Monday, 22 September 2025

Net vir vandag ... is die hemel in Polokwane

Die lewe het hom in my kantoor uitgespoeg, Here. ‘n Klein, verwarde agtjarige seuntjie. Sy ouma, wat eintlik sy mamma was, is sommer net weg. Hy en ouma en sy regte mamma was in ‘n gru-ongeluk. En sy ouma, die een wat elke dag vir sy hart en lyfie gesorg het, het doodgegaan. Terwyl hy langs my sit, vertel hy oor en oor en oor van daardie dag, Here. Teken dit ... speel dit in die sand ... ouma se lyfie wat stukkend eenkant lê. En dan glimlag hy en sê: “Sy gaan terugkom. Sy is in die hospitaal in Polokwane, ver weg van hier. Hulle maak haar beter daar.” Hy skryf vir haar ‘n briefie om te sê hy hou haar handsak en haar foon, sy moenie daaroor ‘worry’ nie. Hy sal dit vir haar bring ... Sy koppie en lyfie en hartjie weier om te aanvaar dat ouma nie weer gaan terugkom nie, Here.

Die hemel voel so ver, Here. So baie, baie ver weg. Veral op daardie dae wat die verlang yskoud in my hart gaan lê. Na my hart se mense wat sommer net weggegaan het. My kop sê vir my dat hulle by U is, veilig en vol vreugde ... ek weet hulle is. Maar my hart wil glo dat die voordeur enige tyd gaan oopgaan, of die foon gaan lui of ‘n boodskap sommer net skielik onverwags gaan deurkom. Maar dit gebeur nie, né, Here.

Die hemel voel so onbereikbaar ver weg ... en tog is die hemel waar U is, né Here? Vir ‘n agtijarige ou seuntjie is die hemel in die onbekende hospitaal wat nie bestaan nie, in Polokwane. En vir my? Vir my is die hemel hier, hier in my hart. Hier waar u is. Hier in my hart bêre ek die marie-beskuitjie oomblikke saam met ouma, haar lag en lafwees en gesels. Die chippies na skool en die parkie. Hier in my hart bêre ek al die kosbare kombuistafel-gesels met pa, al die afvlerk-voëltjies wat ons saam gesondgemaak het, die hoender wat in die water geval het by die Wimpy en ek en pa wat oor die heining geklim het ... onthou U dit, Here? Hier in my hart bêre ek my Pa-prof se woorde en briewe. Sy whatsapp en gesels ... ‘Hoe gaan dit, my kindjie?’ Hier in my hart eggo my dierbare vriendin se woorde: Hallo, ou Dearie ... sien jou nou-nou!

Nou-nou kom so baie maal te laat, Here. Nou-nou verander in ambulans-sirenes of ‘n bed in die onkologie-afdeling van die hospitaal. Nou-nou stel uit om saam te lag en te kuier en te gesels. Want nou-nou raak dikwels besig met dinge wat nie regtig saakmaak nie. Nou-nou kibbel soms oor wie is reg en verkeerd, en dan praat ‘nou-nou’ vir lang tye nie met mekaar nie. Nou-nou stel uit om te bel of te gesels ... want die lewe is net te besig.

En in ‘n oogwink is nou-nou net weg. En wanneer nou-nou wegraak, raak die hemel werklik.

Terwyl ek die seuntjie styf teen my vasdruk, pleit ek dat die hemel net vir ‘n oomblik maar in Polokwane kan wees. Sodat hy kan rustig raak. Totdat ons sy ouma na die hemel in sy hartjie toe kan skuif. Ek weet U verstaan, Here. Want U het ook gehuil oor die dood.

En wanneer die dood se realiteit so wreed ‘n streep deur my eie lewe kom trek, is dit u wat stil by my sit, u arms styf om my vou en sag vir my sê: Ek is hier by jou. Ek vang jou trane bak-hand op en bêre hulle. Ek vou My hande versigtig om die verlang in jou hart. Ek sit hier by jou. Ek gaan nie weg nie. Ek het jou vir My gevat. Jy is Myne.

U is die Lewe, Here. En wanneer U op ‘n dag ook my asem stil-versigtig in U hande toevou, opgewonde saam met my na die hemelhuis stap, sal ek dalk verstaan van die dood en die onbekende hospitaal in Polokwane. Né, Here? Maar tot dan ... bêre ek die hemel en my hart se mense styf in my hart. Daar waar U bly. En wanneer die verlang te veel raak, sit ek my hand op my hart en voel hoe dit klop ... U is daar. U gaan nie weg nie.

Net vir vandag, Here ... kan die hemel maar vir ‘n rukkie in Polokwane wees, daar waar ‘n agtjarige seuntjie glo U na sy ouma kyk? En môre ... môre sal ons die hemel terugsit in sy hart. Daar waar U bly en leef. Want die hemel is mos maar net waar U is.

Al my liefde ... en amen, Here.
Katrienkie

[Dankie, Rosetta, vir die deel van hierdie besondere stukkie.]

Kliek HIER om Katrienkie se hartstukke te lees.

No comments:

Post a Comment