Thursday, 19 June 2025

Ruben se een minuut storie: Olifante gee hulle vryheid prys


'n  Man stap eendag verby ‘n trop olifante wat vasgebind staan. Hy stop skielik en is verbaas dat hierdie enorme diere deur so ‘n dun tou aan die voorpoot vasgehou kan word. Daar is geen kettings, geen hokke nie, behalwe die dun tou aan die voorpoot en ‘n pen in die grond.

Dit was duidelik dat die olifante, indien hulle wou, maklik kon losbreek van die tou wat hul vashou, maar om een of ander duistere rede, het hulle nie losgebreek nie.

Ek is verbaas oor die hele situasie en vra vir een van die olifant-afrigters wat daar naby staan hoekom die olifante geen poging aanwend om los te breek van die toue nie.

“Wel” sê die afrigter, “toe hulle baie jonk en heelwat kleiner was, het ons presies dieselfde dikte tou gebruik as nou en dit was voldoende om hulle so vas te hou dat hulle nie kon losbreek nie. Soos wat hul groter geword het, was hulle so gekondisioneer dat hulle nog steeds glo dat hulle nie kan losbreek nie. Hulle glo die tou kan hulle steeds vashou en daarom probeer hulle nie eens meer om los te breek nie.”

Die man was verstom. Hierdie diere kan enige oomblik loskom van die bande wat hulle vashou, maar omdat hulle glo hulle kan nie, is hulle presies waar hulle nou is.

Maats, soos die olifante, gaan ons deur die lewe en glo ons dat ons sekere goed nie kan doen nie, slegs omdat ons eenkeer onsuksesvol was toe ons dit probeer het.

Soms het die toue vir ons ‘n verskoning geword sodat ons nie weer hoef te probeer nie en ons skuil agter die verskoning van die toue om onsself nie bloot te stel aan moontlike mislukking nie.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Mislukking is deel van leer. 
* Moenie mislukking as 'n gerieflike verskoning gebruik om nie iets te wil doen nie.
* Jy misluk nie omdat jy bestem is om te misluk nie, maar daar is lesse wat jy nodig het om te leer om aan te gaan in die lewe.

No comments:

Post a Comment