Ek het regtig baie lank terug vir julle geskryf. Ek voel skoon skuldig, maar met al my verpligtinge hier op die terrein en die eindeksamen, het ek werklik my pote volgehad met ongesiene toesig en natuurlik veiligheidswerk.
Gelukkig kan ek darem rapporteer dat ons almal kan asemhaal na 'n spanningsvolle en vinnige vierde kwartaal en dat ons nou net kan vakansie hou.
Ek was Donderdag so opgewonde dat jy met my kan toor. My rede was die blou swembad, voor die hoof se kantoor. Die een wat toegegrendel is en waaroor 'n mens nie eens kan klim vir 'n vinnige afkoelswem nie. Ek hou hierdie swembad al 'n hele klompie maande dop en wonder hoe dit sal voel om my pote nat te maak. Maar ek het nog nooit die geleentheid gekry nie. As die kinders swem, is ek gewoonlik op hekdiens en dan hoor ek net hoe almal gil en jil en ek wonder of ek ook só plesierig sal voel.
Wel, Donderdag, die 12e, was my kalenderkringetjiedag! Tannie Christelle het besluit dat ek saam met die kinders kan speel, baljaar en swem. Ek dink die hittegolf het die swembad se hek oopgedwing en onder die wakende oog van ons ma, kon ek nie wag om in te spring nie. En daar moet ek tot my bittere skande uitvind dat ek effens versigtig vir die water is. Ek kan nie spontaan swem soos wat ek verwag het nie.
Miskien het dit iets met my grootwordjare te doen. Julle moet weet ek kom van Petrusburg se omgewing en het my verstand in die dorre Noord-Kaap gekry. Dit beteken water is nie iets waarmee of waarin jy speel nie. Dit is kosbaarder as korale in hierdie droë areas. En dan moet ek verder bieg: Die veearts het vir Tannie Christelle gesê ek doen duidelik te min oefeninge en as ek volgende keer vir my verpligte besoek by haar 'n draai maak, wil sy 'n verskil op die skaal sien. My veerkragtigheid waarmee ek laas somer so kon spog, het hierdie somer verander in 'n hoop minder beweeglike spiere. En treetjie vir treetjie is ek die swembad in - my verskoning - ek wil nie golwe in die water maak terwyl die kleintjies so lekker baljaar nie. Ek het my eerste draaie in die koel blou waters gemaak, maar dit het nie die bekoring ingehou wat ek verwag het nie. Ek het gedink ek sal soos Eno's borrel en bruis, maar helaas was ek eintlik 'n besadigde Ruben wat net sy lyf so effens natgemaak het. Net daar op die swembadtrappie het ek besluit om minder onder die koeltebome te lê, minder draaie by die kombuis te maak, terwyl ek so uitbundig vir die personeel knipoog en my stert swaai en met groter ywer my patrolliewerk te doen - dubbeld die hoeveelheid, want dit gaan sommer ook nou my fiksheidsoefeninge wees. Fiksheid van been, kan dalk net my swempogings verbeter.
Ek het gelukkig 'n video waarop my historiese wateroomblik vasgevang is. Ek gaan dit nie op FB sit nie. As 'n lewenscoach is ek voortdurend op soek na temas waaroor ek met die jongmense kan praat en as ek self 'n VOOR- en 'n NA-ervaring het, kan ek mos uit ondervinding praat. Ek gaan die video volgende jaar vir julle wys, want Donderdag was wel my eerste swem, maar nie my laaste swem nie.
Die kringetjie op my kalender is om te herinner aan my opgewondenheid, my intense teleurstelling en my vasberade voorneme dat swem my nie gaan wen nie. Ek sal julle op hoogte hou van my vordering.
Ek groet tot volgende week, wanneer ek my breë-bors-nuus met julle gaan deel. En daarvan het ek heelwat foto's. Raai gerus! Ons praat weer.
Ruben-groete!
No comments:
Post a Comment