Monday, 17 June 2024

Kersfees in Junie


Kersfees is mos 'n tyd vir gee, en ook 'n tyd vir omgee!  

Maar vir sommiges lê Desember nét te ver en daarom het Dirk en Tinike besluit om die gee en omgee van Kersfees na Junie te verskuif. 

Die dag voor die skool vir die Junievakansie gesluit het, het Dirk en Tinike al die skenkings wat hul ontvang het, by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum kom afgee - klere, speelgoed, toiletware, inkleurboeke, blikkieskos, en nog vele meer koestergeskenke.
Daar was egter een kersfeeshekkie wat hulle amper gepootjie het - Kersvader se takbokke en slee, saam met sy bekende rooi kersfeespak was nie op kort kennisgewing beskikbaar nie en hy het per e-pos laat weet dat hy nie betyds vir hierdie geleentheid gaan wees nie. Skielik moes daar geïmproviseer word en mense met omgeeharte is gevra om in te staan. Die takbokke en slee is vervang met 'n wit bakkie en sleepwa. Oom Louis het vir kersvader ingestaan, maar o wee, kersvader se pak was myle te groot en met 'n rooi kortmoubaadjie het oom Louis agter die stuur van die bakkie ingeskuif, want dit was 'n kosbare vrag wat betyds afgelewer moes word.  

Dirk en Tinike het die elwe se rol oorgeneem, terwyl tannie Irene as hoof-elf moes instaan. Die gee-gees van Kersfees was Donderdag voelbaar tussen hulle wat die geleentheid bygewoon het. 
'n Groot dankie aan almal wat ingestaan het vir die Desember-kersfeesspan - Juniemaand se kersfeesspan is staatmakers en ware wenners!

Vrywillige fotograaf: Irene van Heerden

'n Warm verrassing op 'n koue Kimberley-middag

Koue kan op verskillende maniere verdryf word, 'n ekstra warm trui, 'n warm baadjie, 'n verwarmer of 'n heerlike houtvuurtjie, maar Dirk en Tinike het die geheim bemeester van warmte genereer in die hartjie van die winter. Hulle het die inwoners van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum kom verras met 'n kolwyntjiekuier en 'n pretpakkie wat die heerlikste soetste suikerbeloftes ingehou het, veral vir diegene wat met 'n lastige soettand sukkel.
Voordat die pretpakkies uitgedeel is, is daar eers 'n paar woorde gewissel en gelag om die ys te breek. Daarna het die pretpakkies van eienaars verwissel en moes die ontvanger eers die kaartjie lees. Sonder om 'n woord te sê, praat die spesiale pakkieboodskap direk met elkeen, nog voordat dit oopgemaak is. Hierdie boodskapkaartjie gaan sommer as boekmerk dien vir die res van die jaar. 
Tinike se hartlikheid en spontane vriendelikheid, met die stille sterk ondersteuning van Dirk, het dit maklik gemaak om geselsies met die kinders aan te knoop. 

'n Vaal wintersmiddag is in 'n ommesientjie in 'n glimlaggeelmiddag omtower en groepies kinders het gesit en gesels, gelag en in die verrassingspakkies geloer. Nie almal wou dadelik weglê aan die snoepgoed nie, want bietjies-bietjies, rek die lekker van die middag uit.


Die kolwyntjies was 'n bonus en blou kolwyntjiekomplimente is oor die tafel heen uitgedeel. Een van die inwoners het nie op haar laat wag nie en besef dat as sy die kolwyntjieresep in die hande kan kry, kan hulle dalk tannie Christelle se arm draai om die resep in die kombuis te beproef. En met die vergesig van 'n tafel vol blou kolwyntjies, het sy die resep op 'n veilige plek gebêre. Sy weet: Daar is 'n plek en 'n tyd vir alles.

Hou hierdie ruimte dop vir die Dirk-en-Tinike-blou-kolwyntjie-resep.  

Maandagmotivering

Sunday, 16 June 2024

Kinderfeesspele: Vakansie-Bybelskool 2024

Die inwoners van Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum is uitgenooi na hierdie wonderlike geleentheid wat deur die Kerk van die Nasarener aangebied word. 

