My vinnige resep van verlede maand, het die meeste van Koester Karos se jong lesers aan die rol gesit. Die feit dat hulle nie naby 'n stoof hoef te kom nie, was 'n bonus en daar was verskeie versoeke vir nog sulke maklike lekkernye. Ek het die lyne Petrusburg toe geslaan en ouma Annie het vir my hierdie gunsteling gestuur. Jy moet ongelukkig van die bestanddele oor lae hitte smelt, maar dan is die grootste deel van die werk agter die blad.
Ouma het laat weet dat sy deur haar resepteboek sal blaai om te kyk of sy nog vinnige kulkoekieresepte het. Sy het egter gevra dat ek volgende keer weer 'n opregte koekieresep sal plaas. Dis nou ons oumas se oumas se oumas se resepte. En as ek dit op Koester Karos publiseer, is dit 'n manier om die koekieresepte te bewaar. Ek het poot en bek belowe dat ek dit sal doen, ek kan nie waag om in ouma Annie se slegte boekies te kom nie. Julle weet mos dat die pad na 'n kleinkind se hart loop deur sy ouma se koekieblikke of het ek nou die kat aan die stert beet??
Van katte gepraat ...
Tannie Christelle het 'n steelfoto van my geneem waar ek Krummels se pad versper - hy was mos reguit op pad na my koekieblik toe en sonder om slapende honde wakker te maak, het ek net eenvoudig met 'n uitgestrekte lyf op die vloer gaan lê - ek wou soort van 'n stelling gemaak het - skoon vergeet van tannie Christelle se skerp kameraoog ..!
Volgens Krummels is die Petrusburg-koekies baie lekkerder as Friskies of Whiskas s'n, maar dit kan 'n mens nou nie loop en verkondig nie.
Rice Crispy en BarOne blokkiesresep van ouma Annie
Bestanddele:
1 BarOne60 ml botter
80 ml suiker
15 ml goue stroop
500 ml Rice Crispy
Metode:
* Smelt BarOne en botter saam oor lae hitte.
* Voeg suiker en stroop by en roer tot suiker opgelos is.
* Verwyder van hitte en voeg Rice Crispies by.
* Meng vinnig deur en skep in voorbereide gesmeerde pan.
* Druk stewig vas en verkoel tot hard.
* Sny in blokkies.
Geniet dit en gaan groot!!!
Ai ou Tommie jys darem vrek oulik jong. Dankie vir jou lekker geselsies en die lekker resepte. Jys sommer wonderlik jong. Lekker slaap en pas jouself ook mooi op. Ons almal is lief vir jou xxx
ReplyDeleteNaandsê, Anoniem, dankie vir jou terugvoer. Ek is baie bly as jy ouma Annie se resepte geniet. Sy is nie verniet die bakkoningin van Petrusburg nie. Miskien ontmoet ons eendag oor 'n koppie koffie en heerlike kulkoekies! Geniet dit en gaan groot!
ReplyDelete