Tuesday 10 October 2023

Onblusbare krag van die Woord

Min dinge is so genadeloos soos 'n brand. Daarvan kan 'n groep skoolseuns van Potchefstroom beslis getuig.

Op 31 Augustus omstreeks 20:30 die aand is die inwoners van die Hoërskool Volkskool se Jack Pauw-seunskoshuis inderdaad ontruim nadat daar 'n brand uitgebreek het.

Tristian Brauckmann (17) was saam met die res van die seuns in die studiesaal. "Ons het erge klapgeluide gehoor. Die studiesaal en koshuis is onmiddellik ontruim. Ek het dadelik 'n tuinslang gegryp en probeer om die brand te blus,"onthou Tristian die aand se gebeure. "Om te sien hoe alles vernietig word deur vlamme is onbeskryflik erg en skokkend."

Niemand is gelukkig tydens die voorval beseer nie.

Vir baie van die seuns was dit vreeslik traumaties, die brand het alles wat in hulle kamers was, vernietig. Tristian was een van die ongelukkiges.

Linda Brauckmann-Saayman, Tristian se ma, vertel: "Toe Tristian net na 21:00 bel en vertel dat hul koshuis besig is om af te brand, het ons gemengde emosies ervaar. Tristian  het ons probeer verseker dat alles reg is, maar ons kon die angs in sy stem hoor."

Al wat Tristian oor gehad het, was die klere aan sy lyf, sy selfoon wat in sy broeksak was en die paar boeke waaruit hy daardie aand studeer het. Die grootste verlies was egter sy Bybel, die een wat sy ouers op 27 Oktober 2011 vir hom gegee het toe hy op laerskool tot hoofseun verkies is. "Dit was my wapenrusting vir die pad," vertel hy.

Die volgende oggend is die seuns, onder streng toesig toegelaat om hul kamers te besoek.

"Ek sal Tristian se oproep aan my nooit in my lewe vergeet nie," vertel Linda. "Hy het opgewonde oor die telefoon gesê: "Mamma, Mamma gaan my nie glo nie, alles was heeltemal uitgebrand, maar my Bybel is net nat, ruik na rook en is vol roet! Mamma ek kan steeds my Bybel gebruik!"

Tristian vertel verder: "Die Bybel maak definitief 'n groot verskil in my lewe want dit gee my hoop. Ná die brand is my geloof soveel sterker want dinge kon soveel anders gewees het, maar die Here het ingegryp en gebeer geneem!"  

Bron: Die Saaier Somer 2015
Klik HIER om die webwerf van die Bybelgenootskap te besoek en klik HIER vir die jongste uitgawe van Die Saaier.

No comments:

Post a Comment