jy nie oor die vermoë beskik nie ...
Dit beteken wel dat jy dit op ‘n ander manier moet probeer doen.

Mislukking beteken nie dat jy minderwaardig is nie ...
Dit beteken wel dat jy nie perfek is nie.

Mislukking beteken nie dat jy jou lewe gemors het nie ...
Dit beteken wel dat jy ‘n rede het om van vooraf te begin.

Mislukking beteken nie dat jy moet moed opgee nie ...
Dit beteken wel dat jy harder sal moet probeer.

Mislukking beteken nie dat jy dit nooit sal maak nie ...
Dit beteken wel dat dit ‘n rukkie langer sal neem.

[Oorgeneem]

Saturday, 25 June 2022

Ek en jy is spesiaal in God se oë ...


Dankie, Here dat U my doof gemaak het
en baie spesiaal gemaak het.
Ek is nie kwaad vir U daaroor nie.
Ek wil net vir U dankie sê daarvoor.
Here help ander wat doof en blind en verlam is
of enige iets anders makeer,
om nie vir U kwaad te wees nie,
maar bly te wees,
omdat U hulle so spesiaal gemaak het.
Amen

[Die uit-die-hart-gebed van 'n 9-jarige dogtertjie wat doof is, maar elke dag die lewe voluit aanpak.
Haar lewensmotto: Gryp die dag van vandag aan en gee jou alles.

Thursday, 5 May 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Dis my boetie se beurt ...

'n Verhaal word vertel van 'n matriekklas by 'n sekere skool wat geregeer is deur die belhamel-element. Die klas het haas onregeerbaar geword en een ná die ander onderwyser het sy of haar goed gevat en geloop omdat dit nie vir hulle enigsins moontlik was om dissipline en orde te handhaaf nie. Daar is advertensies in al die koerante geplaas, maar soos wat die onderwysers aangestel is, so het hulle 'n paar weke later maar weer hul goed gevat en geloop.

Maar een oggend was daar 'n ligte kloppie aan die skoolhoof se deur en n tingerig geboude man het daar gestaan. Die skoolhoof het gegroet en toe stel die man homself voor: Ek is Mnr Buys en ek het kom aansoek doen vir die pos van matriekonderwyser. Die skoolhoof het die man op en af gekyk en toe vir hom gesê: Dankie Mnr Buys, maar groter en sterker manne as jy het al aansoek gedoen en het maar weer stert tussen die bene 'n paar weke later weggesluip.

Mnr Buys het die skoolhoof in die oë gekyk en toe gesê: Dan het jy mos niks om te verloor deur my 'n geleentheid te gee nie. Ek sien kans vir hierdie klas. Die skoolhoof het sy bedenkinge gehad, maar het te sleg gevoel om vir hierdie man te sê dat hy heeltemal te klein en maer is vir hierdie klomp belhamels en het hom toe aangestel.

Die volgende oggend was die matriekklas op hul beste, die geraas is deur die hele skool gehoor. Daar was 'n vreeslike rumoer wat deur die gange ge-eggo het. Die klasdeur het oopgegaan en mnr Buys het stadig by die deur ingeloop terwyl hy die hele spul so op en af bekyk, hy het agter sy tafel gaan staan en net gekyk, nie 'n woord gesê nie.

Daar het skielik 'n doodse stilte oor die matriekklas neergedaal. Of dit verbasing was omdat so 'n klein verpiepte mannetjie die mannemoed gehad het om by hulle klas in te stap, en of dit net die atmosfeer was wat die man omvou het - wat ook al die rede - die stilte was voelbaar.

Mnr Buys het van die geleentheid gebruik gemaak om die klas te groet, homself voor te stel en hulle te vra om asb hulle plekke in te neem. Hy verduidelik toe vir hulle dat hy orde en dissipline gaan toepas, maar met die verskil, dat hulle die reëls en die straf sal bepaal. Hy gaan staan toe voor die swartbord en vra hulle watter reëls hulle wil instel. Die een groot belhamel met die naam van Jakobus spring toe op en skree:"Daar mag geen diefstal wees nie", en mnr Buys skryf toe GEEN DIEFSTAL.

