Friday 22 July 2022

Wees die kollega saam met wie almal graag wil werk.

Werkende persone bestee gemiddeld meer ure per jaar saam met hul kollegas as met hul huweliksmaat, ouers, kinders, beste vriendin of sibbe. Daarom is dit belangrik dat julle goed met mekaar oor die weg kom. Só kan alle werknemers in ’n organisasie help om die werksomgewing vir mekaar aangenaam te maak: 
  • Wees kundig, doeltreffend en hardwerkend.
  • Wees optimisties en entoesiasties.
  • Lê inisiatief aan die dag.
  • Toon leierseienskappe sonder om baasspelerig te wees.
  • Wees toegewyd – moenie die een wees wat laaste opdaag en eerste die kantoor verlaat nie.
  • Groet almal vriendelik wanneer jy by die werk kom. Jy beur dalk net iemand op wat bedruk voel. Doen dieselfde wanneer julle smiddae huis toe gaan.
  • Gesels gerus maar oor ditjies en datjies wanneer dit geleë is, soos gedurende teetyd of etenstyd.
  • Vra jou kollegas se opinie oor sake. Almal wil graag weet hul mening is belangrik. En gee erkenning, selfs al reken jy dat sy of haar mening nie van veel waarde is nie.
  • Vermy skinderpraatjies – moenie oor jou kollegas praat nie en sluit jou ore vir praatjies oor hulle.
  • Bly koelkop tydens ʼn konfrontasie of meningsverskil met ʼn kollega.
  • Wees vrygewig met komplimente. Erkenning vir ʼn taak wat besonder goed voltooi is, of omdat hy of sy meer gedoen het as wat van hom of haar verwag is, moedig ʼn positiewe gesindheid aan.
  • Erkenning of gelukwensing vir dinge buite werksverband, soos ʼn wedloop gewen, ʼn  huweliksherdenking of  ʼn kind wat presteer het, laat ʼn kollega voel sy of hy is meer as net iemand wat ʼn taak by die werk het om te verrig.
  • Wees gemoedelik en vrygewig. ʼn Eetdingetjie saam met oggendtee, ʼn dankie-sê-kaartjie vir ʼn kollega wat jou gehelp het, of  ʼn blommetjie vir iemand wat deur ʼn moeilike tyd gaan, verrig wondere.
  • Handhaaf goeie kantooretiket deur byvoorbeeld oproepe of e-posse gereeld te beantwoord. Deur dit na te laat bemoeilik jy dalk die ander persoon se werk en stuur die boodskap uit dat hy of sy vir jou onbelangrik is.
  • Wees nederig en erken dat jy soms nie al die antwoorde het nie. Beterweterigheid kan aanstoot gee.
  • Respekteer jou kollegas deur te waak teen irriterende kantoorgewoontes, soos om die laaste koffie te drink of die laaste fotostaatpapier te gebruik sonder om dit aan te vul of te vervang. Ander dingetjies wat kan krap, is luidrugtige telefoongesprekke, oorverdowende musiek, om te hard te kou of jou koffie te slurp, of die teestasie in wanorde te laat.
  • Reik uit na nuwe kollegas – laat hulle welkom voel, stel hulle aan die res van die spanlede voor, wys hulle waar al die fasiliteite is.
  • Wees mededeelsaam met jou kundigheid.
  • Respekteer ander se tyd deur betyds op te daag vir vergaderings en nie tyd te verspil met onnodige vrae, aan- en opmerkings terwyl die vergadering al kon verdaag het nie.
  • Vermy kletspraatjies met jou kollega, veral wanneer jy sien hy of sy ervaar groot werksdruk.
  • Verlig jou kollegas se werkslas indien jy nie self onder druk verkeer nie. Help waar jy kan indien hy of sy weens siekte, verlof of ʼn kursus ʼn paar dae nie op kantoor kan wees nie, of selfs wanneer jy sien sy of haar werksdruk is so groot dat dit spanning veroorsaak.
  • Skep kantoortradisies deur byvoorbeeld een maal per week of per maand iets spesiaals te doen waarna almal kan uitsien te midde van werksdruk. Gaan eet saam koek by die kafeteria, bring ʼn eetdingetjie wanneer jy verjaar, of bestel een Vrydag per maand wegneemetes wat almal saam kan geniet.
Wees die kollega saam met wie almal graag wil werk.

[Deur Melodie Veldhuizen - Klik gerus HIER vir nog inligting.]

No comments:

Post a Comment