Ek het alles gehad ... 'n Huis, karre en duur klere. Ek was ryk ... baie ryk ... skatryk! Almal wou my vriend wees ... tot die dag waarop ek alles verloor het.
Die mense wat ek gedink het my ware vriende was, het my in die donkerste uur van my lewe op die heel donkerste plek van my lewe gelos. Op daardie stadium was ek nie net brandarm nie, maar ook skielik stoksielalleen. En ek het tot die besef gekom dat hoe donkerder jou dae word, hoe minder word jou vriende.
Ek het van die heel beste deel van die stad getrek na die heel slegste buurt in die stad ... mense het na die krotbuurt verwys. Dit het gestink. Die reuk het oral om die geboue gehang ... Die reuk van riool, papier en plastiek wat brand, dagga, ou kos en kool ... sommer net een groot bedompige wolk wat die woonbuurt omgewe. Kakkerlakke was orals. Rotte het tussen die swart sakke rondgeskarrel, maar ek was te moeg om regtig aandag hieraan te gee.
Ek het nie geld nie. Niks. Nie 'n sent op my naam nie. Ek het besef dat ek iewers 'n los werkie sal moet kry. Nie een mens wat ek in my dae van oorvloed gehelp het, gaan my help nie. Dit is die rede hoekom ek by die kinderhuis gaan werk het, want hulle het 'n gratis bord kos gegee en 'n klein donasie vir die werkers. Ek het geen geld of kos gehad nie, dit beteken ek het geen keuse gehad nie.
Ek het die hoof van die kinderhuis ontmoet. Melissa ... 'n lang, skraal en mooi meisie, met groen oë wat eerder in die modewêreld hoort as hier.
Ek het elke dag teruggegaan om in die kombuis te werk en die skottelgoed te was. Elke dag voel ek ellendiger as die vorige dag, moeg na siel en liggaam. Ek sal nie vir lank hier kan werk nie, daar is geen kans vir vooruitgang nie en ek het sekuriteit so dringend nodig dat ek ander planne kan maak vir vorentoe. Die krotwoonbuurt is die eerste ding op my lysie wat moet verander.
Ek het vir Melissa dopgehou. Sy het altyd geglimlag as sy een van die kinders sien of met hulle 'n gesprek aanknoop. Sy het die kinderhuis haar roeping genoem - maar ek het haar nie geglo nie.
Een Saterdagaand, nadat ek al die skottelgoed gewas het en die kombuis aan die kant gemaak het, sit ek vir 'n wyle met haar en gesels. Ek wou by haar weet hoekom sy nie iets anders met haar lewe doen nie. Daar is 'n hele wêreld wat lê en wag vir jou talente. Hoekom is hierdie kinders só belangrik vir jou? Jy is 'n mooi mens, wat baie geld in die modewêreld kan maak. Hoekom kies jy hierdie plek om jou lewe weg te gooi?
Na 'n paar oomblikke van stilte het sy die volgende gesê: "Elke mens maak op 'n stadium in sy lewe 'n keuse. Vir 'n loopbaan verdien jy 'n salaris, maar nie noodwendig geluk nie. 'n Roeping is die keuse wat jou gelukkig maak. Nie alles in die lewe gaan oor geld en roem nie."
Daardie aand het ek die grootste les geleer. Ek was ongelukkig, want ek het gedink dat geld geluk kan koop.
My lewe sal beter wees ... as ek ander se lewe beter kan maak!
[Lefa Mofokeng 2015]
No comments:
Post a Comment