Wednesday, 15 October 2025

Oor drie dae is die vonkels terug!

Elijah is 'n besige 9-jarige seuntjie met 'n pragtige spontane glimlag en ogies vol vonkels.
 
Onlangs het hy ongelukkig in 'n slaperige kindjie verander wat gedurig met baie hoë koors gesukkel het. Die ander kinders en baie grootmense het vir Elijah gebid - ook sy Juffrou Suzaan en gr. 3-klasmaats. 

Dokters en pediaters het kop gekrap, want hulle medisyne het nie vir lank gehelp nie. Elijah het selfs 'n draai by die tandarts gemaak en 'n tand is getrek. Maar pure verniet. Ons bekommernis het by die dag meer geword soos wat sy energie minder en minder geword het. 

Elijah is 'n baie brawe seuntjie en het van Vrydag af in die hospitaal gebly dat die dokters toetse kon doen om vas te stel wat die oorsaak van sy koors is.

Ons het vandag die goeie nuus gekry dat dit die infeksie aan die een kant van sy gesiggie is wat ook 'n drukking aan die ander kant van sy gesiggie veroorsaak. Dokter sê Elijah behoort na 3 dae van antibiotika weer perdfris en gesond te wees. Ons almal is verheug oor die goeie nuus. Ons huisfamilie het die spontane vriendelike seuntjie gemis en almal het gedurende die dag maar so 'n vinnige skietgebedjie na bo opgestuur as hulle aan Elijah dink of hom mis.

Met hierdie goeie nuus wat ons vandag van die dokter gekry het, beteken dit dat Elijah op 21 Oktober sy 10de verjaardag sal kan vier, saam met Tommie wat dan 'n volle een jaar oud gaan wees. In ons geestesoog kan ons al klaar die twee sien hardloop, spring en baljaar.

Baie, baie dankie vir Tannie Dorah Fredericks wat by Elijah in die hospitaal bly en slaap, en vir Tannie Mpho McGuire wat haar gaan aflos. Julle is Elijah se hospitaalengele wat sy hospitaalbang-hart sommer sterk laat klop.

Dankie ook vir al die dokters se omgeeharte en baie moeite - drs Marli Scheepers, Louise Hattingh, Stacey Preece, Anneri en al die ander spesialiste wie se name ons ongelukkig nie ken nie. Ons voel gerus en weet dat ons in omgeehande is.

Foto: Christelle Hattingh

No comments:

Post a Comment