Sunday 4 August 2024

Gebed vir my kind

Liewe Vader, as my kind gaan slim wees, gee ons die genade om dankbaar te wees, sonder om te spog.
Want wie is ons, liewe Heer, om ons kind se talente te adverteer asof ons self met die uitdeling daarvan te make gehad het?

En as hy nie slim is nie en hy doen sy bes sonder sukses, wil U ons ook daarmee tevrede maak.
Want wie is ons dat ons kindjie die uitverkorene aan die toppunt van die klas moet wees?

As U hom eendag 'n groot man wil maak, Here, wil U hom nie so belangrik laat voel dat hy in die lig van 'n ander sal wil staan nie. 
En Vader, as U vir my kindjie 'n klein, nietige plekkie in die lewe
voorberei het, laat hom met waardigheid ook sy nederige taak vervul. Want ook in hom het U Uself verheerlik deur hom na U beeld te skape.

Mag geen voetpad vir hom so
moeiteloos kronkel dat hy nie
deur sy fout kan leer nie;
en geen berg so steil dat hy U
nie eendag op die top daarvan
sal kan vind nie.

No comments:

Post a Comment