Ruben: My ouma Annie het altyd vir haar kinders en kleinkinders gesê dat hulle nie mooi en aantreklik hoef te wees nie, maar as hulle mooi doen, dan is hulle waardevolle viervoetige burgers vir die samelewing. Die soort honde wat die land nodig het.
Ons familie is nou nie silwerdoek-materiaal nie, maar ons kan ons man staan en is die sout van die aarde honde. Groot was my verbasing toe Yvonne vir my 'n foto vra. Sy was taamlik geheimsinnig oor die rede en het net in my oor gefluister dat ek haar rolmodel is en dat sy my bewonder vir my dapperheid en waaksaamheid.
Ek het in my vier spore vasgesteek toe Charlotte Yvonne se verjaardagkoek kom aflewer het. Getrou op my pos by die voorhekkie, het ek gesien hulle sukkel om die groot koek uit die kar te laai en daar sien ek dat ek op die koek pryk ... lewensgroot! Ek kon my twee oë nie glo nie. Dankie, Charlotte, dat julle nie net Yvonne se dag spesiaal gemaak het nie, maar ook myne. Ek voel kompleet soos 'n hond met sewe sterte!
Ek het spesiaal vir tannie Christelle gevra om 'n foto te neem sodat ek dit vir ouma Annie kan stuur. Sy is mos baie lief vir my en sy is ook baie lief om koek te bak en hier is haar twee groot liefdes gekombineer in 'n raar maar waar foto!
As enige iemand my modeltalente wil bekom, kan hulle gerus vir tannie Christelle kontak, sy sal sommer ook as my agent optree.
No comments:
Post a Comment