Wednesday 6 July 2022

Kinders is belangrik in Keimoes

Die doel en strewe met skoolonderrig in die algemeen is om goeie geskoolde individue te vorm. 'n Ander belangrike aspek is om leerders se vaardighede in die proses te ontwikkel. Soms is dit nodig om op net een of twee vaardighede te konsentreer en daardie leerder dan toe te rus met die selfvertroue om sy naam te kan skryf, mooi te kan inkleur of om te tel. Dit is egter só belangrik dat daar iemand is wat genoeg gaan omgee om die voortou te neem. En hier stel Keimoes se vrywilligers vir ons 'n navolgingswaardige voorbeeld.
 
 

Hulle glo dat waar daar 'n wil is, is daar 'n weg ... en met hierdie leuse het twee vrywilligers 'n stimuleringsgroep vir kinders met gestremdhede begin ... op een se stoep! Daar is geen skole naby waarby hul kan inskakel nie en hierdie twee vroue het besluit dat as daar nie geriewe is nie, skep hulle die geleentheid om hierdie kinders se vaardighede te ontwikkel. Hulle hanteer kinders met outisme, verstandelike gestremdheid, Down-sindroom en ook fisiese gestremdheid in een klas, ouderdomme ten spyt. Die leergierigheid van die kinders is die soet vrugte op hulle harde werk. 

Die omstandighede was nie maklik nie ... Hitte, stof en ongemak was maar enkele van die faktore. Met die winter op hande, het hulle besef dat die stoepskool nie gaan werk nie ... koue, wind en wintersnuffels is nie bevorderlik vir hulle stoepskool nie. 

'n Tydelike oplossing in die vorm van 'n vertrek in iemand se huis, was 'n antwoord op hierdie vroue se gebede. Die laerskool het van hulle ou meubels geskenk. Met 'n hamer, lym en 'n verfkwas het hierdie meubels 'n tweede asem gekry en nooi hulle in helder kleure die skoolkinders elke oggend uit om te kom werk. 



Die vrywilligers het met die hulp van die gemeenskap hierdie tydelike klaskamer ingerig sodat die leerders die skoolgevoel kan ervaar. 

Voor die verandering ...
Na die mooimaak en regmaak ...

Gelukkig was me. Christelle met die "opening" van die klaskamer daar en kon sy hulle bederf met noodsaaklike skryfbehoeftes wat skoolgaan net makliker gaan maak. Mnr. André du Plessis het altyd gesê dat die naaste helpende hand aan die einde van jou eie arm is. En hier word die voorbeeld vir die gemeenskap gestel.   




No comments:

Post a Comment