Sunday, 9 June 2024

Ruben leier van 'n koalisie

Liewe Maats 

Ek hoop julle sien dat ek my les geleer het en nie verlede week se fout gaan herhaal nie. Ek begin vroegtydig sodat ek nie my briefie laat by tannie Christelle gaan inhandig nie. 

Ek het so 'n paar keer hierdie week die koerant onder oë gehad, sodat ek op hoogte kan wees van wat in die land en in die wêreld aangaan. Dit is nogal 'n belangrike aktiwiteit - jy moet weet wat rondom jou aan die gebeur is, want dit beïnvloed jou lewe en lewenswyse direk of indirek.

Daar is honderde artikels oor koalisies en ek het so half en half 'n idee gehad wat die woord beteken, maar net om seker te maak, het ek die woord gegoogle. Koalisie beteken: Twee of meer partye wat tydelik saamwerk om 'n gemeenskaplike doel te bereik.

En net daar kry ek die ongelooflikste blink plan - samewerking om jou doel te bereik! Dis klink egter selfsugtig, maar om 'n gemeenskaplike doel te bereik, is 'n wen-wen-situasie met geen verloorder nie. 

Kyk, Maats, ek deel mos die huis saam met Spikkels en Krummels, twee hoogmoedige katte, wat ouderdomsgewys nie meer lus is vir my opgeruimde spelerige geaardheid nie. Hulle kuier en gesels nou nie eintlik met my nie, daarom is ek nie deel van hulle vriendekring nie. (Eintlik is hulle baie katterig met my.) Nietemin het die koue my tot aksie aangespoor en het ek as leier besluit om met hierdie twee saam te werk, want ons al drie gaan by ons koalisie baat, en dis net vir die winter - dus is dit tydelik. 

Julle weet mos 'n ware leier neem nie net verantwoordelikheid vir sy eie situasie nie, maar ook vir diegene wat sy pad kruis. Ek is verantwoordelik vir my huismaats, vir my speelmaats en ook vir die koshuispersoneel. Vir party gee ek raad, oor ander bekommer ek my dood, met party speel ek my energie totaal uit en vir ander moet ek beskerm en sorg dat hulle veilig voel.

Deel van 'n sinvolle koalisie is goeie kommunikasie. En as elkeen van die partye eerlik en reguit praat, dan bou ons as 'n nuwe span vertroue as fondasie vir ons nuwe samewerkingsplan. Kom ek verduidelik dit vir julle só: Ek het my trots in my sak gesteek en met hierdie twee huismaats gaan praat. Dit is ongenadiglik koud in die aand en met of sonder 'n kombers, is die Noord-Kaap nie diervriendelik nie. Ek stel toe voor dat in plaas daarvan dat elkeen opgekrul in sy eie bondeltjie lê en homself bejammer, kan ons mos my bed deel en dan kry ons almal heerlik warm. En dit is ook net tot die ergste koue verby is - dan kan elkeen weer sy eie gang gaan en speel en kuier met wie hy wil. (Kyk gerus na die foto's wat ek by hierdie brief insluit.)

En net daar besef ek dis wat julle moet doen. Julle moet saamwerk, veral met die vakke wat julle nie verstaan nie, bv. wiskunde. Julle moet sorg dat julle 'n goeie wiskundige in julle koalisie het, wat vir julle die werk kan verduidelik - julle hoef nie vriende te wees nie - en dan help julle hom weer met Engels of Afrikaans. Almal baat daarby en in hierdie studiekoalisie is daar geen verloorders nie. En na studie gaan elke een sy eie gang. 

Maar om as 'n span saam te werk, vra dat ek van my karaktereienskappe wat ek nie graag gebruik nie, moet afstof en poleer totdat dit skitter. Dit is nou eienskappe soos respek, nederigheid, gewilligheid, sagmoedigheid, geduld en lankmoedigheid, veral laasgenoemde twee ... so ek moet amper soos 'n volwassene optree en my voorbeeld en goeie maniere moet die res van my span aanvuur om ook hul beste te gee en daar is ons terug by my uitdaging vir 2024: Wees die beste jy wat jy kan wees. 

Daar is nog net een week van skool oor, dan is die wintervakansie hier. Ek het al so een of twee van my speelmaats gehoor kla dat hulle niks het om te doen nie ... wel, ek daag julle uit om vir my vars en oorspronklike idees in te stuur! Ek begin met 'n idee: kom ons stig 'n leesklub en dan lees ons vir mekaar of van die groteres kan vir die kleintjies voorlees of ons verander die hoofkarakter van die boek en een van ons word die nuwe hoofkarakter en ons herskryf die hele storie. Wat dink julle daarvan? En net miskien kan ons daardie storie (akteurs gebruik graag die woord teks) in 'n minidrama ontwikkel en 'n winterkonsert op die planke bring. (Amper iets soos die kersverhaal wat julle altyd aan die einde van die jaar opvoer.)

