Saturday 5 October 2024

Ruben dink aan sy kinderjare en waardeer sy oudonderwysers


Liewe Maats

Die laaste kwartaal van 2024 is reeds 'n week oud. Nou stoomroller die jaar einde se kant toe en oor minder as 8 weke is julle klaar met eksamen en is die skrif aan die muur en die punte op die rapporte!

En terwyl ons nou op die onderwerp van skool en rapporte is, ek hoop nie julle het vergeet dat dit vandag Wêreld-Onderwysersdag is nie. Ek hoop julle het Vrydag vir elke juffrou 'n dankiedrukkie gegee. Hulle doen soveel moeite, help ons, ondersteun ons en bid vir ons. By die skool is die onderwysers mos ons ouers. 

Ek in die laerskool
En eintlik is die enigste manier hoe ons regtig vir hulle kan dankie sê, is om ons huiswerk gereeld te doen, hard te leer vir ons toetse en vir die eksamen en op te let in die klas, sonder om te praat of erger nog, terug te praat.

Het julle al mooi daaroor nagedink - onderwysers is ons kinders se toekoms. Hulle maak ons gereed vir die wêreld daar buite. Baie dankie aan al die onderwysers vir jul liefde, wysheid en toewyding vir die kinders van ons land.

Ek wil graag vir my oudonderwysers in Petrusburg uit my hart uit dankie sê dat julle ons geleer het om selfstandig te dink en te handel. Dat omgee, naasteliefde en dissipline drie woorde is wat sommer in een sin gebruik kan word. Dankie vir al die ekstra klasse oor naweke toe ons vir ons belangrikste eksamen voorberei het. Vandag kan ek met trots my matrieksertifikaat vir enige werkgewer wys, want daar is nie een skaamkrypunt op daardie rapport nie.  

Dan wil ek sommer ook vir tannie Christelle dankie sê dat sy deur harde werk en daadwerklike handeling vir ons 'n voorbeeld stel. Tannie Christelle het 330 koekies in die laat ure van die aand gebak en met liefde verpak, kaartjies gemaak en geknip - amper 'n week lank - ek weet, want ek wou nie gaan slaap het, voordat tannie Christelle nie klaar was nie. Volg hierdie voorbeeld na, ook as julle die ouers van kinders is - ons leer waardevolle dankielesse!!!
 
Terug by die eksamen - daar is geen tyd meer oor om te speel nie, behalwe ... miskien ... dalk ... moontlik ... op 'n Saterdagmiddag. Maar dit gaan die uitsondering wees.

Ons moet nou handevat en mekaar help. Ons wat in dieselfde graad is, moet vir mekaar die werk verduidelik of beter nog, as jy klaar geleer het, vra jy vir jou maat vrae om te toets of hy sy werk ken. Ek onthou so goed dat ek en my suster vir mekaar vrae gevra het om te kyk of die ander een werklik geleer het. Sy het altyd vir my die moeilikste vrae gevra en as ek die derde vraag verkeerd geantwoord het, het my ma na my kant toe geblaf dat ek my werk ordentlik moet gaan leer, want ek mors almal in die huis se tyd. 

My (slim) suster
Ai, julle, dan het ek maar my boeke gevat en ekstra hard geleer. Twee dinge het vir my gehelp om die feite van die leervakke te onthou: Ek het die werk hardop gelees, sodat ek meer gefokus kon bly en die ander belangrike hulpmiddel was opsommings - ek het my werk goed opgesom in Blaffiaans en dan het ek op en af in die gang geloop en dit hardop gelees. As ek te lank op een plek stilgesit het, het ek sulke lang gape gegee en as ek my kom kry, was ek vas aan die slaap - en in groot moeilikheid. 

As ek hierdie twee riglyne gevolg het, kon my suster my nie uitvang met enige van haar moeilike vrae nie. En dan knik my ma haar kop goedkeurend en vra vir my hoekom het ek nie in die eerste plek ordentlik geleer nie, maar ai julle outjies, julle weet self dat 'n hond maar altyd kort pad wil vat en altyd
My (streng) ma
hoop vir die beste. My ma het altyd na ons huiswerk gekyk en gesorg dat ons altyd ons skryfwerk en leerwerk goed doen. Vir haar was 'n matrieksertifikaat belangriker as kos. Wat jy daarna gaan studeer, was vir jou eie rekening.  

Ek dink spesiaal aan julle met hierdie uiters kort kwartaal - mag dit net goedgaan. Druk gerus op my knoppie as ek julle kan help. My ma stuur groete en sê dat 'n goeie sessie swoeg en sweet nog niemand skade gedoen het nie.

Ruben-groete tot 'n volgende keer.

No comments:

Post a Comment