Thursday 9 May 2024

Ruben, die denker!

Liewe Maats

Ek het lanklaas vir julle geskryf, maar ek kon darem Sondag kom oë wys en my stert van opgewondenheid swaai. 

Ek sien die heining vorder goed en as my voorgevoel my nie in die steek laat nie, is ek binnekort 'n permanente inwoner. Ek kan nie wag nie. Dit gaan vir my soos vakansie voel. Ek het nog nooit so 'n groot speelplek en so baie maats gehad nie.

Julle weet, hier by die ouhuis het ek mos baie tyd om te dink en as ek so 'n blitsbesoekie by julle aflê, dan hoor ek baie dinge. Dinge wat ek nie van julle oulike klomp maats verwag het nie. Een ding wat ek glad nie kan verstaan nie, is dat 'n mens wil slip. 'n Mens slip net as dít wat jy wil doen, nie reg is nie.

Ek weet en verstaan dat 'n mens baie keer ingehok voel, ek praat uit ondervinding, maar nie eens ek stel belang om te slip en in die straat rond te loop nie. 'n Mens het 'n verantwoordelikheid en as ek nou oor die draad klim en vir my pêlle hoër op in die straat gaan kuier, is daar niemand wat die huis oppas wat nou my verantwoordelikheid is nie. En tannie Christelle sal só teleurgesteld in my wees ... ek wonder of sy my ooit weer sal vertrou. En vertroue is belangriker as wegloop, rondloop of voet in die wind slaan.  

Ek skryf eintlik vir julle om julle uit te daag om die beste JY te wees wat jy kan wees, nie net vanjaar nie, maar elke jaar, nie net in akademie nie, maar op alle terreine van die lewe. Besluit sommer vandag dat jy die beste kamermaat gaan wees wat jy kan, die tafelgenoot met die mooiste maniere en in die studieklas gaan jy die hardste werk. Jy doen dit vir jouself.

As jy by die skool in die wiskundeklas sit, wees die beste wiskundeleerder wat JY kan wees. As jy op die sportveld is, wees die beste sportman of sportvrou wat JY kan wees. Koester en respekteer alle mense, ook die mense van wie jy nie hou nie. Respek beteken om almal goed te behandel, nie net diegene wat jy wil beïndruk nie. En die groot lekkerte van respek is dat as jy respek uitdeel, dan ontvang jy dubbeld soveel respek terug.

Ai maats, moenie dink ek wil vir julle begin preek nie, dis regtig nie my styl nie, maar ek wil vir julle uitdaag. Hierdie jaar gaan vir ons almal 'n aanpassing in baie opsigte wees, maar ek is nie bang vir verandering nie. Enige verandering wat positief is, gaan van my 'n wenner maak.

Sien julle klompie weer oor die naweek en dan kan ons lekker van ons energie ontslae raak.

Viva goeie oefening.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!   

No comments:

Post a Comment