Ek gaan nou saam met my span die koue aandurf en kaf draf.   

Koalisie-groete tot 'n volgende keer.

  





Aan elke kind ...

Wanneer jou ouers eendag sterf,
mag jy dalk huil.
Jou ouers gaan nie weet nie,
so huil nou oor jou ouers.

Jy gaan blomme na jou ouers se graf neem,
maar jou ouers gaan dit nie sien nie.
Maak nou tyd vir jou ouers.
Daar is geen verskoning van tyd nie.

Jy gaan op jou ouers se begrafnis mooi woordjies praat,
jou ouers gaan dit nie hoor nie.
Sê dit nou vir jou ouers .

Jy gaan jou ouers se foute vergeet,
maar jou ouers gaan nie daarvan weet.
Vergewe jou ouers nou.

Jy gaan jou ouers mis,
maar jou ouers gaan dit nie weet nie.
Mis jou ouers nou

Jy gaan wens jy't meer tyd saam met ouers spandeer,
spandeer dit nou.

[Dankie, Anoniem]

Saturday, 8 June 2024

'n Diep-uit-die-hart-dankie vir omgee-jongmense


Ons by Christina Kiddie Kinder- en Jeugsorgsentrum wil vir elke Eureka-leerder en -onderwyser wat saam met Helpende Hand betrokke was by hierdie groot uitreikprojek 'n hartsdankie gee. Omgee-uitreikaksies skep soveel geluk en vreugde vir beide die gewer en die ontvanger. Jongmense met hulle vars idees en spontane energie word die positiewe rolmodelle vir ander jongmense. Teruggee in jou oorvloed, maak die gewer sensitief vir die maatskaplike uitdagings in jou onmiddellike omgewing. Hierdie is hoopprojekte vir die toekoms. 

Mag julle as skool net van krag tot krag gaan. Gaan voort om die saad te saai, want saad wat opkom, kan 'n honderdvoudige oes lewer. 


Klik HIER om na die video op Laerskool Eureka se FB te kyk.

Thursday, 6 June 2024

Gedig: Afrikaans

One minute story: The Fox and the Stork


Once there was a Fox and a stork. The Fox was selfish but he decided to invite the stork for dinner. The Stork was extremely happy to be invited and she reached his house on time.

The Fox opened the door and invited her in. They sat on the table. The Fox served her some soup in shallow bowls. While the fox licked up his soup, the Stork couldn't drink it because she has a long beak and the bowl was too shallow.

The next day, the Stork invited the fox over for dinner. She served him soup as well but in two narrow vases. While the Stork enjoyed her soup and finished it, the fox went home very hungry realizing his mistake.

Moral of the story: Don’t be selfish because it will come back to you at some point.

Wednesday, 5 June 2024

Die gedagtes van 'n tiener: Wysheid waar is jy?

Wysheid is die ma van groot nasies ...

Die bymekaarmaker van ons wêreld. Jy is ons vreugde ... ons ... jou kinders. 

Jy is die rede dat ons glo ons kan enige iets doen. Met jou aan ons sy, is daar nie iets soos 'n verlore siel nie. Jy is 'n vredemaker. 'n Boekmerk vir al ons probleme ...

Jy is nederig ... elkeen weet van jou en is bewus van jou, maar jy beweeg graag anoniem. Jy is die oorsaak en die beginpunt van baie gedagtes en gesprekke. Met jou nie in ons midde nie, is ons taamlik stomgeslaan, en vang ons allerhande stommiteite aan. Daar is selfs mense wat na ons as stommerike verwys. Vrae maalkolk deur my moeë brein ...

In alles is daar wysheid, maar alles het nie wysheid nie. 'n Mossie het mossie-wysheid, maar hy het nie die wysheid van 'n arend nie. Elkeen het die potensiaal om jou te hê, maar kla en ontevredenheid is nie is nie vriende van wysheid nie. En die meeste van ons is uitstekende klaers. Ons is ontevrede oor alles. Niks is volgens ons nukke en grille nie. 

Ouer mense sit met 'n klomp wysheid, maar ons wil nie daarna luister nie - ons noem dit oumenspraatjies - en ons is tog mos jonk en modern. Hierdie is die vrae wat deur my kop maal en wat ek nie durf waag om my maats te vra nie - hulle sal dink dat ek iewers 'n skroef los het.

