Sunday 11 August 2024

Die las van aartappels

‘n Laerskooljuffrou vra haar klas om die volgende oggend aartappels in ‘n sakkie, saam te bring skool toe - een vir elke persoon wat hulle haat en hulle kan sommer die name op die aartappels skryf.

Almal het aartappels gebring. Sommige net een, maar daar was kinders met twee, drie en selfs meer aartappels in hul sakkies. Hul opdrag was om die sakkie met aartappels vir die hele week saam met hulle te dra, oral waar hulle gaan. Hulle mag glad nie sonder die aartappels wees nie, of hulle nou winkels toe of skool toe of kerk toe gaan, die sak moet saam.
Soos die tyd verby gegaan het, het van die aartappels snaaks begin ruik. Van die aartappels het begin vrot en van die kinders het daaroor begin kla. Van die kinders met meer aartappels, het ook gekla dat hul sakkies swaar raak en dat hulle moeg is om dit rond te dra.
Juffrou het hul egter aangemoedig om die taak te voltooi en almal was baie bly toe die week uiteindelik verby is.
Juffrou gee toe vir elkeen die geleentheid om te vertel hoe hulle die taak gevind het en hoor toe weereens hoe almal kla oor die verrotte aartappels se reuk wat hulle orals agtervolg het en die feit dat die sakkie swaar begin raak het. Hulle het glad nie van die taak gehou nie.
Die juffrou sê toe aan haar klas: “Die situasie is presies dieselfde as die swaar gevoel wat mens in jou hart dra as jy nie van sekere mense hou nie. Die haatgevoelens is nie goed vir jou hart nie en jy dra al daardie negatiewe emosies orals met jou saam waar jy ook al gaan. Julle het die aartappels vir ‘n week gedra, dink net hoe moeilik dit sal wees om sulke gevoelens vir ‘n leeftyd met jou saam te dra. Ons harte is baie sensitief en dit kort mooi gevoelens en gedagtes oor ander mense, om ons (en hulle) te laat glimlag en goed te laat voel oor onsself en die lewe.
Vergewe die mense wat jou iets aandoen, en laat al die negatiewe gedagtes oor hulle vry, sodat jou hart en siel met oorgawe kan glimlag vir die lewe. So maak mens meer plek vir mooi gedagtes om in jou hart pos te vat.
Here, vandag bring ek my sakkie aartappels na U toe, Vader hulle het vir my te swaar geraak en die reuk is meer as wat ek kan verduur. Verwyder asseblief hierdie haatgevoelens, verwyder my gevoelens teenoor ander wat my kwaad aangedoen het, help my om hulle te vergewe en hulle vry te spreek.
[Dankie, Rosetta vir die aanstuur. Kliek HIER vir nog gedagtes.]

No comments:

Post a Comment