Op die program is Bybelverhale en ware stories waarna geluister kan word, poppespel, speletjies speel, sing en lag en vrolik wees. Tydens hierdie fees gaan daar nie tyd wees vir ledigheid nie. Daar is daagliks kos vir die siel, maar ook heerlike kos en eetgoed op die spyskaart wat die energietenks kan laai.  

Registreer asseblief HIER: kinderfees.weebly.com

Die tema hierdie jaar is: Kinderfees-spele (geïnspireer deur die Olimpiese spele) gebaseer op verhale uit Paulus se lewe.

Binnekringnuus: Saterdag het speel-speel te vinnig verbygegaan


Korrespondent: Die eerste Saterdag van die vakansie was 'n wen-Saterdag. Ons kon nie wag vir opstaantyd nie. Ons het die vorige dag die mooiste poppe gekry, elkeen deftig uitgevat in gehekelde wintersuitrustings. Getooi in bypassende hoed en skoene, het hulle in ons lewens en harte ingestap.


Tannie Christelle het gesê dat ons Saterdag materiaal vir kombersies gaan kry en materiaal om boksies oor te trek vir bedjies. En daarom kon ons nie wag vir Saterdag nie. Tannie Katrien het belowe dat sy vir ons gaan help om popklere te maak. Wat 'n vooruitsig! 'n Pop met meer as een stel klere!

Ons het getoor met boks en lap. Nooit geweet dat 'n boks in 'n bed kan verander nie en dat lap die boksvoorkoms 'n goeie meubelhupstoot kan gee nie. Matrassies en kombersies is gemaak en teen halfdag was ons mevrouens reg vir kuier! Maar eers moes elkeen 'n naam kry ... Prinses, Maatjie, Sara, Katie, Anna, Maria en Christelle is onder andere van die name wat die paal gehaal het.


Elke baba het 'n unieke persoonlikheid. Klein Palesa is besonder soet, slaap deur, probeer nie uit die kot klim nie en gooi geen tantrums nie. Ek hoor in Afrikaans praat mense van 'n vloermoer, maar dis 'n verskriklike woord vir so 'n fraai poppedyntjie. Ons kon sommer dadelik sien dat hierdie ma-kind-verhouding baie spesiaal is en dat haar ma baie liefdevol en verdraagsaam is en dat hierdie sagtheid deel gaan wees van klein Palesa se geaardheid.  

Daar lê sowaar 'n hele drie weke voor wat ons tyd kan afstaan aan ons kinders. Met hulle gesels, speel, rondkuier en vir hulle in die aand, voor slaaptyd, 'n storie kan lees. Hierdie lekker is langer as 'n vinger.

48 000 keer dankie

Binnekringnuus: Ons huisbiblioteek in wording


Bibspreekbuis: "Ons klomp is super opgewonde omdat ons 'n huisbiblioteek in die ware sin van die woord gaan hê. Ons is besig om die boeke te sorteer. Daarna gaan ons dit groepeer, klassifiseer, sodat ons dit net makliker kan beheer. Iets wat elkeen sal moet aanleer, is hoe om boeke te waardeer, want dit sal definitief ons brein stimuleer, sodat ons makliker kan leer en wie van ons sal dit nie waardeer? Spikkels het hoeka gesê dat sy vir ons gaan help met spelwoorde en sinsbou en dalk 'n studiemetode of twee, maar eers moet ons begin lees. Hou hierdie ruimte met 'n arendsoog dop vir die na-foto's."

Youth Day 16 June

But you didn't

I looked at you and smiled the other day
I thought you saw me but you didn't
I said "I love you" and waited for what you would say
I thought you'd hear me but you didn't
I asked you to come outside and play catch with me
I thought you would follow me but you didn't
I drew a picture just for you to see
I thought you would save it but you didn't
I made a fort for us in the woods
I thought you'd camp with me but you didn't
I found some worms n such for fishing if we could
I thought you'd want to go but you didn't
I needed you just to talk to, my thoughts to share
I thought you'd want to but you didn't
I told you about the game hoping you'd be there
I thought you'd surely come but you didn't
I asked you to share my youth with me
I thought you'd want to but you couldn't
My country called me to war, you asked me to come home safely
But I didn't

Stan Gebhardt

[A 2nd Helping of Chicken Soup for the Soul, page 94 - Click HERE]

Verhaal: My pa

My pilaar  ...

