Friday, 13 June 2025

Ruben se Junie-jeugboodskap vanuit 'n koue Kimberley


Liewe Maats

Ek skryf hierdie briefie uit 'n baie koue Kimberley. Die temperature het die laaste paar dae drasties geval en ek het so in my enigheid gehoop dat dit hier by ons sou sneeu. Dan was al die gebibber en gebeef die moeite werd en kon ons met foto's van sneeumanne en sneeuballe by julle spog. Maar op hierdie stadium is daar geen glansryke foto's van my en Tommie nie. Ons twee kruip saans met ons teddies styf teenaan ons in die bed vir 'n bietjie teddiehitte. Bedags as die sonnetjie floutjies agter die horison uitkruip, dan is ons egter gereed vir die dag se take. Ons draf so 'n paar keer op en af langs die heining, blaf uit volle bors vir die verkluimde voetgangers en as jy jou oë uitvee, lyk ons nie meer soos twee Koue Bokkeveld vierpotiges nie.  

Kom ek begin by gister se klein kringetjie vergadering (KKV) wat Tommie ongenooid bygewoon het. Maats, julle weet mos sekuriteit is my afdeling en Tommie is my ekstra paar oë en ore. Dit blyk dat dié klompie 'n verrassingsverjaardagpiekniek vir een van hulle maats beplan. Almal kon sinvolle kommentaar op die voorstelle lewer. Tommie se bek werk vinniger as sy brein, gevolglik blaf hy eers en dan dink hy. Hy blaf in geen onduidelike taal dat dit
'n doodgebore idee is. Die koue saam met die aktiewe westewind, is piekniek langs die swembad nie in die winter haalbaar nie. Hy is egter sy blaf belet, gevolglik het hy in stilte verder na die sinlose voorstelle geluister. 

Die klompie het toe besluit om oor die voorstel te gaan slaap en die volgende dag terug te kom. Ek weet nie of Tommie toegelaat sal word om die volgende KKV by te woon nie.

Terwyl ek nou so flink aan die skryf is, gaan ek sommer met julle my gedagtes oor Vadersdag en Jeugdag deel. Dié twee dae lê my naby aan die hart. Eintlik is dit die ironie wat hierdie twee dae verteenwoordig, wat 'n yslike bekommernis vir my is en ek wonder ook of hierdie twee dae vir julle dinkdae is en of die betekenis van dié spesifieke dae by julle verbygaan.

Dit is ‘n mooi gedagte om een spesifieke dag te gebruik om spesiaal vir pa's dankie te sê vir al hul liefde en opofferings deur die jaar vir ons. Maar my gevoel is dat elke dag eintlik Vadersdag behoort te wees. Ons moet elke dag vir ons pa's dankie sê vir alles wat hulle vir ons doen. Hulle is nie net daar om 'n salaristjek huis toe te bring en in die gesin se finansiële behoeftes te voorsien nie. Hulle het 'n belangriker doel - hulle verteenwoordig die Hemelse Vader hier op aarde. 
Ek en pa - jare terug op Petrusburg

Dit is egter net hier wat al my hare op my rug orent staan. As ons een vir een in die eetsaal moet opstaan en sê wat ons van ons pa's weet, gehoor het, ervaar het of waardeer, hoeveel van ons kan dit met vreugde doen?

Ons almal kan boekdele vol skryf oor afwesige pa's. Pa's wat nie omgee of daar vanaand kos op die tafel is en of ons skoolgeld betaal word nie. Pa's wat nie vir ons gelukwens met ons verjaardae nie en pa's wat naweke saam met sy pêlle by die kuierplekke rondhang omdat die verantwoordelikheid van pa-wees lankal vir hulle geskiedenis geword het. Outjies, niks wat ek sê kan of gaan julle situasie verbeter nie, maar onthou dit: Leer uit jou pa se foute, maar die heel belangrikste is - wees jý 'n beter pa vir jou kinders as wat jou pa vir jou is. En meisies, kies vir julle eendag 'n lewensmaat wat in alle opsigte 'n goeie pa vir sy kinders sal wees - dit is my hartswens vir elkeen van julle hierdie Vadersdag. Ons kyk vorentoe en nie agtertoe nie, want dis nie waarheen ons op pad is nie. 

Pa en Tommie in 2024
En vir julle wat 'n prima-pa het: bederf hom, waardeer hom, leer van hom en koester hom, want hy is een uit 'n miljoen. Loop in sy voetspore en volg sy voorbeeld. 

Dit bring my by Jeugdag ... 'n dag wat so belangrik is, dat dit 'n nasionale vakansiedag is. Hoe belangrik is Jeugdag vir jou? Dink jy oor die jeug, jou eie jeug en oor jou toekoms? 

Ek wil regtig nie soos my ouma Annie van Petrusburg klink nie, maar as ek elke aand die nuus kyk, verstaan ek hoekom sy met elke foonoproep vir my en Tommie preek. Die nuus oor ons jeug skok my tot in my kleintoontjie. Bendegeweld, dwelms, misdaad en opstande is aan die orde van die dag. Jeugdag is vir my die dag waarop ons as Suid-Afrika ons toekoms vier. Maar hoe kan ons ons toekoms vier as ons klaar verkeerde keuses gemaak het?

My Kiddie-maats, onthou altyd: 'n mens kry elke dag keuses om te maak tussen reg en verkeerd. Tussen lig en donker. Tussen lewe en dood. Moenie hierdie kans om die regte keuse te maak, verbrou nie. En as jy sukkel met jou keuses, kom maak 'n draai by my of Tommie, tannie Christelle of jou huisma. 

Ons hartsbegeerte vir elkeen van julle is om doelgerig verantwoordelikheid te neem vir jou toekoms. Wees vasberade dat die verkeerde besluite wat jou pa gemaak het, nie jou keuse gaan wees nie. Onthou, daar is GEEN beperking op wat jy kan bereik nie.

Maats, op hierdie noot van hoop en moontlikhede, wil ek vir julle 'n heerlike jeugdag toewens! 

Warm groete tot 'n volgende keer!
Ruben

 
 

2 comments:

  1. Ruben, jy skryf so 'n mooi boodskap. Ek hoop al die maats hoor wat jy sê. As dit nou só koud is in Kimberley, moet jy en Tommie met julle teddies maar tannie Christelle se rug en voete warm broei - dit sal haar hartjie ook warm maak.

    ReplyDelete
  2. Sommer baie dankie, Anoniem, vir hierdie wenvoorstel. Ek gaan dit dadelik vir tannie Christelle wys. Vreugde vir jou langnaweek en dankie vir jou barometerterugvoer. Ek waardeer dit!!

    ReplyDelete