Ek weet nie wie van julle kan ds. Hannes Noëth se stukkie in Twyfelhoekie van Woensdag, 26 September 2012 onthou nie, maar omdat dit só treffend is en só relevant, deel ek dit baie graag met julle.
"Sy was twee maande in die moederskoot toe haar pa en ma se verhouding verbreek is. Sy was twee dae oud toe hy aangedring het op vaderskaptoetse. Sy was drie jaar oud toe haar ma die onderhoudshof moes vra om te help met onderhoudsgeld. Selfs met die hulp van die hof het die hulp nooit werklik geword nie.
Op ses jaar het sy begin agterkom hy wil nie kontak maak nie, al kan hy. Op tien jaar het dit ál minder begin seermaak. Toe sy 13 jaar oud geword het, het sy self probeer om hom te bel. Hy wou nie met haar praat nie.
Lankal al het sy van beter geweet as om 'n geskenk van hom te verwag. Hy het nie eens die naweke gebruik wat hy haar kon sien nie, al was dit vir hom moontlik. Op 14 jaar het sy vir almal vertel sy het nie 'n pa nie. Op 18 jaar het sy heimlik gewens hy kon haar in die rok vir haar matriekafskeidgeselligheid sien. Die dag toe sy haar universiteitsgraad ontvang het, het sy opsetlike gereël vir 'n oop stoel en het sy hom in haar gedagtes daar sien sit.
Dit was haar halfbroer wat haar op haar troue ingebring en afgegee het.
Op haar 40ste verjaardag het hulle gebel en gevra of sy hom kan versorg. Hy is terminaal siek. Hy het niemand anders nie. Sy het ja gesê. Sy het dit gedoen. By sy graf was dit sy wat gehuil het. Oor 'n pa wat sy sou wou hê al wou hy haar nie hê nie.
Voor sy dood het hy gevra: "Hoekom doen jy dit vir my?" Sy het nie geantwoord nie. Vandag hier by die graf, nou antwoord sy: "Pa was my pa. Dis hoekom. Pa het my ontken, ek het Pa nooit ontken nie."
[Uit: Noordkaap 26 September 2012]
No comments:
Post a Comment