Was ons pa-seun-verhouding ooit goed genoeg? 

My pa was die sterkste man wat ek geken het. Hy het 'n diep stem gehad ... mense het nogal geluister as hy gepraat het. Hy was die enigste mens wat iemand 'n gat in die kop kon praat, sonder dat jy dit besef het. Ek was bang vir hom ... Ek was as klein seuntjie sommer baie bang vir hom! Eintlik was ek doodbang vir hom.

My pa was ten alle tye die pilaar in ons familie.

My pa se goeie eienskappe was regtig wat hom die pilaar van sy gesin gemaak het. Hy was vriendelik. Hy het ons elke aand vir sy Here God geoffer. Ons kon hoor hoe hy vir elkeen van ons op ons naam bid. Dit het ons spesiaal laat voel. Elke keer as ek iets verkeerd gedoen het, het hy my gestraf. Ek het nie altyd met die straf saamgestem nie, maar hy het gesê ek sal dit eendag verstaan. Ons het soms baklei, maar hy het nooit vir my kwaad gebly nie, want my punte was elke kwartaal besonder goed. Solank ek onder die top 10 was, was my pa in sy element.

Toe word ek 14 jaar oud en my pa sterf onverwags. Ek was ontsteld, geskok,van die spoor af ... my rigtingwyser was skielik nie meer daar nie. Al het ons soms baklei en baie keer verskillende sienswyses gehad, was ons soos twee koppe in een mus. As hy hier was, sou ek duidelik geweet het of hy tevrede was met my lewe. Hy sou vir my gesê het dat ek nou groot genoeg is om te leer motor bestuur, en dan sou hy my geleer het, soos my beste vriend, Thabo, se pa hom nou leer.

'Skuus, Pappa ... ek was nie altyd die seun wat ek graag vir jou wou wees nie. Ek het opgehou bid - eintlik bid ek nooit meer nie. Maar ek belowe dat ek sal verander. Ek kyk nou met meer respek na mamma. Sy sukkel regtig sonder jou ... ek sal haar beslis meer help.

Ek is nou die grootmenskind in die huis ... maar ek is nog steeds jou kind.
Ek het nou 'n diep manstem ... want ek is mos pa se kind.    
Ek bid byna nooit nie ... soos die dogter in Ma van Antjie Krog.
Ek mis my pa ... maar vir pa sal ek nooit vergeet nie.

Pa se voetspore is duidelik in my lewe, en vandat ek ouer is, besef ek dit meer. Tienerwees is om rebels te wees en om verkeerdelik te dink jy is slim.

Ek weet dat ek eendag vir pa sal sien, miskien in die paradys ... Ons verhouding was goed genoeg ... Dit kon beter gewees het, as ek net altyd na pa se raad wou luister ... want pa was die beste vader wat enige kind voor kon vra!

Ek besef vandag, noudat dit te laat is om dit vir pa te sê, dat pa my hero is.

Dankie, Pa!

[Bongani Khambule - graad 12-leerder 2015]

Saturday, 15 June 2024

Binnekringnuus: Kranige karretjiebestuurders in aksie


Die toekoms-van-die-land besig om heerlik te bou aan paaie, brûe, landingstroke en geboue. Bepaald is hier 'n paar ingenieurs, argitekte en tegnici onder hierdie manne - dalk selfs 'n renjaer of twee ... Michael Schumacher se pa het vir hom op vierjarige ouderdom 'n go-kart gebou. 'n Mens kan amper sê dit was waar sy loopbaan begin het ... Selfs Lewis Hamilton het eers met 'n go-kart begin voordat hy voet in die hoek gesit het en Ayrton Senna het sy kinderstokperdjie omskep in 'n loopbaan! Hou hierdie manne dop!

Ruben herkou, besin en dink oor sy posisie en kom tot 'n belangrike gevolgtrekking

Liewe Maats

Ek gaan sommer met die deur in die huis val, want ek was Woensdagmiddag vir 'n oomblik so van stryk af, dat ek amper my naam met 'n plank geslaan het. Dis net my ingebore ewewigtigheid wat gemaak het dat ek nie onmiddellik op my perdjie geklim het nie en wat van 'n voorbeeld sou ek dan vir julle gewees het?

