As 'n mens mooi kyk en dink oor die speletjie slangetjies en leertjies, dan kom 'n mens tot die gevolgtrekking dat die lewe self in daardie speletjie opgesluit lê.
Dankie, Christelle, dat jy dit met ons deel. Ek is seker dat daar meer as een grootmens is wat hierdie speletjiesbord gaan nadertrek, net om met 'n leeftyd se ervaring, probleme en vreugdes, na hierdie relatief eenvoudige speletjie te kyk, maar hierdie keer uit 'n totaal ander hoek!!
Hoeveel keer het die slange van groepsdruk, damprook, sosiale media, onsekerheid, minderwaardigheid en vele ander jou lewe as kind beïnvloed en hoeveel van hierdie slange het jou kind se lewe beïnvloed?
Gelukkig dat die leertjies van balans ook in elkeen van ons lewe 'n positiewe rol gespeel het en nog speel; leertjies van respek, omgee, hardwerkendheid, gehoorsaamheid, geduld, eerlikheid en dankbaarheid.
Hierdie speletjie gee aan ons die geleentheid om die konsep van lewens-slange en -leertjies vir ons kinders, kleinkinders, skoolkinders en Sondagskoolkinders te leer. Moenie hierdie geleentheid deur jou vingers laat glip nie.
'n Heerlike gesinsaktiwiteit: Sit gerus die televisie af en speel slangetjies en leertjies. Elke keer as 'n grootmens by 'n slangetjie kom wat hy in die werklike lewe moes trotseer, deel dit met jou kinders. Vertel hulle ook hoe die leertjies in jou lewe jou gehelp het. En so kan lewenswaardes en lesse speel-speel oorgedra word, terwyl die kommunikasiekanale in die gesin versterk word.
Geniet hierdie ou-ou speletjie!

No comments:
Post a Comment