My ouers konfronteer my daagliks. Ek klem my lippe saam in daardie nagemaakte glimlag waarvan hulle nou reeds leer hou het, en wag vir die spervuur van ondervraging. "En wat is sy naam?' "Wat doen sy ouers?" "Wat is sy identiteitsnommer?" Verreweg my gunstelingvraag is: "Hoe laat is hy gebore." Dis geen oordrywing nie, hoor! My ma is 'n leerling-astroloog; sy beskou dit as haar verantwoordelikheid om in die lewens van vreemdelinge rond te grawe. Voor sy nog sy adres ken, weet sy alles omtrent sy familiegeskiedenis. Ja, ek het 'n snaakse gesin Nie juis die soort snaaks wat jou laat lag nie, maar eerder vinger-in-die-keel-steek-snaaks.
My ouers se sadistiese denke het hulle laat besluit dat ek eensaam sou wees in my eie kamer, toe gun hulle my die plesier om dit met my sustertjie te deel. Hoe bevoorreg was ek om deur puberteit te gaan in die geselskap van 'n laerskoolkleintjie.
'n Kêrel in my kamer is 'n doodsonde. Dink my ouers miskien ek sal saam met 'n seun tussen my suster se opgestopte diere en prenteboeke wil kuier?
Sarkasme is 'n effektiewe masker vir my. Die gevolg is dat jy my selde sal kry waar ek tuis saam met my gesin kuier. Ek verset my teen intieme geselsies soos: "Ons-raak-so-verwyderd-van-mekaar."
Maar volgende maand trek ek in my eie kamer in. Triomf. Eindelik kan ek my innerlike probleme en sarkasme in 'n meer produktiewe rigting probeer stuur.
Kloustrofobie ... Xenofobie ... Wat is dit waarvoor ek bang is? Daar is nie tyd vir introspeksie nie, want elke keer wanneer ek myself probeer verstaan, doen 'n volwasse ondervraer dit reeds vir my. Miskien moet ek tog my ouers gaan vra hieromtrent. Ja, ek is seker hulle sal die antwoord hê.
So moenie my vra nie: dis maar net my lewe.
[A Milner, Op met die af roltrap, samest. Linda Rode en Hans Bodenstein, Uitgewer, 2000: FAT 7/11,Vraestel 2, letterkunde]