Sunday 19 May 2024

Ruben, die droombegryper!

Liewe Maats

Ek merk elke dag op die almanak af om te sien hoeveel slapies ek oor het voor die naweek aanbreek, my spesiale gesinstyd saam met julle. Dan kan ek heerlik by julle kuier en my waaksaamheid verslap. Dan skop my spelerige kant in en ek kan net hardloop, spring en julle van hoek tot hoek rondjaag - ek kan sien ek is elke naweek 'n bietjie fikser as die vorige naweek. Ek kan raai hoekom - julle doen seker nie meer sport nie - is julle te lui of is ek verkeerd?  

Ek weet julle het almal op 'n stadium die kalendertelkaart gedoen. Ek het gehoor hoe een van julle vir die ander een vertel dat julle nie kon wag om by julle ouma-hulle te gaan kuier nie en dat mamma elke aand die slapies moes afmerk en dan tel hoeveel nog oor is. Daar is van julle wat slapies aftel om by ander familielede te gaan kuier. So bêre ons elkeen maar ons aftelkalender vir daardie spesiale geleenthede in ons harte.   

Ek het onbeskaamd langs julle gesit en afluister (is dit afluister?), terwyl julle van julle onthoudae vir mekaar vertel. Vandag vertel ek vir julle wat ek by *Renata gehoor en geleer het. En ek deel dit met al die lesers omdat 'n mens elke dag moet probeer om  'n beter weergawe van jouself te wees as die vorige dag. Dit is die enigste manier wat 'n mens kan groei. Ek leer baie hier by julle. Ek het geleer om my speelgoed en veral my balle met julle te deel. In die verlede was my goed my goed en ek het geknor as iemand net naby my balle kom, maar deesdae is dit vir my lekker om my speelgoed met julle te deel, want dan kan ons almal lekker saamspeel, en almal help vinnig opruim en optel, want ons is mos 'n span.

Hier is Renata en *Anita se gesprek langs die swembad. 
Renata: Die vakansiekuiers by my ouma-hulle was die heel lekkerste vakansies. Nie eens 'n seevakansie kon naby 'n oupa-en-ouma-kuier kom nie. Bygesê ons was net een keer by die see vir 'n baie kort naweek en toe duik ons normale huislike probleme weer op. Maar ek gaan nie vandag daaroor praat nie, ek het dit in my baie-ver-verlede-lêer gesit. By ouma en oupa het jy altyd veilig gevoel. Na ete en snaaks, selfs 'n toebroodjie vir aandete was uit die boonste rakke en as ek dit vir ouma sê, dan lag sy net dat haar oë toekreukel en sy gee my so 'n lekker ou drukkie en dan fluister sy die toebroodjiegeheim in my oor. 'n Geheim wat ek ook by ons kostannie, Tannie Mittah opgemerk het, al moet sy vir 'n hele koshuis vol kinders kook. Toe ouma al fluisterend vir my vertel, het ek eers gedink dit kan nie waar wees nie, maar ek het begin oplet na hoe dinge in ons huis is en ook by my maatjies se huise is en ek besef dat ouma weet waarvan sy praat. Die atmosfeer om die tafel en in die huis is die heel belangrikste bestanddeel van enige resep - van 'n toebroodjie tot 'n bak bobotie ... my persoonlike gunsteling. En as die gesindheid in die huis reg is, proe 'n mens die liefde in die kos. 

Wel, na ete het ek altyd die tafel afgedek en die skottelgoed gewas, sonder dat ouma my hoef te vra. Ek wou graag iets vir hierdie twee dierbare omgeemense doen. En terwyl ek die skottelgoed gewas het, het ouma vir ons heerlike soet rooibostee gemaak (hier was die geheim nie liefde nie, maar twee groot lepels kondensmelk!), terwyl oupa die nuus geluister het. 

By ouma-hulle het ek nie die slapies afgetel nie, want ek wou hê dat die lekkerte moet aanhou en aanhou en nooit ophou nie!

By ouma-hulle het ek geleer groente eet ... al die soorte! Oupa se groenetuin was sy trots en hy het elke dag 'n kooksel van alles in die tuin vir ouma gebring om te kook. Wortels, pampoen, spinasie, uie, boontjies, mielies, noem maar op en dit was daar; hang net van die seisoen af. En nou, Anita, weet jy sommer hoekom ek so graag groente eet - dit was my oupa en ouma se kos en ek dink letterlik elke dag terug aan hulle as ek my groente eet. 

Jy weet, ek het al baie gewonder of ek nie 'n klein stukkie grond hier by die koshuis kan bewerk en 'n paar stukkies groente plant nie, iets soos pampoen of boontjies en dit dan versorg soos oupa altyd sy groente versorg het nie, maar ek weet nie of ek suksesvol sal wees nie, want ouma het altyd trots oor oupa se groenvingers gepraat. Wat dink jy sal die ander kinders sê as my groentedroom misluk ... ek is in my hart bang hulle lag vir my, maar as dit werk, is dit iets wat ek reggekry het en wat ek dan vir Tannie Mittah kombuis toe kan vat, sodat sy dit met oumaliefde kan gaarmaak.     

Ek het heerlik in die son gelê en luister na die twee se gesprek en ek het besef dat Renata die resep van ouerliefde gesnap het en dat haar kinders eendag gelukkig genoeg sal wees om dit self te beleef. Ek het ook geleer dat elke mens iets wil skep om dit dan met ander te deel. En laastens het ek geleer dat 'n mens baie drome kan hê, en dat elke mens, ongeag jou ouderdom, die behoefte het om die droom prakties uit te leef, maar dat ons almal bang is vir mislukking of bang is oor wat die mense of my maats sal sê. Een van die seerste sere is as die persone met wie jy jou droom bespreek het omdat hy hulle vertrou het, jou uitlag of 'n gek van jou voor ander maak, indien jou droompoging misluk het. Daarom dra jy dit diep in jou hart en deel jy dit nie graag met ander nie, en op hierdie manier word jy nie die beste jy wat jy kan wees nie. Onthou net, elke een in die koshuis het drome en voel net soos jy daaroor. Daarom moet ons droomondersteuners wees en nie droomvernietigers nie. Help bou aan jou tafelmaat en kamermaat se droom en vra hulle dan om jou weer te help en op hierdie manier loop ons treetjie vir treetjie saam ons toekoms in.

Tot ons mekaar weer volgende naweek sien, wees droomsoet en hulpvaardig! En kom fluister gerus in my oor wat jou toekomsdrome is. Ek blaf en basuin dit nie uit nie, maar ek dink en herkou gewoonlik gedurende die week daaraan! 

* (Sien julle, ek het skuilname gebruik, sodat julle maats nie weet wie ek afgeluister het nie!) 

Ruben-groete!

No comments:

Post a Comment