Die volgende ou spring toe op en sê daar mag geen vloekery wees nie, en mnr Buys skryf GEEN VUIL TAAL, en so het die klomp hul totaal en al oorgegee aan die genot van die maak van die reëls. Toe staan mnr Buys eenkant en sê dit is nou goed so, maar wat van die straf as een van hierdie reëls verbreek word. O dit is maklik skree ou Jakobus weer, 10 van die bestes met die rottang. Goed sê mnr Buys, so sal dit wees en skryf toe die straf ook op die bord.

Die dag het redelik vlot verloop en die pouse het aangebreek.

Na pouse storm Jakobus die klas binne en sê vir mnr Buys, "My toebroodjies is gesteel, en die reëls sê daar mag nie gesteel word nie, so die skuldige moet asb gestraf word". Mnr Buys vra toe of hy weet wie die brood gesteel het, Ja, sê Jakobus, dit was Klaas. Mnr Buys vra toe wie Klaas is, en agter in die klas staan 'n maer, verwaarloosde seun stadig op. Mnr Buys vra hom toe of hy die brood geneem het en hy sê toe ja, hy het. Mnr Buys kyk toe vir die kind en sien dadelik die hongerpyne op die seun se gesig raak, maar hy het ook besef as hy nie die nodige disipline toepas nie, gaan hy ook druipstert die skool verlaat. Hy versoek toe vir Klaas om vorentoe te kom.

Klaas was die toonbeeld van armoede, die skoene was stukkend, en oor sy skoolbroek het hy 'n oorgrote baadjie gedra wat hy styf voor toegevou het. "Klaas trek uit jou baadjie en kom buk". Klaas kom toe vorentoe en buk met die baadjiepante nog steeds styf vasgehou. "Nee Klaas, die baadjie is te lank en dit hang oor jou boude, jy moet dit asb uittrek". "Ag meneer", smeek Klaas, "ek sal buk want ek is skuldig, maar asb meneer, net nie my baadjie nie".

Mnr Buys voel hoe sy binneste ruk, want hy weet hier is groot behoefte, maar ter wille van die dissipline van die klas moet die seun gestraf word. Hy versoek toe weer vir Klaas om sy baadjie uit te trek, en weer smeek hierdie maer verwaarloosde kind: "Meneer, ek sal enigiets doen, maar asb meneer, ek kan nie die baadjie uittrek nie".

Mnr Buys kon ook nie toegee nie, en sê weer: "Kom Klaas, uit met die baadjie" en toe Klaas sien hy gaan die baadjie moet uittrek, maak hy dit oop en laat dit stadig grond toe gly en staan voor die onderwyser met net die broek aan sy lyf.

"Klaas waar is jou hemp" vra mnr Buys. "Meneer, in ons huis is daar net een hemp en een baadjie en dit was vandag my boetie se beurt om die hemp te dra. En meneer ek het nie bedoel om die brood te neem nie, ek het gedink Jakobus gaan dit net weer in die asblik gooi soos elke dag, en ek was so honger, toe dink ek hy sal nie eens agterkom dat die brood weg is nie".

Mnr Buys het gemaak of hy na iets op die bord kyk om hom geleentheid te gee om sy emosies onder beheer te kry. Toe draai hy om en sê: "Klaas, jy verstaan dat ek wel die dissipline moet toepas. Jy verstaan dat ek nie 'n uitsondering kan maak nie", en Klaas kyk hom in die oë en sê: "Ja meneer, ek verstaan" en toe buk hy, en Mnr Buys tel die rottang op om die eerste hou te slaan, toe breek Jacobus se stem die stilte in die klas, "Wag Meneer moenie hom slaan nie." Mnr Buys kyk na Jacobus en sê: "Nee die straf moet toegepas word vir die oortreding van die reëls". "Nee meneer, moenie hom slaan nie, hy was honger, los hom ek sal in sy plek kom buk om die straf te kry."

