Speel is 'n saak wat vir my baie naby aan die hart lê. Ek dink dis omdat ons wat in die platteland grootgeword het, speel as 'n werkwoord ken. Daar was nie 'n klomp winkels waar ons allerhande speelgoed kon koop nie. Verder het my ma-hulle nie geld gehad vir speelgoed nie - ons was 'n klomp kinders en ons moes buite speel waar daar genoeg ruimte was vir hardloop, wegkruip en boomklim. As jy en jou broer of suster argumenteer of baklei, is dit so goed of ons meld ons aan vir huiswerk. My ma het dan gereken as ons nie lus is vir speel nie, dan moet ons haar help om die huis se netheidsvlak tot nuwe hoogtes te voer.Vloere vee en was of selfs vensters was, was die eerste op haar lysie van werk uitdeel. Ons het niks daarvan gehou nie, so ons het ons speeltyd ten volle gebruik en geniet. Dit het weer ander probleme veroorsaak - ons wou nooit ophou speel nie. My arme ma moes sukkel om ons voor donker in die huis te kry. Maar sy het nie nonsens gevat nie en ons het vinnig geleer om te luister ... goed te luister.
Dis eers later dat ek besef het hoe belangrik speeltyd eintlik is. Al daardie kruip, hardloop, swaai, klim en klouter, balspeletjies, klippies optel, modderkoekies bak en albaster speel, is alles aktiwiteite wat nodig is om jou groot- en fynmotoriese ontwikkeling te ondersteun. Dit vorm die fondasie vir jou skoolloopbaan en alles wat jy later gaan leer.
Maats, dink net hoeveel keer hoor ons nie van spelterapie nie? En dan dink ons dat dit nie ons probleme gaan oplos nie - dit klink heeltemal te eenvoudig om jou probleem speel-speel op te los en tog sê navorsers dat die eerste 7 jaar eintlik net speeltyd moet wees, want dis die laaste kans wat 'n kind het om vry te speel en sy of haar kreatiwiteit spontaan te laat ontwikkel. Nou dink ek mos aan 'n belangrike ding - dié van ons wat spelterapie nodig het, het dan mos te min gespeel en te veel voor die TV gesit. Dan moet ons dit dadelik regstel. Eerder te laat as nooit.
Dit was vir my baie lekker toe julle van die kerk af kom en sommer agterop die bakkie klim. Ek sien party van julle klim baie vinniger op as ander - ons sal 'n bietjie daaraan moet werk. Intussen bearbei ek solank die eienaar van die bakkie om ons net so 'n draaitjie om die blok te laat ry - maar ek het nog nie 'n definitiewe ja gekry nie. Dis asof ek my ma se stem hoor: "Klim dadelik daar af. Netnou kry iemand seer. Julle weet na lekker lag kom lekker huil."
Ek sal maar voor sit, want dan kan ek 'n beter oog oor julle hou. As ek agter sit, skrik die kind in my wakker en stel ek dalk nie so 'n goeie voorbeeld nie.
Terwyl ek daar in die bakkie gesit het, het ek besef dat 'n kind se werk eintlik speel is. En watter heerlike werk is dit nie. Ek wil op 'n stadium met julle praat oor skermtyd - dit behoort eintlik nie in ons woordeskat te wees nie - maar dis 'n gesprek vir 'n ander dag.
Ek sal op 'n latere stadium vir julle meer vertel van die voordele van speel, maar ek wil julle regtig nie vandag verveel met feite nie. Nou wonder julle seker hoekom ek in elk geval vir julle dan wil bemoei daarmee. Die antwoord is doodeenvoudig: Dis belangrik dat ons nie die foute van ons ouers herhaal nie. En as ons nie genoeg speeltyd gehad het nie, moet ons sorg dat ons kinders eendag genoeg speel sodat hulle lewenswenners kan word.
Een van die waardes van speel is dat 'n mens vaardighede leer wat weer bydra tot ons selfvertroue - dink maar aan ons Springbokspan wat die Australiërs so lekker die loef afgesteek het - daardie spelers het as kinders graag met 'n bal gespeel - geskop, geslaan en gedribbel en so speel-speel het hulle sportvaardighede ontwikkel. Kyk gerus na die spelers as hulle weer 'n wedstryd speel - is etiese en morele waardes deel van hulle wedstrydplan? En waar dink julle leer 'n mens dit?
Met hierdie vraag, groet ek eers vir julle tot 'n volgende keer.
Ruben-groete!
No comments:
Post a Comment