Friday, 18 October 2024

Ruben dink terug aan sy matriekjaar en gee padlangs raad vir die graad 12's


Liewe Maats en al my graad 12-vriende

Ek het besluit om my goeie wense vandag, julle amptelike laaste dag by die skool, oor te dra. Ek het 'n paar van julle raakgeloop in julle getekende hemde en groot smiles. By 'n paar het ek stilgestaan, my stert geswaai en 'n paar lekker uitbundige blawwe gegee sodat julle weet ek dink aan julle. Ek verstaan julle gesplete gevoelens op hierdie stadium. Julle is só bly en opgewonde, want amptelik is skool iets van die verlede - vir altyd, maar die oomblik as julle aan Maandag se twee vraestelle dink is julle aan die eenkant bly dat dit nie wiskunde is nie en aan die anderkant is 6 ure se vraestelle 'n dodelike sit wat bepaald in die nie-eksamen-fiks-gebeentes gaan inklim.

Op 'n ernstiger noot - die jaar is verby, nog net die laaste hekkie van julle graad 12-wedloop en dan is julle in die pylvak. 15 Januarie word die lint gebreek as julle uitslae bekend gemaak word. Dan is dit jy en die grootmenswêreld daar buite.

Ek kan nie help om aan my matriekjaar terug te dink nie. My matriekjaar was vir my 'n heerlike ondervinding. Ek het geleer om baie leerwerk in 'n kort rukkie baas te raak, goed op te let in die klas - die enigste rede was dat my leerwerk by die huis dan die helfte minder was. Ons was so baie kinders by die huis en ons moes elke dag ons kant bring - tuinwerk, gras sny, hout kap, ens. Teen die aand as alles rustig geword het, was die tyd vir huiswerk relatief min - ons almal moes om die kombuistafel sit met die kers in die middel van die tafel onder ma se wakende oog aan die onderpunt van die tafel. En as jy nou vir ma die bont hond wou inmaak, moes jy onderlangs knor of blaf.
Ek het by die skool geleer om leiding te neem by die ACSV en die skaakklasse en al hierdie ondervindings en vaardighede wat ek geleer het, het ek my eie gemaak en in my hart gebêre vir later. Ai, Maats, by die huis kon ek nie waag om leiding te probeer neem nie, my twee ouer broers het my dadelik met die grond gelyk gemaak en dan het Maggie, my ousus - my g r o o t ousus - sommer die vloer met my gevee. Met my eerste werk kon ek nog naweke by my ma-hulle gaan kuier, want ek het net tydelik by tannie Ethel, die afgetrede kostertannie gaan bly. Daar het ek besef hoe goed my onderwysers my vir die toekoms voorberei het.   

Weet julle wat vir my ironies is? Hierdie tyd van die jaar is niemand meer lus vir leer nie. Ons is opgeleer en al die ekstra klasse het die laaste druppel energie uit jou lyf getap. En nou moet jy die belangrikste eksamen van jou lewe aanpak. Jy voel amper asof jy op outomaties is: reageer soos van jou verwag word sonder om te dink. Om te voel of jy alles wat jy klaar geleer het, vergeet het, is normaal. Om te voel asof die eksamen nooit gaan begin of ophou nie, is ook normaal. Om te voel asof almal en alles jou irriteer (veral by die huis), is beslis ook normaal. (Veral as ma kort-kort oor jou skouer loer om te sien of jy nog steeds op dieselfde bladsy sit. Ek het baie later eers besef dis ma-liefde, 'Skuus, Ma.) Hou net kop, bly gefokus en moenie iemand se kop afbyt nie. Dit verg selfdissipline.

Die einde is in sig, en al waaraan jy op die stadium wil dink, is wat alles volgende jaar voorlê. Exciting dinge! Nie boring goed soos bepaal x as y ..., of skryf ‘n opstel oor sinvolle kommunikasie in die hedendaagse families nie.

Om gespanne te voel is normaal. Matriek is 'n jaar vol spanningsfaktore en aan die einde van die jaar kan dit nogal oorweldigend raak. Praat met iemand wat jy kan vertrou. Klou aan jou drome vas, moenie dat spanning, stres en huiskonflik jou droom steel nie. Jy is amper by die wenpaal.

Wat moet jy nou doen?

Gaan sit en leer ... gaan skryf ... rus ... ontspan en begin weer leer. Herhaal hierdie roetine vir die volgende 4 weke. Jy sal oorleef ... ek het!!

Spesiale Ruben-groete!


No comments:

Post a Comment