Julle sien, toe ek hoor dat ons Woensdagmiddag kaartjies gaan maak, was ek sommer dadelik baie opgewonde en slaggereed vir aksie, want ek het 'n kunsstreep in my wat al geslagte lank in ons familie loop. Ek soek eintlik geleenthede om my kuns te beoefen, maar dit is maar min. As ek net my poot op papier kan sit ...

En toe ek so opgewonde na die vierkant aangehuppel kom, moes ek by tannie Christelle hoor dat ek buite by die hek moet gaan waghou, want ek is die enigste sekuriteitsman wat op daardie oomblik kan diens doen. Ek het onmiddellik uitgesluit gevoel en het met 'n langlip voor dáárdie hek stelling ingeneem. Ek het myself jammer gekry en nooit eers aan die belangrikheid van my opdrag gedink nie. My taak was tweeledig. Ek moes kyk dat geen ongemagtigde inkom nie en dat geen kaartjiemaker uitgaan nie.  

Ek het toe natuurlik baie dinktyd terwyl ek daar voor die hek sit en skielik tref dit my - ek sit mos op 'n hele paar stoele hier by Christina Kiddie Sentrum - sielkundige, speelmaat, waghond, mentor, onderwyser, skrywer, motiveerder, inspireerder, fotograaf en nog 'n hele paar ander dinge ook - ek moet tevrede wees as ek nie elke keer die lekker deel kry om te doen nie. Ek moet mos die beste ek wees wat ek kan wees en net daar praat ek myself aan. Ek vertel so graag vir ander wat om te doen, maar sukkel partymaal om dit self te doen.

Net daar besluit ek om met 'n lied in my hart na julle te kyk. Julle was so vrolik en het so lekker gelag dat ek besef het 'n mens klink net so sorgeloos as jy veilig voel en op daardie stadium was ek die rede vir julle veiligheid. 

Ek het natuurlik weer 'n paar lesse geleer: Jy moet 'n aktiewe wag voor jou mond hê, wat daagliks op sy pos is, sodat jy nie ander met jou woorde seermaak nie. Moenie altyd dadelik reg wees om te stry en te argumenteer nie, oordink eers die saak en skep 'n atmosfeer van gemoedelikheid. Mense hou nie van beterweterige mense nie. Doen altyd goed aan ander, al moet jy nou die slegte werk doen.

Maats, hierdie is so 'n mondvol dat ek dit binne my klerekas se deur gaan plak, sodat ek dit elke dag kan sien en myself herinner om eers te dink en dan te praat.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

 


Friday, 14 June 2024

KJSS se engele is vermom as Dirk en Tinike

Mnr. en Mej. Diamantveld-finaliste, Dirk en Tinike, het vir Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum 'n Jungle Gym gekoop met die fondse wat hulle ingesamel het. Hierdie twee hardwerkende jongmense se harte sit voorwaar op die regte plek. 

'n Yslike verrassing wag op die kinders, want hulle weet nog nie van die oerwoudgimnasium wat hulle gaan kry nie. Dis vir ure se speel (en sommer goeie oefening) ... en net betyds vir vakansie. 

Die laaste hekkie wat moet oor, is die afbreek, vervoer en bou van hierdie heerlike tydverdryf op Christina Kiddie se terrein. Ons het solank 'n fotovoorsmakie gekry van die wonderlike geskenk wat nog vir jare se vreugde gaan sorg.

Ons sê solank uit ons harte uit DANKIE vir 'n ongelooflike geskenk wat die lang vakansiedae definitief korter gaan maak! 

Portia's advice

Thursday, 13 June 2024

'n Luilekker kreatiewe Woensdagmiddag



Min dinge is so lekker soos om af te wen na die eksamen en dit het ons gistermiddag gedoen. Ons het ons kunstenks 'n bietjie volgemaak en ons breins op hold gesit.

Vir 'n wintersdag was dit heerlik warm en daarom het ons meisiekinders besluit om kaartjies te maak. Tafels en stoele is in die son uitgedra en ons kon ons inleef in kaartjiesmaak. Terwyl ons so lekker ontspan het, het ons gelag, gegiggel en gesels en besluit dat daar oupas is wat voetspore in ons harte gelos het en dat hulle 'n mooi kaartjie vir Vadersdag verdien en dan het party van ons sommer ons hartstannie met 'n kaartjie bederf. Die middag het gevlieg - daar is mos nie brieke as dit by kreatiewe denke kom nie. 

