Die bekende Helen Keller is meer as ‘n eeu gelede gebore. Sy was ‘n gesonde en normale baba. Sy het selfs begin praat toe sy net ses maande oud was!
Maar Helen was skaars negentien maande oud toe sy ernstig siek geword het. Al was sy nie lank siek nie, kon sy na die siekte nie meer sien nie, nie ‘n geluid hoor nie en nie ‘n woord praat nie. Sy was dus doofstom en blind.
Helen was ses jaar oud toe ‘n jong onderwyseres, mej. Anne Sullivan, by haar gesin kom inwoon het om vir Helen skool te hou. Anne was ‘n baie goeie onderwyseres en Helen ‘n baie intelligente leerder. Gou het Anne vir Helen geleer om woorde in gebaretaal te spel. Dit was ook nie lank nie, of Helen kon “praat”.
Omdat Helen baie leergierig was en ook baie deursettingsvermoë gehad het, het sy sommer gou geleer om Braille-skrif te lees. Anne wou nou hê dat Helen ook net soos ander mense moet kan praat. Sy het dit reggekry deur aan die keel en lippe van mense te voel terwyl hulle praat. Sy het die bewegings wat sy gevoel het, nagemaak en begin praat.
Sy het ook geleer skryf, perdry, roei, swem en fietsry! Na haar sestiende verjaardag het sy Universiteit toe gegaan. Anne het elke klas met haar bygewoon en wat in die klasse gesê is, het sy vinnig in Helen se hand gespel.
Helen het as student haar eerste boek geskryf. Sy het ook ‘n paar vreemde tale geleer en selfs toesprake voor groot gehore gelewer. Sy was teen die tyd ‘n wonderkind!
Dit wys aan ons, dat as iemand ‘n gebrek het, dit wel moontlik is om ‘n baie vol en gelukkige lewe te hê.
Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Waar 'n wil is, is 'n weg.
* Dat 'n mens meer is as die struikelblokke in jou pad.
* Iemand wat ‘n gebrek het, kan wel ‘n baie vol en gelukkige lewe hê.
No comments:
Post a Comment