Sunday 19 May 2024

Terugflits: Geniet dit om te lééf

Hoe skryf ek 'n Twyfelhoekie ná só 'n week?

Kyk, in 'n nuwe werksomgewing van my het die week beproewing op ons losgesak wat 'n mens nie vir jouself beplan of vooruit op jou dagboek inskryf nie.

Ek het die voorreg om by onderwysontwikkeling betrokke te wees. Dit behels dat ons 'n onderwysersnetwerk oor die land vestig van onderwysers wat ondersteuning en advies nodig het.

Daarmee saam is ek uitvoerende hoof van die Gereformeerde Skool Dirk Postma. Die skool se 353 leerlinge kom uit Gereformeerde Kerk-ouerhuise wat glo dit is nie die staat se verantwoordelikheid om jou kinders op te voed nie, maar dat jy dit self moet doen.

Maar die week begin toe agterstevoor en onderstebo - 'n 12-jarige seun (lees seuntjie) in ons skool is aan selfdood dood.

'n Hele skool en 'n hele gemeenskap staan verdwaas en verslae.

So 'n jong lewetjie met wie ek so baie en so lank gewerk het - vir hóm het die lewe net te moeilik geword. Hy was bipolêr. Hy het so met die lewe geworstel. Ons doen maar almal, né?

By tye worstel ons met so baie vrae oor die dinge rondom ons. Die lewe maak nie altyd sin nie. Daar kom tye dat daar nie sin in dinge is nie. 

Gelukkig hoef dit nie vir ons sin te maak nie. Ons moet doen wat ons geroep is om te doen en ons moet die voorreg van lewe geniet en beleef. Ek kan nie hierdie week 'n Twyfelhoekie skryf nie - ek kan wel enkele dinge van jou vra: Waardeer jou geliefdes. Geniet die lewe terwyl dit daar is.

Moenie ons kinders met verantwoordelikhede oorlaai nie. Leer hulle waaroor die lewe werklik gaan - in die proses onthou jy dalk weer self.

Maak tyd vir mekaar. Gee vir jou huismense vandag 'n drukkie, net omdat hulle daar is en jy vir hulle lief is.

Onderskei die dinge wat regtig belangrik is van die dinge wat nie belangrik is nie. Fokus op positiewe dinge. Bid vir hulle wat swaarkry.

Leef roepingsgetrou. Dien en lééf!

[Uit: Hannes Noëth, Twyfelhoekie, Noordkaap]

No comments:

Post a Comment