Daar was nie n droë oog daardie dag in daardie klas nie. Maar net so het daar Iemand ook voor die Vader gestaan en gesê, Asseblief Vader moenie hulle straf nie, Ek sal in hulle plek die straf neem. Kom ons maak 'n punt daarvan om in hierdie nuwe dag, hierdie nuwe week opnuut vir Jesus dankie te sê vir die straf wat Hy namens ons verduur het. Laat mens dink, dink voor jy praat en doen aan andere wat jy graag wil hê gedoen moet word aan jou.

Sien ook die nood raak van die ander met wie jy 'n pad kruis.

JY KAN 'N VERSKIL MAAK! MAG GOD JOU SEEN!

[Dankie, Carine Lubbe, wat dit met ons deel.]

Thursday, 7 April 2022

Donderdag: Dink hieroor ... 12 wisdom rules


1. God wants spiritual fruit, not religious nuts.
2. There is no key to happiness. The door is always open.
3. Silence is often misinterpreted, but never misquoted.
4. Dear God, I have a problem, it’s me.
5. Laugh every day, it’s like inner jogging.
6. Blessed are the flexible for they shall not be bent out of shape.
7. The most important things in your home are the people..
8. As a child of God, prayer is kind of like calling home everyday.
9. He who dies with the most toys is still dead.
10. It’s all right to sit on your pity pot every now and again. 
Just be sure to flush when you are done.
11. Surviving and living your life successfully requires courage. 
The goals and dreams you’re seeking require courage and risk taking. 
Learn from the turtle, it only makes progress when it sticks out it’s neck.
12. Be more concerned with your character than your reputation, because your character is what you really are, while your reputation is merely what others think you are.

Author: Unknown

Tuesday, 22 March 2022

'n Stokperdjie vir die vakansie

Hi julle maatjies in die Noord-Kaap

My naam is Portia Kgopodithata. Ek is 9 jaar oud en die 9de April word ek 10 jaar oud. Ek is in Aurora Primêre Skool in Welkom. Vakansies kan baie lank raak as 'n mens niks het om te doen nie en waar ons bly, is daar nie baie maatjies nie. Maar ek het 'n heerlike stokperdjie. Ek herwin papier. So,ek help sommer die aarde met hierdie projek van my en ek help van die kleiner plattelandse skooltjies in die Noord-Kaap waar dit so baie droog is en waar die inwoners swaarkry. Skryfbehoeftes en skoolboeke is duur. Ons moet alles self koop.  

Ek maak boekies en dan plak ek 'n oulike plakker en 'n naamplakker op, voordat ek dit vaskram. Dit vat nogal lank om by die eindproduk te kom,
maar ek hou baie daarvan. Ek het verlede jaar amper 'n 1000 boekies help maak, maar hierdie jaar is ek alleen. Ek gaan die boekies tel en later vir julle laat weet hoeveel ek al sover gemaak het.
Ek probeer om elke dag meer boekies te maak as die vorige dag. Ek begin sommer al 8 uur in die oggend, maar so 'n dag kan lank raak hier na 5 uur se kant toe. Maar ek hou daarvan.

Geniet julle vakansie en onthou om iets vir die aarde te doen - ons moet almal groen dink.




Tuesday, 8 March 2022

International Women's Day


Like every year, International Women's Day has arrived and people across the world are going to be celebrating women and their rights on March 8, 2022. 

Women have been struggling continually for their existence and their presence. Society - being patriarchal - made it quite difficult for women to live a life of their own, one in which they have a say and can make their decisions. Over the course of time, many strong women, who raised their voices against patriarchy, emerged and made a mark in history. This is why, on this day, it is so important to celebrate women around the world as it marks a call-to-action for accelerating women's equality. Here are some powerful quotes by famous authors that will help you celebrate Women's Day with even more zest.

