Sunday 12 May 2024

Moedersdag: Wat kan ons daaruit leer?

Ma's, regte moeders het moederharte waardeur hulle deur die lewe moet gaan, hulle moet sensitief wees, hulle moet weet wanneer om stil te bly en wanneer om te praat, wanneer om 'n drukkie uit te deel en wanneer om iemand aan te spreek. Daar is soveel gebroke en gekweste siele wat 'n ma se pad kruis, dat as sy daardie mens met haar moederhart omarm, sy baie meer as 'n sielkundige kan vermag. 

Die westerling en ons jong geslag is behep met sukses, prestasie en materiële sukses, en is nie daarop ingestel om die behoeftes van ander mense raak te sien nie. En dis net hier waar jy as jongeling 'n gesprek met jouself moet hê. As jy in 'n huis grootgeword het waar omgee en moederliefde nie deel van julle gesinspakket is nie, hoef jy nie so te wees nie. Jy moet en jy kan 'n beter ma vir jou kinders wees as wat jou ma vir jou was. Jy het geleer uit haar foute, jou foute en ook jou verlange na 'n omgeema.

God is die bron van liefde en omgee. En as jy Hom nie ken nie, kan jy nie 'n liefdevolle ma wees nie. Die Here is geduldig, Hy is lief vir elkeen en Hy dra jou belange op die hart, maar jy moet Hom ook in jou lewe toelaat en volgens Sy wil leef. 

Here, vandag bid ons vir alle moeders, ma’s, oumas, instaanma's en moederfigure wat die verantwoordelike taak het om kinders op die regte pad te hou. Dankie vir die liefde, omgee en uitreik wat so deel is van hulle daaglikse bestaan. Seën hulle en maak ons dankbare kinders wat die waarde van ons ma's besef. Leer ons om gehoorsaam te lewe. Amen.

No comments:

Post a Comment