Ruben deel 'n Huisgenoot-artikel wat hy al vanaf 1996 bêre, omdat hy linkspotig is. Dis nie maklik om in 'n land van regshandiges links te wees nie. Die artikel verwoord sy gevoelens en sy probleme wat hy op 'n daaglikse basis ondervind.
Ruben: "Skryfwerk op skool was vir my 'n nagmerrie, maar ek het geoefen totdat ek die mooiste handskrif in die klas gehad het. Ek het in graad 2 selfs 'n prys daarvoor gekry. Deesdae is skryf nie meer 'n probleem nie - ek skuif net agter tannie Christelle se rekenaar in en siedaar - my gedagtes is op papier!!!"
Daarom dra hy graag hierdie artikel op aan al die linkshandiges van die lewe.
Hotkloue kry dit hotagter.
Mense is óf linkshandig óf regshandig. Dit is slegs 'n handjievol mense wat vandag vir jou kan sê dat hulle so vaardig is met die hotklou as wat hulle bedrewe met die haarhand is.
Dis natuurlik ook weer die hotties wat dit die meeste hotagter kry in die lewe. Want ons leef in 'n wêreld vir die regshandiges. Alles, maar alles is vir die regshandiges op maat gemaak. Die arme linkshandiges is skoon links gelaat toe daar besluit is hoe sê nou maar skêre se handvatsels en lemme nou eitlik moet lyk. Of die orde van die klavierklawer. Of die snare van die kitaar. Of met watter voet jy in 'n motor die koppelaar moet trap en watter voet dan op die petrolpedaal moet rus.
![]() |
Klik HIER vir inligting. |
* As jy moet skryf, met ink, is dit 'n hele akrobatiek, anders beklad jy met jou hand elke woord wat jy so pas geskryf het. Want die linkshandige dribbel vorentoe, waar die regshandige die pen agter die arm aantrek. Daarom maak die linkshandige planne. Jy hoepel jou arm om 'n stuk papier voor jou, hou die pen byna horisontaal met die punt in jou rigting - en krabbel!
* Of jy krink jou arm lomperig hier onderkant jou borskas in. Jou rug bly geboë soos jy bo-oor jou hand moet loer na wat jy skryf. Ander linkses doen dit weer van agter af vorentoe. Hulle draai die papier dwars en skryf herwaarts af na derwaarts.
* Skryf is egter nie die enigste aktiwiteit waarby die verontregte linkse hom of haar teen wil en dank moet aanpas in 'n agterstevoor wêreld nie.
* Daar is ook die knippery met 'n skêr. Vir eers is dit die klemkontoere van die handvatsels. Die hele reliëf van daardie greepstuk is uitgeknip vir die regterhandse mense, soos enige regse wat probeer om links te knip, sal agterkom. Maar dis ook die kant waar die lemme sit wat 'n linkerhander kan laat wanhoop. Sommige skêre se handvatsels is deesdae ook vir die hotkloue aangepas, maar vir ons linkshandiges sit dit verkeerd om - vir ons moet die boonste lem links wees.
* 'n Linkshandige kollega vertel hoe hy hom in Londen vervies het vir 'n winkel waar goedere vir linkerhanders verkoop is. Daar was glad 'n liniaal wat van regs na links gemerk is. Maar linkshandige mense lees tog nie van regs na links nie. Tipies van die onbegrip van 'n onsimpatieke regse supermeerderheid wat dink die twaalf persent van linkshandige mense is iets om oor te lag.
* Nog 'n gevoelige snaar: die gesukkel met musiekinstrumente. Hierdie skrywer het daar ondervinding van. Toe ek kleintyd in alle erns wou leer tokkel op 'n familielid se kitaar, was die vals noot dat ek, links was en dit nie sou kon doen nie. Of hulle sou spesiaal die snare moes omruil. Dit is nooit gedoen nie.
* Ook in die motorbestuur moet die hotvoet reg trap met die "swak"voet op die petrolpedaal of rempedaal en die "sterk" voet op die koppelaar. (Met die ratte wissel, het jy miskien 'n voorsprong, want jou vaardige linkerhand vat baie sekuur.)
* En jy moet altyd die mes en vurk omruil op 'n gedekte tafel voor jy begin eet. As jy met 'n elektriese saag saag, kan jy nie sien waar jy saag nie. Jy sukkel met 'n blikoopmaker, 'n aartappelskiller, 'n pan of beker met 'n tuit aan die linkerkant. Jy moet langs jou grassnyer gaan staan om die aansit-slingertou te pluk. En het julle al opgemerk, in sommige koppies of bekers is daar patrone of prente binne-in, maar net die mens wat die koppie in die regterhand vashou, kan die prentjie sien?
Ruben: "My liewe linkshandige maats, as jy nie regs skryf nie, is dit beslis nie die begin van moeilikheid nie, jy skryf anders en dit maak jou uniek. Gaan Google gerus wie almal linkshandig is en was en jy sal agterkom dat jy in baie goeie geselskap is."
Linkerhand-groete uit Kimberley tot 'n volgende keer.
Ruben
No comments:
Post a Comment