Friday 25 September 2020

Die hasie wat gebaretaal verstaan!

Ses jaar terug is daar 'n dierbare dogtertjie in die Goudvelde gebore. Hierdie mooi vriendelike dogtertjie het een sintuig minder as haar maatjies. Maar al haar ander sintuie werk so 'n klein bietjie harder sodat sy haar weg in die horende wêreld kan vind. 

Voordat sy aan die begin van hierdie jaar 'n leerder aan die Bartimea Skool, 65 km buite Bloemfontein, geword het, was sy in 'n hoofstroom kleuterskool in Welkom. Gebaretaal is egter een van Bartimea se vakke en daarsonder is kommunikasie baie moeilik. Dus moes Caitlynn Jacobs sommer vroeg in haar lewe die koshuislewe trotseer, 'n vreemde skool, vreemde omgewing, weg van familie en vriende wat haar in 'n veilige sirkel kon toevou. En toe kom Covid-19 ...

Skielik is skool weer by die huis en onbekend word bekend en Covid-19 maak 'n lang-weg-van-die-huis-jaar, korter. Maar grendeltyd kan ook te lank raak en dan mis 'n mens weer skool en die maatjies en die juffrou wat die geheime van leer vir jou moet oopsluit. En so drie weke terug, kry Caitlynn vir Jessie by tannie Caryn, wat die hart van 'n klein dogtertjie verstaan. Hierdie hasie het vir Caitlynn nodig en skielik is die rolle omgeruil. Jessie verstaan gebaretaal en ure se gesprekke word gevoer en toe op 'n dag raak Jessie weg ...

Die hele straat help soek, want almal ken vir Caitlynn en Jessie ... elke holte, hoek en huis word deursoek. Die verdriet is groot en bokse tissues word opgehuil. Die belangrikste wese in Caitlynn se bestaan is weg ...

En dan 'n straat verder word Jessie deur 'n seuntjie gekry ... opgewondenheid, vreugde en blydskap, want hier dra almal mekaar se belange op die hart en Caitlynn wat haar eie opdraande stryd in die lewe het, en Jessie, is in die harte van Bronville se gemeenskap. 

Daar is geen twyfel dat Jessie die slimste hasie in die Goudvelde is nie, want sy het die geduldigste leermeester aan haar sy.

No comments:

Post a Comment