Ek kom agter dat wysheid nie meer so logies deel is van mense nie. Met jou nie deel van die mensdom nie, kan baie min hul eie probleme oplos. Probleme word net al meer, maar ook al minder oplosbaar. Het die mensdom die insig om met wysheid na 'n probleem te kyk, verloor?

Die wêreld is sonder 'n boekmerk. Die melancholiese eentonigheid van 'n wêreld sonder jou is duidelik sigbaar. Jy is belangrik in ons lewe. Ons hoop maar dat ons ook belangrik is in joune ... Maar waar is jy?

Die wêreld is sonder insig en eentonig kleurloos. Mense weet niks nie. Hulle ploeter voort sonder 'n rots waarop hul kan staan. Hulle is 'n ankerlose bootjies in die suidewind van die lewe. 

Depressief is die wêreld waarbinne ek staan. 'n Wêreld waar elkeen jou nie wil hê as metgesel nie. Baie is bang vir jou ... bang vir die waarheid, bang om hierdie wêreld se ballades in die oë te kyk. 

Die wêreld is bittersoet vir hulle wat nou daarin leef. Elkeen sien die soet raak, maar soet is nie die waarheid nie ...        

Rosetta se goeie wense:


Mag jy vandag glo dat
jy Sy wysheid in jou het,
dat Sy moed in jou hart
gegraveer is en
dat die hoop wat Hy bring,
ook jóú deel is.

Tuesday, 4 June 2024

Ruben se eksamenbekommernisse


Liewe Maats

Ek moet bieg, ek moes al twee dae terug hierdie brief vir julle geskryf het, maar ek het net te koud gekry. Dit was asof alles net vasgevries het. Ek begin sommer my brief met hierdie afgelope naweekswakte van my, want koue is nie 'n verskoning om nie jou werk te doen nie. Ek het mos al vir julle gesê dat 'n mens altyd jou beste moet gee en hier val ek sowaar uit die bus uit. Ek is diep teleurgesteld in myself.

Die ander groot teleurstelling vir my is dat julle my nie aangespreek het nie. Ons het dan saam besluit ons gaan mekaar ondersteun en altyd daar wees vir mekaar. Julle het my lelik gedrop en nou is ek in die sop.  

Ek gaan nie 'n lang briefie skryf nie, want dit is eksamentyd. Gedurende eksamentyd moet 'n mens gefokus wees en bly. Daarom herinner ek julle aan die belangrikheid van leer, goeie punte en om die tyd uit te koop. ('skuus, nou klink ek net soos een van julle onderwysers of een van ons hartsma's). Maar hierdie eksamen lê vir my baie na aan my hart - dis ons halfjaareksamen en hierdie eksamen gaan vir elkeen van ons 'n riglyn gee vir ons studiepad vorentoe. 

Hierdie eksamen kan met die halfeindrondte in rugby vergelyk word. Daar gaan beserings in hierdie wedstryd wees en daar gaan 'n paar mooi drieë gedruk word. Ons weet ook dat die afrigters en die keurders langs die veld gaan staan en ons met valkoë gaan dophou vir die eindstryd wat in November plaasvind. Almal kan nie speel nie, party moet op die bank sit en kyk hoe ander speel. Moenie dat enige van ons spanlede onkant gevang word nie. Ons gaan almal in die eindstryd speel en om dit reg te kry, moet ons ekstra studietyd insit of soos my oupa altyd gesê het: "Ruben, jy moet skouer aan die wiel sit."

Kom praat met my na die eksamen - ek het 'n plannetjie wat ek in die mou voer, maar ek gaan nou niks sê nie. Ek gaan vir julle wag om my hieraan te herinner. (Julle weet natuurlik dat ek julle toets ...?)     

Ruben-groete tot 'n volgende keer.




Wat doen JY Vrydagaand, 7 Junie?

Jy kan die Kimberley-koue by die Skuurdans wegdans, terwyl jy jou hand diep in jou dankbaarheidsak druk en die poging van Mnr. en Mej. Diamantveld-finaliste ondersteun.

Alle fondse ten bate van CHOC en Christina Kiddie Kindersentrum!
WAAR? QUICKET vir vinnige veilige moeitelose diens
Klik HIER vir die skakel!
OF
Vrydagaand by die deure 

Dinsdaggedagtes van Katelyn Marais

Monday, 3 June 2024

Dankie, aan elkeen wat sover bygedra het!!


Wen saam met Dirk en Tinike!