Ruben kon egter nie saam met ons ontspan nie, want hy het 'n meer aktiewe idee van ontspan gehad as wat ons gehad het. Dus het hy gelukkig agter die heining ons aktiwiteite gade geslaan. Ek hoop nie hy het alles verstaan wat ons gesê het nie, want ons het heerlike getjirp, gekwetter en gekwinkeleer.

[Ingestuur deur een van die kaartjiemakers.]

Wednesday, 12 June 2024

Seniors in aksie (SIA): Kuier, klets en kielie, die spiere-projek


Verbeter die lewenskwaliteit van senior burgers. Gee die swak immuunsisteem 'n hupstoot, maak die brein wakker en terselftertyd ontspanne en stel sommer 'n klomp goedvoelhormone vry. 

Hoe is dit alles moontlik?  

Kontak Somé Ferreira (Maatskaplike werker, Solidariteit Helpende Hand, Noord-Kaap-streek) gerus by 082 944 6097 vir enige verdere navrae of as jy wil deel wees van hierdie opwindende projek.

Raak op 'n volhoubare wyse by die senior burgers betrokke. Dag vir dag raak ons ouer en beweeg ons nader aan hierdie selfde situasie waarvan ons op hierdie stadium net lees.

Christina Kiddie eer Nicolette van Zyl se nagedagtenis

Ons by Christina Kiddie brand vandag 'n kers vir iemand wie se lewenstaak dit was om te dien.

Nicky (Nicolette) het voluit gelewe en wat sy kon, het sy gedoen. Sy het haar lig met almal gedeel met wie sy in aanraking gekom het. 

Haar nalatenskap sal vir altyd voortleef in die kinders se harte, ook hulle wat nog moet kom. As jarelange voorsitter van KJSS (aan die beginjare van die kinderhuis) het Nicky gewoeker om genoeg fondse te in om 'n groot swembad te laat bou. Haar trust het 'n paar jaar terug 'n groot bedrag geld geskenk waarmee die behoeftes van die kindersentrum aangespreek kon word.

En so kan elkeen wie se pad met hare gekruis het, getuig van hierdie vrou wat elke dag in dankbaarheid geleef het.

Sy laat 'n groot leemte, maar haar nalatenskap sal bly. Ons sal haar nagedagtenis eer.

Rosetta se goeie wense:


Mag Sy teenwoordigheid vandag
jou hele menswees vul.
En mag jy bewus word van dié
wonderlike seën.

Tuesday, 11 June 2024

Is bloed dikker as water?

['n Pre-Vadersdaggedagte]

'n Stiefpa in my geval is beter as 'n pa. 

'n Stiefpa het 'n keuse om jou lief te hê, om jou te aanvaar soos sy eie.

Ek en my stiefpa het ons verskille. Ons kan baklei soos enige ander pa en dogter, alhoewel hy nie my biologiese pa is nie, is hy in my hart my biologiese pa en die enigste pa wat ek het. Hy is die manlike figuur in my lewe. Die man wat my groot gemaak het soos sy eie.

Hy het ingestaan wanneer die een wat daar moes wees, nie wou nie. Hy het my al embarress soos ons jong klomp sou sê. Hy het my by die skool afgelaai met musiek wat kliphard speel en nie enige musiek nie, BOEREMUSIEK! Hy het my al gelos sodat ek in die skuifdeur vasloop en glo my, hy het dit gesien kom.

Ek is trots om te sê my pa het ingestap toe die ander man uitstap. Dit beteken die wêreld vir my en ek sal hom altyd liefhê. Hoop net nie hy trip my op my troudag as pa en dogter saam moet inloop nie.

Bloed is dalk dikker as water, maar in my oë is die water nou my bloed!

[Dankie, vir die een wat dit gestuur het en baie dankie ook vir die een wat dit geskryf het. Ek plaas dit omdat dit in soveel huisgesinne die situasie is. En daar dikwels nie die erkenning aan die bloed-stiefpa's gegee word nie.] 

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais