Sunday 26 May 2024

Ruben se dankiedag-idee!


Liewe Maats

Die laaste naweek van Meimaand het aangebreek en nou spoed die dae na winter toe. Junie voel vir my ons groet die helfte van die jaar ... eksamentyd, koue windwaaityd, hoesbuie, loopneuse en skurwe hande is ons voorland. Maar ek wil my nou nie self in 'n koue kokon inpraat nie, ek loop en dink aan totaal iets anders.

Ons het nog nie ons instaanfamilie, eintlik ons hartsfamilie, bedank vir wat hulle elke dag vir ons doen nie. En onmiddellik kla my hondegewete my aan ... ek moes julle herinner het daaraan. Ons het 'n Moedersdag en binnekort klop Vadersdag ook aan ons deur, maar wat van ons hartsfamilie? En net hier het ek op my eentjie 'n besluit geneem dat ons 'n hartsfamiliedag by ons sentrum moet hê. Ons kan vir die personeel sing en vir elkeen 'n drukkie gee, net om te wys dat ons raaksien wat hulle doen, al lyk en klink ons party dae ondankbaar ... ons harte sit op die regte plek.

Ek moet nou eerlik wees, almal het nie so gevoel toe hulle oor hierdie drumpel gestap het nie, ekself het maar eers die kat uit die boom gekyk, maar met liefde het elkeen van die tannies hulle hande en harte oopgehou en ons kon net instap. Van tyd tot tyd hoor 'n mens 'n brommerigheid en 'n onderlangse murmerering onder party van ons, maar dis meestal op 'n emosionele afdag, want in ons harte weet ons dat hierdie huis ons tuiste is. 

Ons huisma's, tannie Sanette, tannie Meloni en tannie Katrien moet soms hare op hul tande hê en ander kere weer goud in hulle harte. Ek wonder as hulle vir my 'n punt uit 10 vir gedrag en my netjiese kamer moet gee, wat sal my punt wees? Julle weet, ek moet 'n voorbeeld stel en nie vir tannie Christelle teleurstel nie. En daarom gee ek vir tannie Maria en tannie Dora sommer volpunte, want hulle toor ons kamers, badkamers, gange, speelkamer en kantore skoon. Julle weet natuurlik dit gee ons meer speeltyd ...

As dit nie vir tannie Mittah en tannie Stella was nie, het ons klompie definitief meer diensbeurte in die kombuis gekry. Ek hou juis nie so baie van skottelgoed was nie, maar as dit my beurt is, ís dit mý beurt en ek doen dit met 'n smile op my gesig. Maar eintlik help ek baie eerder vir oom Kleinbooi in die tuin. Hy kan nou vir jou lekker stories vertel en ek leer baie van plante. Ek het ook gou geleer dat ek nie sommer net kan grawe waar ek wil nie. Nee! Daar is streng tuinreëls!! En toe besef ek eers dat ek dit nie maklik gemaak het vir die mense by die ouhuis nie. Ek het gate gegrawe, bene begrawe en plante onderstebo gehardloop. Ek het in my onkunde gedoen wat vir my lekker was en nie wat die beste vir ons gesin was nie.

Ek het eendag 'n artikel gelees dat as jy reëls het - tuinreëls, huisreëls, padreëls, skoolreëls, noem maar op - dan voel jy veilig, want jy weet presies wat jy moet doen en wat nie. Reëls help bou aan 'n gedissiplineerde karakter, en op hierdie manier voel ons veilig en geborge. Dit gee ons dus 'n goeie basis en ook 'n goeie voorsprong in die lewe. Só maklik ... só eenvoudig, maar my ma het dit nie vir my geleer nie. Sy was seker te gedaan van kosgee en kleintjies grootmaak. As ek haar nou sien, wil ek haar vertel wat ek in hierdie kort rukkie by julle geleer het.

Netheid is 'n ander ding - 'n mens moet altyd netjies wees - op jouself, jou boeke, jou kamer, maar veral op jou skoolklere en skoolskoene. Dankie tog, tannie Kagi help bou ons aan ons buitebeeld. Baie keer oordeel 'n mens mos iemand op sy looks. Vra maar vir my, ek het mos in die veearts se spreekkamer gehoor ek is te vet (een pasiënt het dit vir 'n ander een gesê sonder om my gevoelens in ag te neem en toe stem die ontvangsdame so ewe saam.) Maar ek het 'n missie, my eie persoonlike een en dit is om aan die einde van die jaar fiks, slank en gesond te wees. Hoekom dink julle outjies hardloop en jaag ek julle so graag?  

Kom ek vertel julle 'n geheim. Daardie ongevoelige woorde het nie sommer in my broek gaan sit nie. Ek het vir twee dae net gelê en myself behoorlik jammer gekry. En toe besef ek miskien is dit die waarheid. Niemand is sonder foute nie en ek weet ek steur my nie aan oefeninge nie en ek het altyd die verskoning gehad dat ek alleen is en niemand het om mee te speel nie. 

Ek het toe 'n afspraak met tannie Chrizelna gemaak en toe julle almal in die eetsaal aan tannie Mittah tannie Stella se heerlike kos weglê, het ek met haar in haar kantoor gaan praat. Mensig, was ek bly! Dis asof daar sommer 'n berg van my skouers afgeval het. Sy is die een wat vir my gesê het om 'n doel te kry waarna ek kan streef. Ietsie maklik, iets wat haalbaar is, iets wat my beter oor myself sal laat voel. En dit is tóé dat ek besluit het dat ek speel-speel 'n wenner gaan word - 'n fikse slanker wenner. Niemand gaan ooit weer 'n skewe woord oor my sê nie. Ek is besig om aan 'n beter ek te werk. Die heel ongelooflikste van hierdie besluit is dat julle en elke tannie in hierdie koshuis my help om my doel te bereik, sonder dat ek dit vir hulle gesê of gevra het. Ek het net die geleentheid wat die hartsfamilie ons bied, met altwee hande aangegryp.

En dit is die eintlike rede vir my hartsfamiliedag. Ons het engele in ons koshuis en ons weet dit nie! Ek wil hê ons moet hulle waardeer en ons moet elkeen gaan dink hoe kan ons dit wat hulle ons bied, tot die maksimum gebruik. As julle idees het, deel dit met my of met tannie Chrizelma of tannie Christelle. 

Kom ons begin 'n dankiedag wat kan uitkring totdat die hele land se kindersentrums daaraan deelneem. Hoekom skryf ons nie 'n dankiedag-lied vir volgende jaar nie?? Moenie sê ek het julle nie vroegtydig ingelig nie. Kom ons beoefen dit en raak dankiesê-fiks!!

Ruben-groete tot volgende naweek.

  

No comments:

Post a Comment