Thursday, 11 September 2025

Ruben se een minuut storie: Die drie klein varkies ('n ander variasie)


Drie klein varkies is deur hul ma die wêreld ingestuur om te leer. Hulle moes leer om te oorleef en te leef in die wêreld weg van hul ouerhuis.

Die drie varkies het besluit dat hulle 'n dak oor hulle kop moet hê en daarom gaan hulle onmiddellik begin deur 'n huis te bou. Hulle het besluit dat elkeen op sy eie gaan werk en dat hulle nie gaan inmeng in mekaar se idees en pogings om 'n huis te bou nie.

Die eerste varkie het 'n huis van strooi gebou omdat hy nie baie moeite wou doen nie en lui was.
Die tweede varkie was 'n bietjie minder lui as die eerste een en hy het 'n huis van stokke gemaak.
Die derde varkie was hardwerkend en hy het baie moeite gedoen en 'n huis van baksteen en klip gebou.

Die wolf het die bedrywigheid dopgehou en besluit dat hy sal wag tot die huise klaar gebou is. Sodoende sal hy kos vir 'n lang tyd hê. As hy dadelik 'n varkie vang, sal die ander twee wegtrek en sal hy weer moet soek na kos. Beplanning is die beste manier om te oorleef. 

Op 'n goeie dag toe al die varkies klaar gebou is, besluit die wolf om die luiste varkie eerste te vang. Sy boumateriaal is nie sterk nie, hy het slordig gebou en sonder enige moeite, weet wolf dat hy 'n heerlike middagete gaan hê en dat sy vrou baie dankbaar sal wees as hy met soveel kos by die huis gaan aankom.

Hy het na die strooihuis gestap en geraas en geblaas totdat die huisie omgeval het. Wolf is rats en fiks en hy het die eerste varkie sonder inspanning gevang. Die huisie van stokke was net so maklik om om te blaas. Hy het gewag tot die tweede varkie voor die TV aan die slaap geraak het en toe het hy toegeslaan. Sonder baie moeite het hy die huis van stokke net so maklik omgeblaas.

Die derde varkie het geweet dat sy huisie hom nie net teen die weer moet beskerm nie, maar ook teen wilde diere en diewe. Hy het 'n stewige fondament gegooi, diefwering voor die vensters gesit en veiligheidshekke voor die voordeur en ook die agterdeur. Hy het veiligheidskameras buite sy huisie geïnstalleer sodat hy in die gemak van sy sitkamer kan sien wat buite aangaan.

Hy het vir wolf gesien aankom en hy het op die monitor gesien hoe wolf raas en blaas, en raas en blaas, maar dat sy baksteenhuis nie beweeg het nie. Na herhaaldelike pogings was wolf so uitasem en moeg dat hy onverrigter sake en met leë hande die aftog moes blaas. 

Wat het ek uit hierdie storie geleer?
* Moenie te lui wees om iets ordentlik te doen nie.
* Werk altyd hard en dit sal vrugte afwerp. 
* Moenie probeer om kortpaaie te neem om dinge te laat werk nie.
* Luister na die lesse wat jou ouers jou leer. Die drie varkies het op dieselfde manier grootgeword, dieselfde lesse en waarskuwings by hul ma gekry, maar net een het geluister.

No comments:

Post a Comment