Inskrywingsgeld:
* Inkleurboek en kryte
* Showergel/Shampoo/Deodorant
* Tandepasta en tandeborsel
* Enige toiletware
* 5 pakkies 2 min Noedels
* Boksie kitssop

Alle fondse ten bate van CHOC en Christina Kiddie Kindersentrum! 

Maandagmotivering

Is jy 'n luislang, leeu of arend - watter soort tiener is jy?

Die volgende idees kom uit werk van André Diederichs

Jou gedagtes word jou woorde, daarna jou gewoontes en uiteindelik jou bestemming. Moet dus nie negatiewe denke toelaat wat jou potensiaal beperk nie.

Besluit of jy 'n luislang, leeu of arend is. Jou visie is jou geestesprent van jou toekoms. Jy moet vlerke by jou drome voeg en net soos 'n arend sweef om jou doel te bereik.

Dink soos 'n arend, wat geen perke of grense ken nie. 'n Noord-Amerikaanse Indiaan het vertel van 'n swak arendkuikentjie wat gereeld geboelie is deur sy sterker boetie om self meer kos te kry. Toe word hy uit die nes geskop en beland tussen die patryse. Hy word hier groot, want dis al ma wat hy geken het.

Op 'n dag stap hulle in die veld en daar sien die arend 'n ander arend in die lug sweef. Hy vra toe vir die patrys langs hom: "Wie is daardie ongelooflike voël?" Waarop die patrys antwoord: "Dis die arend, die koning van al die voëls. Maar vergeet daarvan, want jy is 'n patrys en sal nooit 'n arend wees nie."

Die lewensles van die storie is dat die arend as 'n arend gebore is, maar dat hy gekondisioneer is om te glo hy was 'n patrys.

[Marlene Malan, "Waak teen negatiese gedagtes.", Die Burger, 8 Oktober, FAT 7/11: Vraestel 1] 

Sunday, 2 June 2024

Gedig: My ma is mos aan tik verslaaf

"My ma is mos aan tik verslaaf, Juffrou
Sy't my en my klein broertjie gelos, Juffrou
En weggeloop
Ek moes my broertjie oppas
en toe kon ek nie skool toe kom nie, Juffrou
Hy gaan nog nie skool toe nie
en daar was niemand om 'n brief te skryf nie
Ja, sy kom soms huis toe: dan steel sy ons goed
Nee, Juffrou: ons is eintlik beter af van sy weg is."

Ek kyk na jou en kan nie glo jy lyk so normaal nie
dat dit nie bloei uit jou blou oë nie
dat dit nie jou jong vel laat afskilfer nie

Marianne Ross

[Bron: Klasgids 45:3 Augustus 2010 bl. 59 - klik HIER vir die jongste Klasgids]

Saturday, 1 June 2024

Terugflits: Hoekom vol seerkry?

As daar een vraag is waarop ek geen antwoord het nie, is dit dié van 'n vader en moeder oor hoekom hul kinders gekies het om 'n sekere pad te loop. Daardie vraag is maar soms 'n seer en bitter vraag.

So begin ek eenkeer met 'n ma gesels en haar heel eerste sin is: "Ek verstaan nie hoekom het hy daardie pad gevat nie."

Ons sou daarna baie gesels en baie wonder, baie spekuleer, dinge ontleed en analiseer, maar keer op keer moes ons erken dat ons nie die antwoord hierop gehad het nie. Ons kon nie verstaan dat 'n kind wat so mooi geleer het van die pad waarop hy moes loop, so anders gekies het nie.

Dit was vir ons onverklaarbaar dat iemand wat die ander weë ken, juis doelbewus daarteen geprotesteer het. Nie omdat pa of ma kwaai was nie, nie omdat daar 'n tekort aan iets was nie, nie omdat iemand of iets die skuld kon kry nie. Doodgewoon omdat hy gekies het om op die pad te loop.

Wat die hartseer in so 'n geval vererger, is wanneer ouers hul kinders teen die verkeerde pad en die slegte keuses gewaarsku het.

Wanneer die gevolge van die verkeerde keuse uitgespeel het, moet 'n mens maar oor begin. Sommige kies daarna reg, ander kies om weer dieselfde pad te loop.

Die ma wat bogenoemde openingswoorde so gesug het, was al moedeloos. Vir 'n hoeveelste keer moes ek haar oplaai, en met hom 'n gesprek probeer voer. Sy antwoord was egter altyd: "Dit is my keuse."

Toe ek die dag sy begrafnisdiens lei, ná sy dood weens 'n oordosis dwelms, het ek aan sy woorde gedink: "Dit is my keuse."

Ek het ook gedink aan sy ma se woorde: "Ek verstaan nie hoekom my kind hierdie pad gevat het nie." 

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]