Thursday, 17 April 2025

Ruben se een minuut storie: Die reëndruppels


In ‘n wolk bokant ‘n rooidakhuisie, woon baie reëndruppeltjies. Doempel, Tiekelie, Plats en Sjalie trippel vrolik in die geut langs. Hulle het nou net van Mamma Wolk se swaar skouer afgespring.

“Ek gaan nie saam met die ander druppels afleivoor toe nie,” sê Sjalie. “Daar is te veel druppels bymekaar. Ons sal nie kan asemhaal nie!” 
“Kom ons spring oor die geut se kant,” roep Doempel uit. 
“Ons sal net moet hande vashou,” sê Plats, “anders spat ons uitmekaar daar onder op die grond.”
Die vier druppels staan langs mekaar op die geut se kant. “Kom nou, spring!” skree Doempel. Hulle beland in ‘n deurmekaar waternat bondel op die groen gras. Doempel lê heel onder en skop-skop met sy kort beentjies. Tiekelie sit regop en hou sy kop vas. Hy is die kleinste druppeltjie. Sjoe! Hulle het darem ver gespring! 
“Waarheen gaan ons nou?” piep Tiekelie.
“Kom ons volg hierdie slakspoortjie,” brom Doempel. 
“Ja, kom!” roep Sjalie uit. “Kom ons gaan kyk waarheen hierdie paadjie ons neem.” 
Die reëndruppeljties bokspring uitgelate in die krom slakspoortjie. Hulle lag en gesels dat dit skoon ‘n lekkerte is. Eensklaps word dit pik-pikdonker. Die reëndruppeljties knip hulle ogies en kyk verskrik rond. Oor hulle koppe sien hulle ‘n digte bos van donkerrooi blare wat die sonskyn wegkeer. ‘n Blaar-hand gryp Tiekelie aan die voet.
“Ek is rooi, rooi beet en ek is dors vir ‘n lekker reëndruppeltjie soos jy!” 
“Gryp Tiekelie se hand, Doempel,” skree Sjalie. “Ons moet vinnig wegkom van hierdie eetmonsters af!” 
Hulle gly af met die rivierstroompie. “Help! Help!” skree Tiekelie skielik. “Hier is nog ‘n rooi monster. Hy gaan my insluk!” 
“Dis nie ‘n rooi monster nie, jou dom druppel,” brom Doepel. “Dis maar net ‘n hond wat wil water drink. Rol hiernatoe, dan kan hy jou nie bykom nie.” 
Skielik woer-woer die reëndruppels al in die rondte saam met ‘n hele klomp ander druppels in ‘n ronde gronddammetjie. 
“Waar is ons?” kerm Tiekelie. 
“Kom”, brom Doempel, “kom ons hardloop vinnig in die rondte!” 
“Kom ons moet weg,” roep Sjalie. 
“Ja, dan met die rivier tot by die see,” sê Plats.
“By die see wag Mamma Wolk,” piep Tiekelie. 
“Daar kan ons weer heerlik tussen die sterre sweef!” 
Al vier druppeltjies trippel opgewonde en kan nie meer wag om by die see uit te kom nie. Dit was darem ‘n heerlike avontuur wat hulle gehad het, maar Tiekelie dink nie dit was so fantasties nie.
Sy sal maar volgende keer vir Mamma Wolk luister.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* 'n Mens moet nie alleen iets aanpak nie.
* Luister na diegene wat meer weet as jy.
* Luister na jou ouers - hulle wil altyd die beste vir jou hê.

[Klik HIER vir nog stories.]

No comments:

Post a Comment