"We cannot all succeed when half of us are held back." - Malala Yousafzai

Happy International Women’s Day 2022!

Thursday, 3 March 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Beperkings in jou lewe


Die man stap verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Geen kettings, geen hokke, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.

Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar vir een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Hy sien daar naby een van die afrigters van die olifante staan en vra hom hoekom die olifante net daar staan en nie ‘n poging aanwend om los te breek van die toue nie.

“Wel,” sê die afrigter, “terwyl hulle nog baie jonk en heelwat kleiner was, het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou, dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het was hulle so gekondisioneer dat hulle steeds glo hulle kan nie losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. 

Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Hoeveel van ons, net soos die olifante, gaan deur die lewe en glo ons kan nie iets doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het?

Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Les: Mislukking is deel van leer. Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe. SUKSES IS DALK NET EEN MISLUKKING VER. MAAR JY SAL NIE WEET AS JY NIE PROBEER NIE.

Klik HIER om terug te gaan na Inspirasiestories.

Thursday, 3 February 2022

Donderdag: Dink hieroor ... Robbie se verhaal

Ek wil vir jou die storie van Robbie vertel. 

Robbie kom uit ’n baie moeilike huis. Mens kan sê ’n slegte huis, ’n huis sonder ’n pa, met ’n ma wat die meeste van haar lewe onder die invloed van drank was. Sy het vir Robbie baie sleg behandel, het hom soms genadeloos geslaan, hy het dikwels nie veel gekry om te eet nie, want daar was nie geld nie.

Robbie het egter gewonder hoe sy die drank en sigarette kon gekoop het. Hy het vir ’n paar jaar skool toe gegaan, maar hy was altyd gespot en sleggesê en het uiteindelik begin stokkiesdraai en wegbly van die skool af. Daar was dikwels mans by sy ma, maar hy het nie geweet of een van hulle dalk sy pa was nie.

Toe hy sy ma eendag vra waar sy pa was, het sy gesê dat rubbish soos hy nie ’n pa kan hê nie. So het die een oom hom Robbie Robbish begin roem en lustig deelgeneem aan die mishandeling. Op 'n dag kon Robbie net nie meer nie, en hy loop toe weg. Hy het homself belowe dat hy nooit weer sal terugkom nie en hy het op die straat begin lewe. Met bedel, kos soek op vullishope en soms iets uit ’n winkel steel, het hy aan die lewe gebly.

Hy was vry ... so het hy gedink. Robbie het baie van Jesus gehoor. By die skool het hulle ’n Bybel-periode gehad. By die huis het hy die naam Jesus ook gereeld gehoor, wanneer sy ma kwaad was en dit uitgeskree het. Dit het hom verwar, want by die skool het hy gehoor van Jesus se liefde, maar by die huis het hy gedink dis ’n vloekwoord. Nadat Robbie weggeloop het, het hy soms gewonder of iemand na hom soek. Hy het nooit weer huis toe gegaan nie en op die straat gelewe.

Robbie het in ’n stegie geslaap onder goed wat hy op ashope opgetel het. Diep in sy hart was iets goeds geskryf wat hy nooit verstaan het nie. Hy het probeer om niemand skade aan te doen nie. En toe, op een goeie dag, kom daar mense van ’n kerk en hy kry die grootste geskenk van sy lewe: ’n splinternuwe kombers en ’n sakbybeltjie. Omdat hy nie goed kon lees nie, het hy maar saans net so bietjie daarin rondgeblaai. Die een naam wat heeltyd opgeduik het, was Jesus. Hy het meer en meer begin wonder wie dit was. Daar was ’n ouer man wat ook in die stegie geslaap het. Sy naam was Dave. Dave het vir hom vertel dat hy ’n geleerde ou is en op Universiteit was, maar die lewe het sy rug op Dave gedraai en hy is uit sy gesin uit en het ook ’n boemelaar geword. Maar Dave was slim en het geweet van die Bybel. Hy het dit ook gereeld gelees en soms met Robbie oor Jesus gepraat. Hy het gewens Dave was sy pa. Eendag het Robbie verby ’n kerk geloop en daar was ’n groot bord met die woorde: “Jesus is die antwoord”. Maar hoe goed hy ook al op die bord gelees het, het hy nie geweet wat die vraag is nie. As Jesus dan die antwoord is, wat is die vraag? Dit het hom verwar.

