Saturday 21 October 2023

Die belangrikste skoene in my kas ...

Partykeer as die min-lief-vir-myself 'n vasklouplek in my soek, dan staan ek aspris langer voor die spieël.

Dan kyk EK en EK vir mekaar, want baie-Liefhê moet net weer vir min-Liefhê herinner dat binne-in my leef nie net een vrou nie.

Ek en jy is baie vroue in ons leeftyd. Die lewe gooi sy kaart en jy kies jou paar skoene wat jy moet volstaan.

In my kas staan my: Beskerm-en-voorsien-skoene ...

Daardie sole is deurgeloop om alles kosbaar bymekaar te hou en te beskerm teen storms, koue, lelik en min. Ook 'n vrou wat uitgaan, bymekaar maak en voorsien aan alles en almal wat aan jou toevertrou is.

Langs hulle staan my: Liefhê-skoene ...

Ooo ... my Liefhê-skoene. Daardie onvoorwaarlike paar skoene wat ek en jy volstaan. Ons het só lief dat ons soms net met ons nerfaf-harte in ons hande bly staan.

Daar binne is ook 'n: vegtersvrou-skoene ...

Die vrou wat baklei het vir alles wat sy wil hê. Wat moes leer baklei al wou sy nie. Die een wat haar swaard sal uittrek sonder om twee keer te dink. Die een met die blits in haar oë wat alles gelyk maak in haar pad.

Maar dan staan daar in my kas die paar skoene waarvan ek die heel meeste hou: My oorlewingskoene ...

Die duurste paar, afbetaal met elke les van die lewe, maar die paar wat ek dubbel en dwars verdien. Ek is spoggerig as ek hulle aantrek, want hulle is onbeskryflik mooi!

So ook is jy - die een in die spieël - as jy besef hoeveel kosbare vrouens jy binne jou dra.

Mag jy altyd weet hoe kosbaar en spesiaal jy is. Mag jy volkome geluk en vreugde ondervind in elke nuwe dag!

Mag jy in die guns van die Allerhoogste stap - elke dag van jou lewe!!!

[Dankie, Rosetta, vir hierdie skoenverduideliking - ons het almal daardie skop in ons kas.]

No comments:

Post a Comment