Thursday, 26 June 2025

Drie minute dinkstorie: Liefde maak ‘n verskil


Maats, ek het hierdie verhaal van ’n Kapenaar raakgelees en dit het my weereens die waarde van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding laat besef. Ons daaglikse optrede maak 'n verskil. Ek deel dit graag met julle.

Sabina was elke dag laat vir skool. Soms het sy eers rondom 10:30 by die skool opgedaag.
Haar huiswerk was meestal nie gedoen nie, haar boeke was slordig en syself was geen prentjie van netheid nie. In die klas was sy die een wat oproerigheid veroorsaak het. Die onderwysers het mettertyd begin moed verloor dat sy ooit sal verander. Ná nog ’n hewige oproerig in die klas, het die onderwysers saamgespan en die skoolhoof versoek om Sabina uit die skool te skors. Daar was immers 30 ander klasmaats wat in aanmerking geneem moes word.

Wat hulle egter nie geweet het nie, was dat Sabina se ouers albei alkoholiste was. Wanneer
sy smiddae by die huis aangekom het, was hulle beide reeds dronk. Tussendeur die
konstante rusie in die huisgesin, sou haar pa, wanneer sy wel probeer het om huiswerk te
doen, haar skoolboeke opskeur of in die toilet afspoel. Sabina vertel dat haar toekoms so
donker soos haar hede gelyk het waarvan sy nie kon ontsnap nie.

In stede van ’n skorsing, het die skoolhoof besluit om ’n uitdaging aan Sabina se
onderwysers te gee: Vir een week lank moes hulle alles in hulle vermoë doen om
onvoorwaardelike liefde aan haar te betoon. Die skelwoorde moes plek maak vir woorde
wat motiveer, opbou en inspireer. Hulle moes daarna streef om ’n veilige omgewing vir haar te skep
en haar te laat voel asof hulle haar onvoorwaardelik aanvaar - ten spyte van haar optrede.
 
Dit het na ’n onmoontlike taak geklink. Tog het die onderwysers ingestem om dit vir een
week lank te doen.

Groot was die verrassing toe daar reeds binne ’n paar dae met hulle veranderende houding
teenoor Sabina, ook ’n verandering in haar optrede gemerk kon word.
 
Nie net het sy al vroeër begin skool toe kom nie, haar huiswerk was vir die eerste keer in
maande op datum en soos die een week-uitdaging in weke verander het, het die
onderwysers verstom gestaan oor hoe Sabina van ’n rebel in die klas in ’n presteerder
verander het.

Vandag is Sabina gelukkig getroud en ’n ma van ’n klein seuntjie. Sy het ook ’n suksesvolle
besigheid wat internasionaal sake doen. Wat het die verandering gebring?
 
Onvoorwaardelike liefde en aanvaarding.

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Dat ons die ekstra myl onvoorwaardelik moet loop.
* Dat my optrede teenoor mense wat my pad kruis, ongelooflik belangrik is.
* Dat ek nie net vriendelik is teenoor mense wat met my vriendelik is nie, maar dat ek ook die boelies, die ongeskiktes en die wat lewensmoeg is, met dieselfde gesindheid sal benader as my beste vriende.
* Besef jy dat God ons elkeen ook onvoorwaardelik liefhet en dat Hy, terwyl ons nog vol
sonde was, sy Seun vir ons gestuur het? In Romeine 5:8 lees ons: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

No comments:

Post a Comment