Tuesday 17 October 2023

Gaan haal jou stukkie son


My jongste huil een bewolkte oggend droewiglik omdat iemand, volgens hom, die son gesteel het. Heel moontlik sy ouboet wat sulke nonsens aan hom verkoop het. Terwyl ek hom troos en probeer oortuig dat niemand die son gesteel het nie, dink ek skielik aan my en jou lewe. Ons kry mos maar elkeen iewers, êrens te doen met iemand wat ons son steel. Ek weet nie hoe jou sonsteler vandag lyk nie. Dalk is dit 'n kollega by die werk wat kort-kort na jou hap, dalk 'n familielid, dalk 'n ouer of 'n kind, dalk 'n vriendin, dalk iemand in jou gemeente, dalk siekte of depressie ... Jy alleen weet wie of wat jou son probeer steel. 

Terwyl ek my jongste probeer troos, dink ek skielik aan die kosbare gedeelte in Maleagi 4: "Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers."

Ek en jy is mos lief vir Hom, en ons het mos eerbied vir Sy Naam. Vir my en jou belowe Hy dat Sy son altyd oor ons sal skyn. Dit bring liefde en warmte en Lig. Dit het gesondword in sy strale. Ek en jy moet net elke oggend ons stukkie son vir die dag by Hom gaan haal. En dan moet ons sorg dat ons koppe heeldag na daardie Son gedraai is. Wanneer jy jou kop Son toe draai, kan jou sonsteler nie anders as om in jou skaduwee te stap nie ...

Gaan haal jou stukkie Son sommer nou by Hom. 

[Dankie, Liz, dat jy hierdie stukkie son met ons deel.]

No comments:

Post a Comment