Monday 13 May 2024

Ruben, die Moedersdagspreekbuis van die inwoners!

Liewe Maats

Hierdie naweek het vinniger aangebreek as wat ek gedink het en skielik kan ek twee dae vir julle kom kuier - Saterdag en Sondag! Sondag wat ook Moedersdag is ...

Julle weet, ek het my nooit aan Moedersdag gesteur nie, om eerlik te wees, het ek niks van Moedersdag geweet nie. Dis eers toe ek by my mensma-hulle kom bly het, dat ek besef het daar is iets soos Moedersdag. En natuurlik het ek my ore gespits as ek mense hoor praat oor hierdie spesiale dag, maar ek het ook baie daaroor gedink. Ek het mos al vir julle vertel dat ek baie dink.

Ek dink ons waardeer ons ma's nie genoeg nie en ons sê nie genoeg dankie vir alles wat ons ma's vir ons doen nie. Ons aanvaar maar net dat hulle alles moet doen en ons vergeet dat hulle baie probleme het wat hulle in die stilligheid moet oplos om die lewe vir ons makliker te maak. Soms is dit nie altyd moontlik om daardie probleme genoegsaam op te los nie en dan is daar mense wat ingryp, want glo dit of julle wil of nie, kinders is belangrik - gaan lees maar gerus MATTEUS 18.
  
Ek weet ook baie goed dat daar ma's is wat nie vir ons omgee nie. Ek het altyd gedink dat kinders 'n ma se alles is, maar daar is uitsonderings. Daar is ma's wat op die verkeerde pad is en gelukkig land ons dan by instaanma's. Ma's wat swaar ken en swaar herken en sommer op 'n dag net kom instaan vir die biologiese ma. Baie keer is dié instaanma 'n omgee-ouma of iemand soos tannie Christelle. En ons moet vir hulle net so lief wees soos wat ons ons eie ma's sou gehad het. Ons moet van hulle leer wat liefde is en hoe ons moet optree ... 'n mens behandel mos iemand soos jyself behandel wil word. 

Onthou maatjies, ek verstaan baie beter as wat julle dink. Ek is weggevat van my ma toe ek so 2 maande oud was - daar was net te veel van ons om te versorg. Ek was só gelukkig om by tannie Christelle, my mensma en instaanma te land. Partykeer wonder ek hoe dit met my familie gaan en of hulle nog springlewendig en gesond is. Dit is menslik, maar ek is gelukkig hier waar ek is. En om dit vir tannie Christelle maklik te maak, probeer ek net my beste gee. Ek probeer die beste waghond wees, wat ek kan. Ek gee om vir my mensfamilie en ek wys dit deur spontaan en entoesiasties te blaf, spring en my stert te swaai, maar ek werk aan my gehoorsaamheidsfaktor - ek luister nie altyd soos ek moet nie en dit kan tot ongelukkigheid lei, wat dan weer 'n misverstand tot gevolg het en voor die einde van die dag, is daar struwelinge, oor en weer beskuldigings en tieneropgeblasenheid wat nie by ons pas nie.  

Ek gaan daarom namens ons almal wat hier bly vir tannie Christelle dankie sê, want dit kan nie aldag maklik wees nie. En as julle aan nog iets kan dink, kom fluister dit in my oor as ek weer vir julle gaan kuier.

Dankie, tannie Christelle, dat jy vir ons almal lief is en dat ons vir jou belangrik is. Dankie dat jy altyd 'n glimlag of 'n drukkie vir ons het - jy weet net wanneer daardie drukkie nodig is. Dankie vir al die klein dingetjies wat jy vir ons doen. Dankie dat jy vir ons met boustene vir die toekoms toerus, ons sien dit dalk nie raak nie, maar hierdie lewenslesse gaan vir ons die rigtingwyser op ons lewenspad word. Dankie dat jy ons nie afgeskryf het nie, maar in ons glo. Dankie dat jy ons instaanma is, ons kon nie vir beter gevra het nie.

Ruben-groete tot 'n volgende keer!


 

    


2 comments:

  1. Ruben, wil jy nie asb hierdie gedagtes wat diep uit jou hondehartjie kom, met die mensekinders deel sodat hulle ook dankbaar sal wees vir al die liefde wat hulle van jou mensmamma en die ander menstannies by Christina Kiddie ontvang nie? Jy klink vir my na 'n baie wyse hondeseuntjie.
    Geniet jou dag en hou mooi wag daar waar jy is. Liefde van hierdie mensouma. XX

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie, Mensouma, vir hierdie mooi woorde. Dit laat my hondehart sommer boksprong. Ek het nog so baie skryfplanne en idees wat ek met my mensmamma wil bespreek. Hou gerus die blog dop. Vreugde! Ruben!

      Delete