Een Sondagoggend het hy buite die kerk gestaan en luister na die prediker wat gepraat het oor liefde. Maar hy het nie geweet wat liefde is nie. Dié aand het hy vir Dave gevra wat liefde is. Dave het gesê: “Jesus is liefde”. Toe is hy nog meer verward oor die vraag. Hy het ’n antwoord, maar nie ’n vraag nie. Hy het gedink hy kan seker nie weet nie, want hy is mos ’n rubbish. Een aand het Robbie vir Dave gevra hoekom mense vir Jesus ken en hy wat Robbie is, nie. Hy het ook nie verstaan hoekom dit net ryk mense is wat vir Jesus ken nie. Eendag het hy weer buite die kerk gaan luister en gehoor die pastoor praat oor die wet. Dié aand het hy vir Dave gevra om dit vir hom te lees. Eks 20:1-17 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie. Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Dit was egter vir Robbie die spyker in die doodskis. Hy het nie sy ouers geëer nie, hy het sy ma gehaat. Hy het soms iets gesteel; hy het nie God geëer nie, hy het dikwels gelieg as hy gebedel het. En hy het begeer – veral as hy gesien het hoe iemand smul aan iets lekker. Toe sê hy vir Dave: “Ek kan nie hierdie goed doen nie. Ek is te sleg. Ek is ’n Robbish. Dit is nie vir my nie”. Dave het toe hierdie woorde gesê: “Robbie, Jesus is die antwoord”. Robbie het amper omgeval, want toe kry hy die vraag van die antwoord. Dave het verder vir hom verduidelik: “Omdat jy nie kan nie, kan Jesus. Jesus is die antwoord op alles”. 

Robbie het besluit hy gaan hierdie pad probeer. Daardie aand het Robbie sy ma vergewe, onvoorwaardelik. Dave het vir hom die Onse Vader-gebed gelees en hy het verstaan waar sy daaglikse brood vandaan kom. Die volgende oggend het Robbie nie wakker geword nie. Dave het hom gekry met ’n salige trek op sy gesig. Yskoud. Hy het in sy slaap gesterf. Dave het besef dat daar geen teleurstelling vir Robbie is nie. hy het dit gemaak. Hy was op die beste plek. Dave het by homself gedink, Robbie was geen rubbish nie, want God maak nie rubbish nie, al het Robbie dit in sy kort lewe geglo. 

Hy het ook geweet Robbie glo nou anders. Hy het gewonder hoekom die Here vir Robbie so vroeg in sy lewe kom haal het. Hy het egter vertroosting gekry in Lukas 16, die deel oor Lasarus en die ryk man. Luk. 16:22: “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham”. Hy het ook gedink aan die reëltjie uit die lied Starry Starry Night (wat oor die lewe en sterwe van Vincent van Gogh gaan): “But I could have told you, Vincent (Robbie), this world was never ment for one as beautiful as you”

Robbie was nie ’n Robbish nie. Jy is ook nie, weet jy? Want die Here maak nie robbish nie. Dis teen die aard van Sy liefde. Ten spyte van swaarkry en moeilikheid, bly Hy steeds die antwoord, ongeag wat jou vraag is. Hy bly altyd die antwoord op alles. Die probleme gaan nie noodwendig altyd weg nie, maar Jesus is steeds die antwoord. Altyd. En of ek en jy ons lewe lank die Here dien, of net-net betyds die Here vind, soos Robbie, is ons uiteinde dieselfde. 

There is no disappointment in heaven.